Partykeer stap ek by winkels in klein straatjies verby, met vensters wat volgestop is met antiekware of ou boeke.
Margot Pakendorf-Schultz
Partykeer stap ek by winkels in klein straatjies verby, met vensters wat volgestop is met antiekware of ou boeke. Niemand gaan ooit in nie en dit lyk of hulle nooit iets verkoop nie.
As ’n mens inloer, sien jy hulle heel rustig sit en lees; hulle is nie bekommerd oor die volgende dag nie, nie bang vir ’n mislukking nie. Hulle het ’n vriendelike hond wat by hulle sit, of ’n kat wat die stilte verdiep terwyl sy teen die rye boeke skuur asof sy die name van hul rue wil afvee.
Ag, as dit genoeg sou wees; soms begeer ek om so ’n vol winkelvenster te koop en twintig jaar lank met ’n hond daaragter te sit.
Dis Rilke se versugting aan die begin van die vorige eeu in sy boek Malte Laurids Brigge, wat voorgee om ’n dagboek van ene Malte se tyd in Parys te wees, terwyl dit eintlik iets soos ’n langerige prosagedig is.
Ek smag ook na so ’n rustige bestaan in ’n boekwinkel omring deur boeke met ’n hond of kat om my geselskap te hou; maar as ek mooi dink, voer ek dit eintlik reeds, sonder dat ek iets probeer verkoop. Ek gee wel boeke weg of leen hulle uit (hulle kom terug of nie, afhangende van die lener en die boek), maar in al die kamers van my Bieblebomhuis is daar rakke en rakke vol boeke. Behalwe die badkamer; daar is net een boekie vir gaste om deur te blaai. En my twee katte lê op en aangeleun teen boeke en slaap.
Boeke was nog altyd my beste maats, vandat ek gereeld in die stadbiblioteek gaan boeke uitsoek het, eers al die Afrikaanse en toe al die Engelse kinderboeke. Dis ook hoekom ek nooit ‘n elektroniese boek wil hê of lees nie. Dis darem te onpersoonlik – jy lees alles op dieselfde plat lei, net rye woorde en sinne, die een “boek” soos die ander. Dit ruik nie na boek nie, jy kan die bladsye nie omblaai nie – as jy iets wil herlees wat twee bladsye gelede onder links in die laaste paragraaf gestaan het, is daar geen onder links nie en jy moet maar deurdruk. As jy klaar is met ’n e-boek, bêre jy dit iewers in ’n wolk en jou rakke bly leeg. (Het jy al opgelet dat daar nooit boekrakke vol boeke in dekor-tydskrifte is nie? Ook geen katte nie, bygesê. Hoe leeg en koud!)
Die voorkoms van ’n boek wat ek gelees het, is deel van my herinnering daaraan – sy omslag, gewig in my hand en reuk is deel van die verhaal. ‘n E-boek is net woorde en storie op ’n plat lei. As ek na my boeke kyk, weet ek nie net wat hulle bevat nie, maar ook hoe ek gevoel het toe ek hulle gelees het. Ek het deel van my lewe daarin belê, en daar staan dit op my rak. Ek kan passasies wat my diep geraak het, oopblaai en weer lees, en my lieflingboeke kan op die kassie langs my bed lê en in die nag kan ek dit oopslaan en blaai na waar dit mooi en goed is. Dis my maat, dié boek wat so voel en lyk en geduldig net daar is vir my dom slaaphande en moeë oë.
My soort boek bied die volgende (behalwe dat dit nooit sulke elektroniese uitdrukkings sou gebruik nie):
• Digital navigation
• Manual interface
• Sunlight viewable display
• Multi-format compatability
• Infinite battery life
• Searchable alphabetized index
• Offline mode
• Durable shockproof case
Ja maar, sê die e-boekaanhangers, dis so goedkoop! Net sus en soveel dollar per boek! Die keuse is so fenomenaal! Die jongste romans is al op die lei voordat die fisiese boek eers in die land geland het!
Ja maar, sê ek dan, gaan ’n slaggie na tweedehandse-boekwinkels en kyk hoe goedkoop die boeke daar is! ’n Mens kry maklik ’n gelukkie vir R5 by ’n liefdadigheidswinkel en koester so ’n wonderbaarlike winskopie meer as ’n e-boek se dollarplesier. Hoe wyd die keuse is! Ek wonder of e-boeklesers ooit digbundels “aflaai” – ek vind gereeld pragtige uitgawes van ongekende digters wat my lewe verryk. En uitheemse boeke vang jou oog en bied soveel meer genot as wat swart letters op ’n elektroniese lei kan dink om te verskaf. En ek stel eerlikwaar nie vreeslik in die jongste boeke van wie ook al belang nie. Ek hoef dit nie te lees net om te kan saampraat nie. Ek verkies reële boeke wat tot my spreek, waarin ek kan blaai en waaroor ek self kan besluit of dit die moeite werd is om te lees.
Ter afsluiting ’n gedig deur Harvey Shapiro oor hoe ’n gedig ’n verspilde dag kan sin gee.
The Uses of Poetry
This was a day when I did nothing,
aside from reading the newspaper,
taking both breakfast and lunch by myself
in the kitchen, dozing after lunch
until the middle of the afternoon. Then
I read one poem by Zbigniew Herbert
in which he thanked God for the many beautiful
things in this world, in a voice so absurdly
truthful, the entire wrecked day was redeemed.
Ja, ja, ek weet, dié blog is nie op papier geskryf nie en jy lees dit nie op papier nie! Die uitsondering bevestig die reël. Of so iets.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!