Ek het al dikwels hier in Vrouekeur vakansieleesstof aanbeveel. Die meeste lesers reis immers nooit sonder ’n hele paar boeke in hul tasse nie, want vakansietye bied dikwels meer leestyd
Deur Willie Burger
Dit is interessant hoedat die boeke wat ’n mens op reis of tydens ’n vakansie lees, ook ’n ander, onbedoelde gevolg het. Jare later sien jy ’n boek op die rak en skielik onthou jy die spesifieke vakansie en die plek waar jy daardie boek gelees het. Jy herleef die pret van daardie vergete besoek aan ’n vreemde plek.
Soms werk dit ook andersom: jy besoek weer ’n bepaalde bestemming en dan onthou jy hoedat jy ’n spesifieke boek daar gelees het – selfs die emosionele reaksie wat jy destyds op daardie boek gehad het, oorval jou weer. Daar is egter een boek wat ek altyd inpak, of dit nou vir ’n uitgebreide reis deur veraf streke van Suider-Afrika of vir ’n kort uitstappie is. Hierdie boek dra al baie swaar aan herinneringe. As ek deur hom blaai, roep verskillende bladsye assosiasies met verskeie plekke op.
Een bladsy laat my dink aan Mkuze, ’n ander aan Shingwedzi en nog een aan Savuti. Hierdie herinneringsboek is al in talle reissakke gedruk en bly soms vir maande saam met die atlas onder die karsitplek. Die bladsye is bruin gevat deur beswete vingers met die stof van Etosha, Moremi, die Kalahari-Gemsbokpark en Koffiebaai. Die Weskus-son het die buiteblad erg laat verbleik en die bedompige lug van Hluhluwe het die bladsye laat krul. Een keer het ’n waterbottel so bietjie in ’n rugsak gelek en die laaste paar bladsye was nooit weer leesbaar toe ek hulle van mekaar moes losskeur nie. Ten spyte van die mishandeling wat hy moes verduur, is die veldgids tot die voëls van Suider-Afrika al jare lank die eerste boek wat ek vir ’n vakansie inpak.
Die bekende Roberts-voëlboeke (The Birds of South Africa) is al sedert 1940 die “Bybel” van voëlkykers in Suid-Afrika. Die eerste gids is deur Austin Roberts saamgestel en deur Norman CK Lighton geïllustreer. Roberts se naam het gebly, al is die voëlboek telkens onder ander redakteurs uitgebrei en hersien. Meer as 375 000 eksemplare is al verkoop! Die talle heruitgawes (1957, 1970, 1978, 1985, 1993 en 2005) het deur die jare standaardnaslaanwerke geword, maar hulle was juis dit: naslaanwerke. Weens die grootte en omvang daarvan het jy nie maklik jou Roberts saam met jou verkyker in jou rugsak geprop nie.
In 2007 het die eerste Roberts Veldgids verskyn, uitgegee in ’n kleiner, draagbare formaat wat in die paneelkissie kan pas. Die tweede veldgids-uitgawe het verlede jaar in Engels verskyn en sal hierdie jaar ook in Afrikaans beskikbaar wees. Die buigbare plastiekomslag is ideaal vir veldgebruik (’n paar druppels reën of uit ’n lekkende bottel sal nie pla nie!). Die bladsye is van duursame papier. Dit is belangrik, want die omstandighede waarin ’n voëlkyker soms inderhaas rondblaai, eis ’n hoë tol van gewone papier. Hoewel die sterk omslag en stewige rug ’n groot pluspunt is, lê die toets van ’n veldgids in hoe moeilik dit is om ’n klein vaal voëltjie daarin op te spoor.
’n Dik boek vol inligting is vir die beginnervoëlkyker ’n nagmerrie, want hoe weet jy waar om daardie groenvaal pofferveertjies met die skerp twiet in die boek te kry as jy nie die vaagste benul van sy naam of sy familie het nie? Hierdie veldgids maak dit op talle maniere vir jou maklik. Aan die binnekant van die voorste skutblad is ’n “Quick Index” met oor die 100 illustrasies van verskillende voëls en die bladsynommer daarby. Dit is veel nuttiger as ’n inhoudsopgawe. Veral as jy nie weet of jy ’n lyster of ’n sysie of ’n bossanger gesien het nie, maak hierdie kitsgids dit maklik. Jy kan sien dat jou vaal voëltjie soos hierdie soort lyk en sommer dadelik na bladsye gaan waar daardie soort voëltjies is. Die kleurryke illustrasies is baie duidelik, en nie net die mannetjie en wyfie word afgebeeld nie, maar ook jonges wat van die volwassenes verskil.
Wat baie nuttig is, is dat die verskille waarop ’n mens moet let om voëlsoorte wat baie na mekaar lyk, te onderskei, deur ’n paar wenke langs die illustrasies beklemtoon word. Die verspreidingskaarte gee ook die digtheid en die waarskynlikheid van voorkoms op plekke in sekere tye van die jaar aan. Die Engelse uitgawe wat ek het, gee ook die Afrikaanse volksname. Natuurlik gooi ek nie nou my ou veldgids weg nie. Hy bewaar te veel herinnerings aan afgeleë plekke en die opwinding van die eerste sien van sekere voëls tussen sy verweerde bladsye. Maar hy kan nou tuis bly, terwyl hierdie nuwe Roberts-gids onder die bestuurdersitplek inskuif …
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.