Baie mense met ’n liefde vir lees beskou boeke byna soos vriende wat hulle in tye van droefheid troos, inspireer wanneer hulle moedeloos voel en in onseker tye insigte bied
Ella Berthoud en Susan Elderkin neem die idee dat boeke vir ’n mens soms tot steun en inspirasie kan wees in The Novel Cure nog ’n stap verder. Hierin redeneer hulle dat boeke eintlik ’n soort medisyne vir elke situasie kan wees. Romans, so reken hulle, kan ons lewens verander – as jy net die regte boek op die regte tyd lees.
Gevolglik noem hulle die boek “’n mediese handboek”. Die boek neem die vorm van ’n alfabetiese lys van kwale en kwinte aan, van abandonment tot zestlessness. Tussenin is daar toestande soos “naarheid”, rassisme, kort wees, pyn, eetversteurings, depressie, verliefdheid of die huwelik, egskeiding, kanker of verveling. Noem maar op. Die skrywers bied vir meer as 400 toestande “boekmedisyne” aan.
In plaas van ’n pil se naam op die voorskrif, word ’n boek of twee voorgestel wat jy in die bepaalde toestand kan lees. Lees Anna Karenina as jy oorweeg om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop, beveel hulle aan. As jy ongelukkig is omdat jy baie kort is, lees Günter Grass se The Tin Drum of Tolkien se The Hobbit. Selfs as jy jou toon gestamp het, is daar raad: Lees James Joyce se The Portait of the Artist as a Young Man. Teen besluitloosheid word Benjamin Kunkel se Indecision aanbeveel. Deurgaans word ’n kort beskrywing van die roman gegee – soms baie inspirerend, soms erg kripties.
Die skrywers is vurige voorstanders van “biblioterapie” – wat hulle as die “voorskryf van fiksie teen die lewe se kwale” definieer. Hulle glo dat sommige boeke jou sal genees van die kwaal waaraan jy gely het, terwyl ander boeke jou sal troos, of ten minste vir ’n rukkie van die kwaal sal laat vergeet. Hier en daar gaan die voorskrifte met ’n bietjie moraliserende interpretasies van sommige romans gepaard. Dikwels inspireer die stukkies jou egter om die romans te lees, selfs al ly jy nie aan die een of ander kwaal nie.
Die beste is waarskynlik om dié boek nie te ernstig op te neem nie en die aanslag is ook lig, soms tong in die kies. Nietemin herinner die boek ’n mens aan die betowerende (en helende) krag wat fiksie kan hê. Die “voorskrifmedisyne” is hoofsaaklik uit die Engelse literêre wêreld, maar die een groot voordeel van die boek is dat dit jou baie titels van talle boeke gee as jy dalk gewonder het wat om volgende te lees. Hier is selfs boeke wat jy kan lees teen die angstigheid wat ’n mens soms oorval omdat daar te veel boeke is om te lees!
Baie lesers kon nie wag vir die opvolg op Wilna Adriaanse se Dubbelspel (2014) nie. In Eindspel is die rooikoppolisievrou, Ellie McKenna, terug. Soos in Dubbelspel is die intrige ingewikkeld. Niks is eenvoudig nie en die spanning loop hoog. Ellie gaan vestig haar op die platteland om van haar traumatiese ervarings in die polisie weg te kom en om haar pa se dood te verwerk. Sy probeer om ’n eenvoudige, normale lewe te lei. Natuurlik is dinge nie heeltemal so eenvoudig nie en spoedig raak sy weer betrokke, of sy besef dat sy nog altyd betrokke was, by ’n ingewikkelde web waaruit sy nie kan ontsnap nie. Hierdie is 400 bladsye se suiwer, meesleurende raaisels en avontuur.
Die moord op Winnie Rust, net mooi ’n jaar gelede op 11 Mei 2016, het die gemeenskap van Wellington geskok. Maar die brutale moord het ook die groter lesersgemeenskap stomgeslaan. Rust was benewens romanskrywer ook ’n geliefde rubriekskrywer. Kort voor haar dood het sy die manuskrip van Katryn voltooi. Soos haar roman Martha, neem die geskiedenis van Wellington weer ’n sentrale plek in.
In die 1860’s het ’n groot “geestelike herlewing” in die kerke van die Wes-Kaap plaasgevind – hoofsaaklik toe te skryf aan die begeesterde prediking van enkele predikante, veral die invloedryke Andrew Murray. Katryn speel teen hierdie agtergrond af wat ook Wellington diep raak en ’n nuwe vroomheid tot gevolg het. ’n Petisie word byvoorbeeld opgestel om die kroeg van die Masonic Hotel te sluit.
Twee karakters se lewens staan sentraal: Ben Marais, ’n geleerde jong boer op ’n wynplaas in die distrik wat skepties teenoor die nuwe vroomheid staan, en Katryn, die hoteleienaar se dogter. Die roman word as eerstepersoonsvertelling vanuit Ben se perspektief aangebied, maar die titel laat die fokus op Katryn val. Die verhouding tussen Ben en Katryn word deur die nuwe geestelike invloed teenoor ’n meer skeptiese nugterheid bepaal.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.