Willie Burger kyk na Marita van der Vyver se nuutste roman, Misverstand
Die verskyning van ’n nuwe Marita van der Vyver-roman is altyd ’n gebeurtenis. Haar talryke aanhangers sien sedert die wegholsukses van Griet skryf ’n sprokie en Die dinge van ’n kind telkens met groot verwagting na haar volgende boek uit. Misverstand stel nie teleur nie.
Trouens, vir my verteenwoordig dit ’n vars hoogtepunt in haar oeuvre. Die humor en deernis, saam met die onverbiddelik eerlike blik op die wêreld en veral die ryk insig in menslike bestaan, word met haar bekende sprankel aangebied. Dit is ’n roman oor ouerword, oor die moeite om met jou mislukkings tot ’n vergelyk te kom en om, in die woorde van die sentrale karakter, Willem Prins, ’n mens se eie middelmatigheid te aanvaar. Willem Prins is ’n redelik suksesvolle Afrikaanse romanskrywer, wie se loopbaan (en lewe) nie só voorspoedig verloop het as waarop hy aanvanklik as jong talentvolle skrywer gehoop het nie. Sy droom was om ’n “Groot Roman” te skryf, die soort roman wat wêreldwyd gelees word en wat ’n literêre stroomverlegging tot gevolg het.
Hoewel sommige van sy romans aanvanklik nogal goed ontvang is en hom taamlike aansien in Afrikaanse literêre kringe besorg het, het sy loopbaan veral in sy veertigeren vyftigerjare begin agteruitgaan. Ten einde finansieel te oorleef, begin hy sagte pornografie onder ’n skuilnaam, Lolita Meyer, skryf. Ironies genoeg is hierdie werk van hom veel “suksesvoller” en word selfs in Frans vertaal. (Hierin is een aspek van die titel se misverstand – hy voel misverstaan want die boeke waaraan hy waarde heg, kry nie erkenning nie – sy “linkerhandpogings” word selfs vertaal.) Nie alleen verloop sy skrywersloopbaan nie so rooskleurig as wat hy in sy jeug gehoop het nie, in sy persoonlike lewe ervaar hy ook ’n geleidelike agteruitgang. Hy het drie ernstige verhoudings met vroue gehad en het by elk van die drie vroue ’n kind. Hy was egter nie vir een van die kinders ’n toegewyde vader nie en kon nie een van die verhoudings laat duur nie.
Die verhaal speel in Parys in November 2015 (tydens die terreuraanvalle) af. Prins is in Parys om vier redes: hy woon die bekendstelling van die Franse uitgawe van sy Lolita Meyer-boek by; hy hoop om sy volwasse seun wat in Parys woon, te ontmoet en sy buitelandse reis bied ’n eerbare verskoning om nie die prysgeleentheid vir die “Groot Prys” in Suid-Afrika by te woon nie (hy wil nie die vernedering smaak om nié die prys te kry nie). Maar eintlik beplan hy om homself in Parys om die lewe te bring. Hy is moeg vir sy middelmatige sukses en sien nie kans om sy eie middelmatigheid te aanvaar nie. Hy hoop om, deur sy lewe te beëindig, ’n oplewing in belangstelling in sy boeke te bewerkstellig. Die grootste deel van die roman bestaan uit Willem Prins se eerstepersoonsvertelling, maar dit word met die perspektiewe van sy eerste liefde, Renee, en hul seun, Maurice, afgewissel.
Ook die tweede en derde vroue in sy lewe, Lana en Zoë, asook sy dogter by Zoë, kry “spreekbeurte”, terwyl die blik van sy en Lana se seun op ontroerende manier erken word. Elkeen kry ’n unieke stem: van die bytend-sarkastiese, Frans-deurspekte taal van Renee, tot die Engelsdeurdrenkte taal van die jong tienerdogter en die sprankelende taalgebruik van Jackie (’n jong joernalis), wat almal in skrille kontras met Willem se versigtig-berekende taalgebruik staan. Misverstand is die titel van Prins se jongste ernstige roman, maar die titel beklemtoon talle ander misverstande – tussen Prins en die vroue in sy lewe, Prins en sy kinders, Prins en Jackie, maar ook Prins se misverstaan van homself.
Die Parys-aanvalle bring ook ’n algemener misverstand tussen mense na vore – die agterdog en onkunde oor ander mense wat telkens tot wanbegrip lei, word sodoende veel wyer getrek as bloot die persoonlike misverstande. Een van die karakters merk op dat dit voel asof die lewe slegs ’n klomp clichés is wat aaneengeryg word. Van der Vyver werk met clichés: die drinkende middeljarige skrywer wie se onsekerhede toeneem soos sy vermoëns afneem; die gesofistikeerde ouer vrou; die verleidelike jonger vrou wat te vinnig vir die ouerwordende man leef, die onoorbrugbare stiltes wat in verhoudings ontstaan.
Selfs Parys is ’n cliché. Die clichématigheid onderstreep die middelmatigheid van die lewe, die teleurstelling dat ’n mens se eie lewe ook maar nie so uitsonderlik is nie. Die oënskynlike clichés verkry egter ’n veelkantigheid waaruit blyk dat middelmatigheid ook ingewikkelder is. Al is daar baie somberheid oor die verbygaan van die lewe, die verspeelde kanse en misverstande, is misverstand natuurlik ook die kern van humor. Misverstand is daarom ook soms ’n skreeusnaakse roman. Maar dit is Van der Vyver-humor: die soort humor wat die weerloosheid van mense blootlê en wat deernis wek. Misverstand is die soort roman wat ’n mens met ’n deurleefde lewenswysheid in kontak bring, wat ouerword op meesleurende manier draagliker maak.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.