Willie Burger kyk na Erns Grundling se eerste boek, Elders
Erns Grundling is een van die gewilde en bekende joernaliste wat aan die tydskrif Weg verbonde is. Saam met skrywers soos Dana Snyman en Toast Coetzer dra hy tot die vars asem by wat saam met Weg in Afrikaanse joernalistiek gekom het.
Grundling het sy woordvaardigheid al met verskeie gedigte bewys en sy artikels in Insig en Weg is al bekroon, maar Elders is sy eerste boek. Dit is ’n lywige werk van 300 bladsye – nogal ’n prestasie vir iemand wat homself as aandagafleibaar beskryf! Hy bevestig sy besonderse skryftalent met hierdie werk. Ek moet bely dat ek die boek bevooroordeeld opgetel het. Eerstens was ek nie lus om enigiets oor die Camino de Santiago te lees nie, waarskynlik omdat so baie mense graag van hul besonderse spirituele ervarings op hierdie pelgrimsroete vertel, terwyl ek hul opgewonde relase meestal vol clichés en vervelig vind. Boonop bejeën ek die meeste beskrywings van “spirituele ervarings” met agterdog.
Verder het ek gevrees dat Grundling my met ’n Weg-storie van vier bladsye oor 300 bladsye heen gaan verveel. (Dan het die taalfout in die titel my ook gepla. Ek glo nie hy het langs die pad in die bosse geloop nie.) Gevolglik het ek gedink ek sal net so ’n bietjie in die boek blaai en hier en daar ’n stukkie lees ten einde ’n idee te vorm waaroor dit gaan, sodat ek die boek in ’n paar sinne op hierdie blad kan bekendstel. Maar toe ek eers begin lees, het Grundling se boeiende skryfwerk my ingetrek en ek het die hele boek in een naweek deurgelees. Telkens, sodra ek gedink het ek kan nou dalk ’n klompie bladsye oorslaan sodat ek gouer by die ander boek, wat ek eintlik die naweek wou lees, kan uitkom, is my aandag opnuut gevang met ’n verwysing, ’n ander beskrywing, ’n interessante staaltjie of ’n boeiende gedagte.
Die beroemde Camino de Santiago (oftewel die “pad na Santiago”, ook bekend op die Latynse naam as Peregrinatio Compostellana) is eintlik ’n hele netwerk van eeue-oue pelgrimsroetes na Santiago de Compostela in die noordweste van Spanje. Volgens oorlewering is die oorskot van die apostel Jakobus hier begrawe en reeds sedert die Middeleeue het Katolieke pelgrims die lang staptog hierheen afgelê as boetedoening vir hul sondes, of omdat die lang staptog beskou is as ’n manier om geestelik te groei. Deesdae reis toeriste (nie slegs Katolieke nie) van reg oor die wêreld na Spanje om dele van hierdie pelgrimsroete te voet (of te fiets) aan te durf. Soos Grundling treffend skryf, het elke pelgrim deesdae sy of haar eie motiverings daarvoor. Grundling se motivering om die staptog te onderneem, is eintlik nie eenvoudig nie. Hy wou wegkom van sy normale werksleur en die voortdurende gejaag om sperdatums te haal. Daarom het hy ook besluit om die sowat 40 dae terwyl hy stap, geen elektroniese apparaat te gebruik nie. Hy stap sonder selfoon, sonder rekenaar, sonder kamera, in ’n poging om van die voortdurende afhanklikheid van elektroniese apparaat en die onvermoë om op die hier-en-nou te fokus, wat dikwels daarmee gepaard gaan, agter te laat. Hy het ook ’n meer persoonlike rede – om ’n liefdesteleurstelling te verwerk.
Aanvanklik maak hy uit gewoonte aantekeninge in sy boek – soos wanneer hy vir Weg artikels moet skryf, maar dan leer hy af om as joernalis na alles te kyk. Dit word vir hom ’n ervaring waartydens hy met homself gekonfronteer word. Sonder wegskram leer hy homself beter ken, leer hy om “indagtig” te wees. Die opgejaagde, onrustige gemoed vol kommer en komplekse spanning van die begin, maak geleidelik vir ’n rustige, stil gemoed plek. Die ritme van stap, gepaard met ’n mantra van “walk it off”, bring kalmte, bring aanvaarding en ’n ander manier van bewus wees van die wêreld en van homself. Soos Grundling op die pad vorder, trek hy die leser met hom saam.
Die boek wemel van aanhalings uit ander boeke, liedjies en gedigte, maar dit word nie ’n goedkoop versameling van “quotable quotes” nie. Hy kry dit reg om telkens sinvolle insigte deur die aanhalings te verduidelik of te bewerkstellig. Dít kry nie alle skrywers reg wat so ryklik met ander skrywers se woorde wandel nie. Die afwisseling van anekdotes oor sy eie kleintyd, werkservarings en liefdesteleurstellings word ook nie te ekkerig nie, want dit word deur die talle staaltjies oor en deur medepelgrims op die roete gebalanseer. As jy oorweeg om die Camino te stap, móét jy hierdie boek lees. Maar belangriker is dat die boek ’n leeservaring word wat ’n mens byna soos die staptog self opnuut laat nadink oor die gejaagdheid waarmee ons almal lewe en oor ons opgejaagde gemoedere wat ons dikwels so ongelukkig en ongedurig laat voel. Toe ek klaar gelees het, het ek sommer om die blok gaan stap.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.