Willie Burger kyk na die kuns van kortverhaalskryf en Nederlandse poësie
Die meester van die Afrikaanse kortverhaal, Abraham H de Vries, verduidelik spottenderwys graag die verskil tussen ’n romanskrywer en ’n kortverhaalskrywer soos volg: “Albei skryf vir so tien bladsye en dan hou die romanskrywer aan met tik.”
Die opmerking is natuurlik tong in die kies bedoel, maar soos dikwels met grappies die geval is, word daar tog ook iets waars daarin uitgedruk: Die skryf van kortverhale is ’n besonderse kunsvorm wat intense aandag en uitsonderlike vakmanskap verg. Dit is nie altyd maklik om te definieer wat ’n kortverhaal presies is nie. Die eerste deel van die woord, “kort”, gee te kenne dat ’n kortverhaal van beperkte omvang moet wees, maar soms is kortverhale slegs een bladsy lank, terwyl ander kortverhale sommer 50 bladsye lank is.
Gewoonlik fokus ’n kortverhaal op ’n enkele deurslaggewende gebeurtenis in ’n karakter se lewe. Selfs al word daar na baie ander gebeurtenisse in die karakter se lewe verwys, is daar nie plek in ’n kortverhaal om oor veel meer as die enkele gebeurtenis te vertel nie. Dit is juis hierdie hoogs gekonsentreerde vorm waarin elke woord, elke gebeurtenis so versigtig gekies moet word, sodat die enkele gebeurtenis die grootste moontlike impak kan hê, waarop De Vries se grappie dui.
’n Verskeidenheid verteltegnieke en oorwoë taalgebruik word op fyn beplande manier aangewend om ’n gebeurtenis met ingrypende implikasies vir die karakter te ondersoek. Dikwels kom die karakter tot ’n skielike insig, soms is dit die leser wat ’n verhelderende oomblik ervaar. In Johan en Ria Smuts se kortverhaalbundel Die helder oomblik is daar in verhaal ná verhaal telkens so ’n helder oomblik. Die motto van die bundel is ook nie sonder rede Nadine Gordimer se bekende woorde nie: “Short-story writers see by the light of the flash; theirs is the art of the only thing one can be sure of – the present moment.” Om ’n hele lewe in ’n presiese oomblik, in een deurslaggewende situasie of in een handeling vas te vang, is presies wat Johan en Ria Smuts in hierdie verhale doen.
Agt van die verhale staan onder Johan se naam, vier onder Ria se naam en die laaste verhaal onder albei se name. Die helder oomblik kan met vrug deur voornemende skrywers bestudeer word. Talle tegnieke van kortverhaalskryf word aangewend, maar boonop word ook dikwels in die verhale self nagedink oor die manier waarop vertel word. Die heel laaste verhaal is byvoorbeeld ’n refleksie oor die manier waarop die vorige drie verhale ontstaan het en geskryf is. Hierin word nie alleen oor die tegniese aspekte van die vertelkuns allerlei verhelderende opmerkings gemaak nie, maar ook oor die etiek van vertel en oor die verraad wat gepleeg word deur mense in jou vertellings op te neem, nagedink.
Ten spyte van die klem op skryfkuns en op maniere van vertel, is hierdie kortverhale uiteindelik met deernis gevul en ’n mens kry telkens in ’n helder oomblik ook ’n stukkie insig in menswees. Baie lesers wat nog ’n Nederlandse boek as deel van hul Afrikaanse skoolleerplan behandel het en wat nog Nederlandse poësie en prosa op universiteit bestudeer het toe dit nog tot in die 1990’s as ’n vanselfsprekende deel van kurrikula beskou is, kry selde met eietydse Nederlandse digters te doen. Jonger lesers, wat ná die 1980’s op skool en universiteit was, het dikwels geen blootstelling aan Nederlandse letterkunde gekry nie en deesdae kan ’n mens nie meer aanvaar dat jonger Afrikaanssprekendes sonder meer Nederlands kan lees nie. Gevolglik is dit deesdae selfs nodig om Nederlands in Afrikaans te vertaal.
Vir sowel die ouer lesers – wat nog Nederlands (met ’n bietjie moeite?) kan lees – as die jonger lesers, is die eietydse Nederlandse digkuns dus meestal ’n onbekende terrein. Dit is jammer, want nie net is daar besonderse poësie in Nederlands nie, maar bekendheid met nóg ’n literêre tradisie verruim ook die moontlikhede wat vir jonger digters bestaan. Daarom is ’n vertaling van Anna Enquist se poësie ’n belangrike gebeurtenis. Zandra Bezuidenhout (self ’n bekroonde digter) het byna 60 gedigte uit agt bundels van Enquist uitgesoek en vertaal.
Die Afrikaanse vertaling van die gedigte word telkens langs die oorspronklike Nederlandse gedig gedruk en dit kan nogal ’n lekker speletjie word om die oorspronklike met die vertaling te vergelyk. Dit is ’n speletjie wat ’n mens bewus maak van die tegniese vaardigheid van digter en vertaler en van die moontlikhede van en die verskille tussen die twee tale. Arsenaal van klank bied ’n welkome en verrykende blik op Nederlandse poësie. Die gekose gedigte dek ’n wye aantal temas en die gedigte is toeganklik.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.