Willie Burger kyk na Piers Cruickshanks se boek, Confluence
Soos elke Donderdagaand is die Dabulamanzi-roeiklub se klubhuis stampvol. Ten spyte van die effense byt in die herfsluggie buitekant, is dit bedompig binne. En lawaaierig. ’n Mens moet jou pad na die kroegtoonbank tussen luidrugtige roeiers deur oop-elmboog. Die adrenalien pomp nog deur almal se are nadat hulle pas vurig teen mekaar meegeding het om tien rondtes om die Emmarentiadam te roei. Nou word dele van die resies luidrugtig oor ’n paar biere herleef. Daar is ’n goedige gespot met iemand wat nie die pas kon volhou nie. Iemand anders word luidkeels gekritiseer omdat hy om een van die boeie ’n botsing veroorsaak het.
Vanaand is daar nog meer opwinding in die lug as gewoonlik. Biere is gratis. En dan staan Piers Cruickshanks op om oor sy boek, Confluence, te praat. Hy is ’n gewilde klublid. ’n Toproeier wat altyd nederig is en wat selfs tyd vir geselsies met beginnerroeiers het. (Wanneer ek met my agtste rondte besig is, steek hy my gewoonlik verby om sy tiende te voltooi.) Cruickshanks het Confluence geskryf nadat die rolprent, Beyond the River, gemaak is. Hierdie rolprent, losweg gegrond op Cruickshanks en Siseko Ntondini se poging om ’n goue medalje tydens die 2014 Duzi-kanomarathon te verower, vertel ’n “eg-Suid-Afrikaanse” goedvoel-storie.
Dit is een van die tipiese sportflieks waar twee mense uit uiteenlopende agtergronde talle struikelblokke te bowe moet kom, hul eie spoke moet konfronteer en baie by mekaar en oor mekaar leer, voordat hulle eindelik sukses behaal. Dit is die roerende verhaal van ’n suksesvolle wit roeier wat op 41-jarige ouderdom al oor die kruin van sy roeiloopbaan is en van ’n ambisieuse swart roeier, die helfte van die wit roeier se ouderdom, wat aan die begin van ’n sportloopbaan is – ’n sportloopbaan waarmee hy ook hoop om uit die armoede en beperkte geleenthede van ’n werkersklasbestaan te ontsnap. Soos altyd kan boeke veel meer as flieks nuanseer en Cruickshanks se boek vertel die ingewikkelde storie agter die fliek. Daarom is die boek meer as ’n sportverhaal oor twee topatlete. Dit is ook ’n verhaal oor sportontwikkeling in Suid-Afrika, oor wit bevoorregting en swart bemagtiging, en boonop ’n inspirerende verhaal oor kanovaart as sport. Dit is ook die storie van SCARC (Soweto Canoe and Recreation Club), ’n projek wat deur ’n paar roeiers op die Orlandodam begin is en wat ’n konstante stroom presterende roeiers uit Soweto oplewer: kinders wat deur roei ook talle ander vaardighede opdoen en geleenthede vind.
In ons sportmal samelewing verskyn daar dikwels sportboeke. Die stroom stories oor krieket- en rugbyspelers word meestal deur spookskrywers geskryf. Cruickshanks skryf sélf. En dié Engelsonderwyser kán skryf! Slim tydspronge en fyn fokus op spesifieke gebeure sorg dat die leser geboei bly. Gevolglik is Confluence nie ’n oorvertelde ervaring nie. Dit is ’n outentieke vertelling deur ’n roeier wat Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het. Die titel, Confluence, dui op die saamvloei van twee riviere (spesifiek die Msunduzirivier en die Umgenirivier, ’n bekende punt op die Dusi-kanomarathon) maar confluence suggereer ook die saamvloei van twee lewens.
Vanuit ’n sportoogpunt is hierdie saamvloeiing ’n groot sukses en Piers en Siseko kry ’n goue medalje nadat baie probleme te bowe gekom is: Siseko doen ’n stresfraktuur tydens die harde oefeninge op en onderbreek in ’n stadium sy voorbereiding vir ’n Xhosa-inisiasierite. Piers word tydens ’n drafsessie op Melvillekoppies aangeval. Die twee atlete moet kommunikasiegapings vanweë hul uiteenlopende agtergronde en die taalversperring oorbrug. Les bes moet hulle mekaar in die boot “vind”. ’n Mens klim nie sommer saam met enigeen in ’n K2 en dan werk die kombinasie nie. Dit neem tyd voordat die roeiers mekaar só goed verstaan dat hulle nie eens hoef te kommunikeer nie, maar sáám kan reageer op elke veranderende situasie op die rivier.
Confluence is ’n optimistiese titel, want al vind die twee sportmanne hul ritme en sukses, wys die boek ook op ironiese wyse hoe groot die gaping tussen mense in ons land eintlik is. In die slothoofstuk help Siseko vir Piers om sy persoonlike beste tyd tydens ’n 10 km-tydtoets op 41-jarige ouderdom op te stel. Hulle doen dit sonder dat gesprek nodig is, omdat hulle mekaar begryp en presies op mekaar se ritme en wense ten opsigte van roei ingestem is. Confluence bevestig die krag van sport om mense oor klowe van ouderdom, kleur en sosiale posisies bymekaar te bring. Bymekaarbring beteken egter nie dat alle probleme opgelos is nie. Die boek bly bewus daarvan. Die Dabulamanzi-roeiers koop ál die boeke wat die boekhandelaar vanaand na die klub gebring het. Piers teken dit met ’n persoonlike boodskap vir elkeen wat vra. Siseko sit daar naby en gesels. Hy is nou ’n student wat hoop om volgende jaar sy regsgraad te voltooi. As kind het Willem van Riet se boek, Stroomaf in my kano, by my die droom om eendag te roei, wakker gemaak. Confluence bied ook so ’n inspirerende blik op die mededingende en avontuurlike wêreld van kanovaart.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.