Willie Burger kyk na historiese romans wat vertaal en heruitgegee is
Wilbur Smith en FA Venter is waarskynlik nie skrywers wat dikwels in een asem genoem word nie, maar albei het sukses as skrywers van historiese romans beleef en ’n vertaling en heruitgawe van hul boeke het onlangs verskyn wat die geleentheid bied om op een bladsy oor hulle te skryf.
In 2014 het Wilbur Smith se bekende roman When the Lion Feeds, die eerste wat hy oor die Courtney-familie geskryf het, in Afrikaans as Witwatersrand verskyn. Smith is al 84 jaar oud en sedert hierdie suksesvolle debuutroman in 1964 verskyn het, het hy nog 34 romans geskryf, waarvan meer as 120 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop is. Uiteindelik sou die Courtney-reeks uit 14 romans bestaan wat die wel en wee van hierdie familie oor geslagte van die 1660’s (A Bird of Prey) tot 1987 (A Time to Die) volg.
Deur die wedervarings van die fiktiewe Courtney-familie, word ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis uiteindelik beskryf. When the Lion Feeds (Witwatersrand) speel af teen die agtergrond van die Anglo-Zoeloe-oorlog, terwyl Donderslag (die Afrikaanse vertaling van The Sound of Thunder), die Anglo- Boereoorlog en die gevolge daarvan dek. Nou het Wildernis verskyn, die Afrikaanse vertaling van A Sparrow Falls (vertaal deur Zirk van den Berg). Smith se spesifieke invalshoek op historiese gebeurtenisse het nie by die destydse Nasionale Party-regering byval gevind nie en A Sparrow Falls, wat oorspronklik in 1977 gepubliseer is, is destyds selfs verbied.
Wildernis speel ten dele tydens die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk af voordat die aksie na die Randse mynstakings verskuif. Dit is interessant dat ekologiese kwessies ook reeds in die 1970’s in Smith se romans aangeraak is. Soos altyd in Smith se Courtney-romans, is die breë historiese agtergrond baie interessant, maar die romans is eintlik boeiend omdat al die gebeurtenisse beleef word deur die wel en wee van gewone mense se jaloesie, ambisie, liefde, goedhartigheid en haat; deur die beste en die slegste wat mense in staat is om vir of aan mekaar te doen.
Uit ’n ander ideologiese hoek het die Afrikaanse skrywer FA Venter ook die Suid-Afrikaanse geskiedenis in ’n reeks historiese romans ondersoek. Die meeste Afrikaanse lesers is bekend met sy “landtetralogie”. Hierdie vier romans handel oor botsings tussen koloniste en Xhosas in die Oos-Kaap en die aanloop tot die Groot Trek (Geknelde land), die Groot Trek en die slag van Bloedrivier (Gelofteland), vestiging in KwaZulu-Natal en die Anglo-Boereoorlog (Offerland en Bedoelde land). Die reeks het in die 1960’s, in pas met die groeiende Afrikanernasionalisme en uitbreidende mag, baie bygedra tot die vestiging van ’n Afrikaneridentiteit gegrond op die idee van ’n selfstandige groep mense wat in weerwil van Britte, Xhosas en Zoeloes se weerstand, ’n godgegewe plek vir hulself oopgeveg het en staan daarom in die teenoorgestelde hoek as Wilbur Smith se werk.
Venter is ook vir sy romans oor verhoudings tussen swart en wit Suid-Afrikaners (Wit oemfaan en Swart pelgrim) bekend, maar hy het ook historiese romans met Bybelse temas geskryf, waarvan die bekendste seker Man van Cirene is. In die Bybel word vertel dat Jesus, op pad na Golgota, in ’n stadium onder sy kruis se gewig geswig het en dat Simon van Cirene toe gedwing is om dit verder te dra. Oor hierdie Simon is daar niks verder in die Bybel geskryf nie en Venter vul hierdie “donker kol” in, deur die verhaal van Simon van Cirene te vertel.
Dit is ’n bekeringsverhaal oor iemand wat niks met Jesus te doen wou gehad het nie, maar wat uiteindelik deur sy ontmoeting met Jesus radikaal verander. Man van Cirene het sedert die eerste verskyning in 1957 reeds talle herdrukke beleef, maar was deel van ’n romantradisie wat destyds ook verder in die wêreld gewild was. Die bekendste van hierdie romans is waarskynlik die Amerikaanse dominee, Lloyd C Douglas se The Robe (1942) en The Big Fisherman (1948). Eersgenoemde was ’n roman oor een van die Romeinse soldate wat vir Jesus se kruisiging verantwoordelik was, terwyl die tweede ’n opvolgroman oor Jesus se dissipel Simon Petrus was. In 1953 is ook ’n rolprentweergawe van The Robe met Richard Burton in die hoofrol uitgereik, terwyl The Big Fisherman in 1959 verfilm is.
Al twee hierdie rolprente is tot in die sestiger- en vroeë sewentigerjare nog dikwels in kerksale in Suid-Afrika vertoon. Soos Douglas, gebruik Venter historiese inligting oor Bybelgebeurtenisse as agtergrond en vul dan die onbekende, donker kolle op verbeeldingryke manier in om ’n oortuigende historiese situasie te skep. Telkens val die klem op die ingrypende veranderings wat in mense se lewens plaasvind wanneer hulle tot bekering kom: hul aanvanklike worsteling téén God se roeping en hul latere stryd vír die Christendom. Daarom het gelowiges soveel inspirasie uit hierdie romans (en rolprente) geput. Man van Cirene verskyn nou by Lux Verbi en is waarskynlik op ouer lesers gerig wat met nostalgie aan hul vroeëre ervaring van die roman terugdink, want soos Lloyd C Douglas se romans sal Venter se werk, ten spyte daarvan dat dit indertyd baie gewild was, waarskynlik nie tot nuwe, jonger lesers spreek nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.