Willie Burger kyk na Tom Dreyer se vierde roman, Dorado
“Skoon is die wêreld te taai op die oë. ’n Man het ’n filter nodig. Of daai filter vertikaal, horisontaal of skeef is, maak nie soveel saak nie, solank jy één kies en daarby hou.”
Hierdie woorde van een van die karakters uit Dorado, Rory (vioolspeler, stoffeerder, visverkoper, polaroid-sonbrilbemarker), hou kennelik meer betekenis in as om bloot ’n opmerking oor sonbrillense te wees. Die leser besef dadelik dat hierdie woorde, uit die middel van die roman, betekenisvol moet wees. Wanneer ons lees, is ons immers meestal op ons hoede vir opmerkings wat die betekenis van ’n verhaal méér laat word as om bloot ’n storie te wees.
Dorado is onder meer ’n reisverhaal en die vreemde wêreld van Gilbert se eienaardige reis deur die Karoo laat ’n mens raai. Uiteraard besef die leser dat hierdie fiksiewêreld, die wêreld van Gilbert wat die “lyne” van die visse in die lug probeer volg om sin van sy lewe te maak, nie dieselfde as “ons leefwêreld” is nie. Daarvoor is dit té vreemd. Maar ’n mens weet ook dadelik dat hierdie vreemde wêreld tóg met ons wêreld verband hou, en dat dit iets oor ons wêreld “sê”. Daarom soek ’n mens betekenis in stellings soos bostaande aanhaling. Die fiksiewêreld word soos ’n lens waarmee ons na ons eie wêreld kyk – voortdurend op soek na betekenis.
Dorado se hoofkarakter, Gilbert, is op ’n soortgelyke manier besig om deur die Karoo te reis, op soek na betekenis. Hy probeer om elke gebeurtenis, elke ervaring te interpreteer, om die betekenis daarvan vir sy lewe te soek. Gilbert deurkruis die Karoo en beland uiteindelik in ’n afgeleefde woonwapark op Kuilsrivier in die Kaap. Hy probeer die “regte” rigting vind wat hom tot insig en begrip van sy bestaan en van die hele wêreld sal uitbring. Hy volg visse wat hy in die lug waarneem (en wat niemand anders sien nie). Die vis-hallusinasies lei hom op ’n deurmekaar roete en hy besoek onder meer ’n dinosouruspark. Hy ontmoet die vreemde pa en seun wat die dinosouruspark gebou het en sy pad kruis herhaaldelik met die lede van ’n reisende orkes. ’n Soort verhouding ontstaan tussen hom en Katie – ’n medereisiger.
Soms lyk dit asof Gilbert baie naby aan ’n antwoord op sy groot sinsvraag gaan kom. Wanneer hy ’n hyskraantoring bestyg met die hoop om van bo af “perspektief op sy situasie” te kry, besef hy heel bo, voor die geslote deur van die kajuit: “Hierdie is maar net ’n hyskraan en die feit dat hy hier bo is, is so belangrik of onbelangrik as wat hy besluit om dit te maak.” Dan wonder hy: “Waarom, as die oppervlaktes van dinge nie eens werklik is nie, is hulle so deksels ondeurdringbaar? (…) hoe kan die wêreld iets sonderlings van hom verwag én hom aanhou pootjie?” Deurgaans bly die gevoel dat iets besonders van hom verwag word, dat begrip net onder die oppervlak op interpretasie wag, as hy maar net die regte lens, die regte manier van kyk, kan vind.
Later besef Gilbert dat hy dalk nie op die insig moet wag nie, maar dit aktief moet najaag, maar ook sy reis om ’n kosmiese antwoord te vind (om letterlik by die sterre leiding te soek) misluk. “Dorado” dui enersyds op ’n soort vis en sluit dus by Gilbert se vis-visioene aan. Andersyds dui dit ook op El Dorado, die ontwykende stad van goud in Suid- Amerika. Metafories dui El Dorado op enigiets begeerliks waarna ’n mens lewenslank soek, maar wat onvindbaar is: in Gilbert se geval bly begrip van sy lewe en van die wêreld, ten spyte van soektogte, onvindbaar.
Dorado is Tom Dreyer se vierde roman. Sy debuutroman, Erdvarkfontein (1998), het byna 20 jaar gelede verskyn en sy tweede roman, Stinkafrikaners (2000) is destyds met die Eugene Marais-prys bekroon. In 2006 het Equatoria verskyn. In 2007 volg ’n kortverhaalbundel, Polaroid. Dorado het uit die kortverhaal “Polaroid” uit die gelyknamige bundel ontstaan. Ten spyte daarvan dat sy werk telkens postiewe rensensies kry, is dit nie asof Dreyer se werk die Afrikaanse literatuurlandskap telkens in beroering bring nie. Ek dink dit is dalk omdat lesers te haastig lees. Dreyer se roman moenie oorhaastig gelees word nie. Dit neem tyd om ’n geskikte filter te kry om daarna te kyk.
Gilbert se verhouding met sy ouers, sy ma wat hy in traumatiese omstandighede verloor het en sy pa met wie hy ’n stormagtige verhouding gehad het, soos Katie se soeke na haar kind, en die pa-en-seundinosourusbouers, asook Rory en sy pa met hul stoffeerbesigheid, dui daarop dat elke karakter onlosmaaklik deel uitmaak van ’n familiegeskiedenis, van ’n plek in die wêreldgeskiedenis (soos die dinosouruspark ook suggereer), en dat geeneen sy eie lewe kan bepaal nie. Ontsnapping uit ’n erfenis van vlees en bloed en van sosiale omstandighede, is onmoontlik. Die probleem is om sin te maak hieruit, om ’n lens te kies.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.