Ansja Ferreira skryf in ons 9 Mei-uitgawe oor boedels en kenners gee ‘n oopkopgids vir die opstel daarvan.
Die bereddering van boedels kan volgens kenners vertraag word, as:
- Die testament in die hof betwis word.
- As daar vermoed word dat ‘n persoon ’n geestelike ongesteldheid gehad het toe hy of sy die testament onderteken het. Daar sal bewys moet word dat die persoon geestelik ongesteld was toe hy of sy die testament onderteken het. As jy verwag dat daar onmin of moontlik besware teen jou testament gaan wees, kan jy spesiale voorsorgmaatreëls tref. As jy dalk ernstig siek is, kan jy versoek dat ‘n mediese dokter by die ondertekening van die testament teenwoordig is sodat hy van jou geestelike en verstandelike vermoëns kan getuig. ‘n Persoon wat weens ‘n mediese toestand nie meer ‘n handtekening kan maak nie, kan die testament ook met ‘n merk soos ‘n duimafdruk onderteken, maar dan moet ‘n kommissaris van ede, soos ‘n polisiebeampte, teenwoordig wees en sertifiseer dat hy oortuig is van jou identiteit en dat die dokument jou testament is. Die hele ondertekeningsproses kan ook op video of DVD opgeneem word. Om ‘n familietwis tot die minimum te beperk, kan jy ook ‘n video of DVD maak waarin jy jou laaste wense en boodskappe vir jou geliefdes, asook redes vir jou besluite rakende die erfporsies uiteensit. Dis egter belangrik om te weet dat hierdie opname onder geen omstandighede jou skriftelike testament kan vervang nie.
- Wanneer ‘n persoon nie handelsbevoeg is nie en nie verstaan het waarmee hy besig was en wat hy geteken het nie.
- Ouderdom en verswakking. Connie Bruwer, ‘n boedelkenner, noem die voorbeeld van ‘n erg verswakte bejaarde wat in die hospitaal lê en deur een van sy kinders versoek word om sy testament te verander.
- Wanneer die testament onder dwang of afdreiging geteken is.
- Bedrog. Wanneer ‘n persoon die testament teken, maar nie geweet het dit is ‘n testament wat hy teken nie, byvoorbeeld hy is valslik onder die indruk gebring dat hy iets anders teken soos ‘n huurooreenkoms.
- Enigiets waarin jy jouself weerspreek. Weersprekende boedelinstruksies kan in ‘n hof gebruik word om jou testament ongeldig te verklaar. Onterfde familielede gryp dikwels na ‘n strooihalm en probeer om die testament ongeldig te laat verklaar. Dit is dus uiters belangrik dat die testament só opgestel word dat daar geen foute gemaak word. Daarom is dit belangrik om jouself van die wetlike vereistes te vergewis. Mense wil dikwels kostes bespaar en stel dan sommer hul eie testament op. Foute sluip maklik in en baie van hierdie testamente voldoen nie aan die wetlike vereistes nie en is dus ongeldig of onuitvoerbaar. ‘n Kenner soos ‘n geoktrooieerde rekenmeester of prokureur is op hoogte van alle wetlike vereistes en kan vir jou waardevolle raad gee.
- Daar vertragings by banke is om rekenings te sluit.
- Daar by munisipaliteite vertragings is om uitklaringsyfers te verkry wanneer ‘n vaste eiendom oorgedra moet word.
- Wanneer daar nie genoeg geld in die boedelbankrekening is om boedelkostes te betaal nie. ‘n Voorbeeld is wanneer ‘n eiendom nie getransporteer kan word nie, aangesien daar nie geld in die boedel is om die kostes daarvan te dek nie.
- Wanneer die inligting wat deur die eksekuteur benodig word nie spoedig aan die eksekuteur van die boedel gegee word nie. Om hierdie probleem uit te skakel, beveel Connie aan dat mense ‘n testament lêer open en sorg dat hulle presies weet waar die testament en ander waardevolle dokumente gehou word. Maak seker dat hulle vooraf weet wie die boedel gaan beredder en sodra die eggenoot of eggenote te sterwe kom, moet die persoon wat die boedel gaan beredder, onmiddellik daarvan in kennis gestel word. Die oorspronklike testament, identiteitsboekie en doodsertifikaat van die oorledene, moet aan die persoon oorhandig word wat die boedel gaan beredder, sodat hy met sy taak kan voortgaan. Jy moet ook self ‘n afskrif van die testament behou, om seker te maak of aan al die bepalings van die testament uitvoering gegee word. Laat maak altyd ‘n afskrif van die mees onlangse testament en hou dit in jou besit.
- Die inhoud van jou testament is vertroulik en hoef nie openbaar gemaak te word terwyl jy nog leef nie. Ouers maak soms die fout om hul opgestelde testament aan hul kinders te wys, wat dan tot onenigheid in die familie kan lei.
Aan watter wettige vereistes moet my testament voldoen?
- Die testateur of testatrise en twee onafhanklike getuies moet op elke bladsy teken. Twee bevoegde getuies moet ook die testament op elke bladsy teken. Ook mag enige erfgenaam in die testament nie as getuie teken nie. Dit moet die volle handtekening wees en nie net voorletters nie. As die testament uit meer as een bladsy bestaan, moet dieselfde mense op al die bladsye teken. As die kommissaris van ede die testament gesertifiseer het, moet dieselfde kommissaris ook elke bladsy teken.
- Daar moet geen ruimte vir dubbelsinnigheid of onduidelikheid wees nie, sê Connie. “Enigiets waarin jy jouself weerspreek, asook weersprekende boedelinstruksies kan in ‘n hof gebruik word om jou testament ongeldig te verklaar. Dit is van die grootste belang dat jou testament op skrif is en tegnies korrek opgestel word, verkieslik deur ‘n deskundige op die gebied.
- Die testament moet ook op elke bladsy onderteken word en die datum moet op die testament aangebring word.
Lewende Testament
Genadedood is onwettig in Suid-Afrika, maar ‘n bevoegde persoon het wel die reg om lewensonderhoudende mediese behandeling te weier. ‘n Lewende testament kan jou gesin van ‘n baie moeilike keuse bespaar en sal bepaal of jy kunsmatig aan die lewe gehou moet word deur middel van masjiene soos respirators en buisvoeding of nie. Jou lewende testament behoort nie deel van jou gewone testament te vorm nie, aangesien jou gewone testament gewoonlik eers ná jou dood gelees word. Die moontlikheid bestaan dat jy dalk teen jou wil aan die lewe gehou kan word, as jou naasbestaandes nie bewus is dat jy wel ‘n lewende testament opgestel het en waar dit gehou word nie. Jou naaste familielede en vriende behoort te weet waar jou lewende testament gehou word.
VOORBEELD VAN ‘N LEWENDE TESTAMENT
Ek verklaar dat hierdie my Lewende Testament is.
Wanneer die tyd aanbreek dat ek nie meer kan deel in besluite oor my eie toekoms nie, moet dié verklaring as ‘n testament van my wense beskou word.
As daar geen redelike vooruitsig is op my herstel van liggaamlike siekte nie, of as verswakking verwag word, wat my ernstige ellende sal besorg, of my onbevoeg sal maak vir ‘n rasionele bestaan, versoek ek om toegelaat te word om te sterf en nie kunsmatig aan die lewe gehou te word nie en dat ek die nodige medikasie sal ontvang wat my vry van pyn en angs sal hou, selfs al sou dit my dood verhaas.
Dat alle lewensbehoudende stelsels, soos ventilators, respirators of enige ander gesofistikeerde en moontlik duur mediese tegnieke, met groot omsigtigheid gebruik sal word om die lewe te behou, in die geval waar daar ‘n redelike kans op herstel bestaan en nié om die oomblik van dood uit te stel nie en sodoende die doodstryd en angs uit te rek, waar daar geen kans op herstel is nie.
Hiermee gee ek die geneesheer wat my op daardie tydstip behandel, toestemming om alle toestelle wat my aan die lewe hou, af te skakel.
Kontak Connie Bruwer by [email protected]