Die somervakansie is amper hier en ’n mens kan nie vroeg genoeg begin spaar vir al die uitgawes wat met dié feesseisoen gepaardgaan nie.
“Die een ding wat jy nie dié vakansieseisoen kan rustig vat nie, is jou bereidwilligheid om te begroot. Jy moet presies weet wat jy koop, vir wie en hoekom voordat jy geld daarop bestee,” sê Eunice Sibiya, hoof van FNB se Verbruikersopvoeding.
Om jou toe te laat om dié vakansie met die regte finansiële dissipline te geniet, het Eunice vyf wenke wat sy hier deel.
1 Betaal jouself eerste
Net omdat dit vakansie is, beteken dit nie jy mag ophou geld spaar nie. Maak seker jy sit dieselfde bedrag geld as gewoonlik in ’n spaarrekening sodra jy jou salaris kry. En spaar ’n deel van jou bonus ook.
2 Sonder ’n begroting gaan jy begin rooi sien
Stel jou begroting sé op dat jy genoeg geld het vir ekstra, impulsiewe uitgawes en ook genoeg geld oor het vir noodgevalle. Beplan eerder om meer te bestee as minder sodat jy nie jou spaargeld hoef te begin gebruik of skuld moet maak nie.
3 Sit die plastiek weg
Dis te maklik om ons kaarte te gebruik om vir allerhande dinge te betaal, maar dra eerder net soveel geld saam met jou as waarvoor jy begroot het. Moet ook nie aanbied om vir jou vriende se etes te betaal net omdat jy verwag hulle sal later dieselfde doen nie – jy sien dalk nie weer daardie geld nie en dan sit jy in ’n penarie.
4 Doen inkopies alleen
Sodra mens ’n inkopietog in ’n sosiale affêre verander, raak dit maklik om meer geld te bestee as wat jy beplan het. “Wanneer jy gaan geskenke koop, moet jy ook die kinders eerder by die huis los. Dit sal help dat jy beter konsentreer op hoeveel geld jy bestee en dat jy by jou inkopielys hou,” sê Eunice.
5 Kry goedkoper geskenke
Verander die manier hoe jy en jou familie geskenke gee. As jy kinders het, kan jy hulle aanmoedig om self geskenke te maak eerder as om dit te gaan koop. Jy kan ook ’n geskenk koop wat meer as een persoon kan deel – soos ’n bordspeletjie of sporttoerusting.
Gebruik die feesseisoen om op Januarie voor te berei deur vir jou kinders geskenke soos opvoedkundige speelgoed, skoolbenodigdhede of ’n mooi sportsak te gee.
Met volwassenes kan mens ’n “spokie” gebruik om geld te spaar. Dis wanneer elkeen ’n ander persoon se naam trek (of in die geheim toegewys word). Dan koop jy net vir dié persoon ’n geskenk. Die groep kan besluit wat hul begroting vir geskenke is.
Jy kan ’n wenslys met geskenke wat jy graag wil hê, vir jou familie en vriende opstel. Hulle kan besluit of hulle dié geskenke as individue of as ’n groep wil koop. So is hulle seker dat jy ’n geskenk gaan kry wat jy wil hê.