Willie Burger kyk na Angela Makholwa se vierde roman, The Blessed Girl
Toe ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse politikus onlangs in ’n Sondagkoerant as ‘n “Blesser” beskryf is, het baie Afrikaanse mense vir die eerste keer van hierdie begrip gehoor. ‘n Blesser is ‘n baie ryk (getroude, ouer) man wat ’n jong vrou onderhou en in ruil vir ’n seksuele verhouding met duur geskenke oorlaai.
Die jong vroue wat op hierdie manier woonplekke in gesogte buurte bekom, duur motors ry, ontwerpersklere dra en dikwels die blessers na uitspattige partytjies en eksotiese vakansies vergesel, beskou hulself as “geseënd”. Vandaar die benaming blesser vir die magtige, ryk mans wat seëninge oor die mooi meisies laat reën.
Die romantitel van Angela Makholwa se vierde roman, The Blessed Girl, sluit by hierdie begrip aan. Die roman word aangebied as die memoires van die beeldskone Bontle Tau, ‘n “Yellow Bone” (‘n swart meisie met ‘n ligte gelaatskleur) wat oorsronklik van Mamelodi af kom, miskien gesukkel het met skoolwerk, maar wat van kleins af weet hoe om met mans te werk.
Sy kan nie verstaan waarom haar vriendinne hard studeer om grade te kry nie. Al wat ‘n meisie nodig het, is ’n PhD in “MENcology”, glo sy. Vol bravade verduidelik sy hoedat sy verskillende “blessers” om haar pinkie draai – van die grillerige, vet, ou sakeman, Papa Jeff, wat haar ‘n maandelikse toelaag en ‘n Mercedes gee, tot Teddy Bear, die hoof van finansies in Polokwane deur wie se toedoen sy ‘n tender bekom om HOP-huise te bou waaruit sy potensieel miljoene rande kan maak sonder om iets van die boubedryf te weet.
Wanneer een van haar vriendinne deur ‘n Nigeriese oliemagnaat, Mr Emmanuel, met die belofte van ‘n News Café-franchise geseën word, besef sy dat dit iets is wat sy eintlik wil hê en begin planne beraam om ook deur Mr Emmanuel geseën te word.
Bontle geniet die uitspattige lewenstyl van sjampanje, sportmotors en partytjies, maar dit kos baie en sy is voortdurend na nuwe seëninge op soek – veral as Papa Jeff se onderneming deur die Valke ondersoek word en sy vrou snuf in die neus begin kry, of as dit “regte werk” en kennis van haar verg om die tender deur te voer. Gevolglik moet sy seker maak dat haar voorkoms aanloklik bly om nuwe, groter seëninge te bekom, en sy besoek gereeld ‘n duur plastiese chirurg om haar rondings uit te bou en haar vel ligter te maak.
Haar flambojante lewe staan egter in skrille kontras teenoor haar moeilike agtergrond in Mamelodi, waar sy sonder pa as kind van ‘n sjebeen-eienares grootgeword het. Sy probeer om van haar agtergrond te ontsnap, maar eintlik het sy juis daar, in die sjebeen, die nodige straatvaardighede aangeleer om haar weg tussen die magtige sakemanne en politici te vind.
LEES OOK: Kies ‘n boek: The Sellout
Die roman se memoires-vorm herinner aanvanklik aan chicklit soos Bridget Jones’ Diary. Daar is immers veral aan die begin ‘n bietjie ligtheid en vermaak in al die beskrywings van hoe mans is en hoedat sy hulle manipuleer. Maar algaande word die donker ondertoon oorheersend en Makholwa se roman word veel meer as die vermaaklike memoires van ‘n suksesvolle, geseënde meisie.
Bontle se agtergrond en persoonlike geskiedenis word geleidelik aan die leser bekend, want sy is so gewoond daaraan om die hele tyd net die mooiste en blinkste voor te hou – dit is immers waarvan sukses in haar wêreld afhang – dat sy nie so maklik van haar agtergrond en depressie skryf/vertel nie. Geleidelik word die leegheid van die leuen wat sy leef en die tol wat dit psigologies en fisiek eis tussen die reëls duidelik.
Die roman is egter ook meer as die fyn en onthutsende beskrywing van ‘n individu se traumatiese ervarings en die gevolge daarvan op haar eie en haar gesin se lewe. Dit is ook ‘n satiriese roman wat skerp kommentaar op ons huidige samelewing lewer. Enersyds word die leser van sy/haar eie haastige morele oordeel oor mense soos Bontle bewus gemaak. Andersyds bied die roman ook ‘n interessante blik agter die skerms van die blink lewe en uitspattige opulensie van die Nouveau Riche in ons land.
Makholwa is ‘n bedrewe skrywer wat reeds met Black Widow Society gewys het sy kán ‘n spannende verhaal met ‘n tong in die kies oor ernstige onderwerpe vertel. The Blessed Girl is meesleurend en verskyn op presies die regte tyd om sommer heelwat insig in ons huidige samelewing te gee, terwyl dit ook daarin slaag om die leser in ‘n wêreld in te trek van waar jou eie aandadigheid aan die samelewing waarin ons woon, duidelik ervaar word.
Na my smaak word ‘n paar punte na die einde van die roman té duidelik ingevryf, maar dit doen min afbreuk aan ‘n oorrompelende en insiggewende beskrywing van ons land se huidige situasie.
Miskien is dit nog ‘n oorblyfsel van die vorige bedeling in ons land dat baie Afrikaanse lesers langtand aan Suid-Afrikaanse literatuur in ander tale as Afrikaans lees, maar hierdie is ‘n boek wat almal in die land behoort te lees.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.