Die gewilde Blaauwklippen Versnit-kompetisie is vanjaar vir die 34ste jaar gehou
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Dié kompetisie gee aan wynklubs van regoor die land die geleentheid om hul slag met die versnyding van wyn te wys. Die kompetisie het vanjaar 84 inskrywings gehad en die Kelderhof Winos het as wenners uit die stryd getree.
Hulle het ook die “Nuweling van die Jaar” trofee ingepalm. Vanjaar was die Wes-Kaap goed verteenwoordig en uit die finale vier klubs wat om die titel meegeding het, was die Kelderhof Winos Business Time en Wine Geeks uit dié provinsie en die Outlander-klub van Gauteng.
Die wen-versnit het bestaan uit 8% Zinfandel, 15% Cabernet Franc, 30% Merlot, 7% Petit Verdot en 40% Shiraz en die amptelike oorhandiging van die pryse is by Blaauwklippen buite Stellenbosch in die pragtige kelderagtige restaurant gehou.
Die wen-versnit word onder die etiket, Blaauwklippen Cabriolet, gebottel en die wenklub kry spesiale vermelding op die rugetiket van die bottel. Hulle wen ook ’n trofee, glasware van Vitria, wyn en ander pryse.
LEES OOK: Steenberg-wynreeks na historiese skepe vernoem
Rolf Zeitvogel, besturende direkteur en keldermeester by Blaauwklippen, het aan gaste vertel dat hulle die klubs vanjaar uitgedaag het om ’n ernstige, goed gestruktureerde rooi versnit te maak, wat goeie verouderingspotensiaal het. Dit moes bestaan uit Zinfandel 2016, Cabernet Franc 2016, Merlot 2016, Petit Verdot 2016 en Shiraz 2016. Die wyn se komponente is geoormerk vir die Blaauwklippen Vineyard Selection-reeks.
Die Zinfandel is beperk tot ’n maksimum van 10% van die versnit en die Cabernet Franc tot nie meer as 40% van die totale versnit nie.
“Ons is elke jaar verbaas deur die gewildheid van die kompetisie en dis so lekker om te sien hoe die amateur wynproeërs se pogings om hul eie versnit te maak, se puntetellings almal baie na aan mekaar was,” het Rolf vertel. Die styging van 16 % inskrywings, is bewys dat die landgoed hier ’n wen-resep beet het. “Daar is ’n beter begrip van die kuns van wyn-versnyding en wyn-waardering word gedoen, terwyl almal ook hope pret het.”
Die beoordelaars vir vanjaar se kompetisie was die landgoed se wynmaker, Narina Cloete, wat saam met Mark Norrish, Clive Torr, Lidia de Coito, Guy McDonald en Karen Glanfield, die 84 inskrywings geproe het.
Narina het vertel dat die wyn op 14 Augustus versny; op 24 Augustus gebottel en op 25 Augustus etikette gekry het, om gereed te wees vir die prysuitdeling en verspreiding na wynwinkels.
Die wen-versnit word onder die Cabriolet-etiket in 750 ml & Magnum bottels by uitgesoekte winkels verkoop, of is aanlyn van www.blaauwklippen.com beskikbaar.