Lees hier meer oor Bipolêre steuring
Deur: Petro le Roux
Wat is bipolêre gemoedsversteuring?
Volgens die SA Mental Health Federation is bipolêre depressie ’n breinwanfunksie gekenmerk deur ongewone, abnormale en uiterste skommelinge in gemoedstoestand – vanaf uiterste depressie tot uiterste manie.
Simptome van ’n maniese of hipomaniese episode
- Rusteloosheid, toenemende energievlakke en aktiwiteite.
- Geweldige irritasie, praat mense dood, gee niemand kans om te praat nie.
- Gaan op kooplustige togte en spandeer geld impulsief.
- Slaap min.
- Gedagtes wat jaag, praat te vinnig.
- Hoë dunk van die self/opgeblaasde selfbeeld.
- Is onder die indruk dat hy of sy iemand anders is.
- Drink te veel, eet te veel/eet te min, of gebruik dwelms.
Simptome van ’n depressiewe episode
- Aanhoudende gevoel van ernstige terneergedruktheid en depressie.
- Gebrek aan belangstelling in aktiwiteite.
- Opsigtelike gewigsverlies of gewigstoename.
- Slapeloosheid of oormatige slaap.
- Uitputting en verlies aan energie.
- Gevoelens van nutteloosheid en skuld.
- Konsentrasie en geheueprobleme en die onvermoë om besluite te neem.
- Selfdoodgedagtes.
Die verskillende gesigte van bipolariteit
- Bipolêr gemoedsteurnis I – Mense met Tipe I het minstens een volle maniese episode en dan periodes van kliniese depressie.
- Bipolêr gemoedsteurnis II – Mense met Tipe II het nooit ten volle manie soos by Tipe I nie. Hulle ervaar hipomanie (’n ligter vorm van manie) en dan korter periodes van depressie.
- Siklotimiese stoornis – By siklotimiese stoornis is daar, vir minstens twee jaar, hipomanie en ligte depressie, wat nooit erg genoeg is om as ’n maniese of depressiewe wanfunksie geklassifiseer te kan word nie.