Toets- of eksamentyd kan ‘n nagmerrie wees, maar jy kan dit vir jou en jou kind makliker maak. Tanya de Vente-Bijker het om hulp gaan aanklop
Die eksamen is ‘n stresvolle tyd vir leerders, maar net soveel vir ouers.
Gerhard van der Merwe, ‘n bedryfsielkundige van Pretoria, sê dit is belangrik dat ouers nie verantwoordelikheid vir hul kind se studietyd neem nie. “Jou kind moet self leer hoe om te leer. Jy as ouer kan help met verduideliking en kontrole deur vrae te vra.”
Volgens Gerhard kan jy jou kind verder help deur seker te maak hy weet presies waaroor hy toets of eksamen moet skryf. “Maak seker hy weet wat die formaat is. Is dit lang- of veelkeusevrae? Maak ook seker hy verstaan die werk. Dit is baie moeilik om leerwerk te memoriseer as jy dit nie verstaan nie. As jy as ouer nie kan help nie, kry hulp, soos ekstra klasse vir jou kind.”
LEES OOK: As eksamens nag is
Jy moet ook verseker jou kind het ‘n studieroetine. Dit beteken dat daar sekere tye vir sekere studiebeginsels toegedeel word. Gerhard sê laerskoolleerders behoort om en by 30 minute per dag aan ‘n vak te bestee, terwyl ander grade minstens 40-60 minute per dag daaraan moet bestee.
Jou kind behoort om en by dieselfde tyd op ‘n stil plek, soos ‘n eie kamer of studeerkamer, te studeer.
‘n Kind moet eers kan bewys dat dit hom kan help om beter te konsentreer as hy voor die TV, met die iPod, selfoon of rekenaar sit en leer. Indien nie, moet dit eers gebêre of afgesit word en later as beloning gebruik word as die verlangde werk gememoriseer is.
Dit werk ook nie as jou kind op die bed lê en studeer nie. Hy moet homself kondisioneer om in die “leermodus” in te gaan.
Hy glo dit is baie belangrik dat leerders ‘n spesifieke studiemetode volg in plaas van om net doelloos voor die boeke te sit en die werk oor en oor te lees. “Help jou kind met sy opsommings as hy nie weet hoe nie, maar moenie die werk vir hom opsom nie. Opsommings beteken nie om alles oor te skryf nie, maar om kernpunte uit te haal.”
Claire Newton, ‘n sielkundige van Durban, sê dit is belangrik dat leerders die regte houding en ‘n studieplan moet hê waarvolgens hulle kan werk.
“Leerders moet hul werk prioritiseer. Hulle moet besluit wat is die belangrikste en dit eers doen. Dit is ook ‘n goeie idee om die slegte werk eerste te doen sodat hulle kind na die lekkerder werk kan uitsien.”
Leer jou kind dat hy sy werk in hanteerbare dele moet opbreek. “Selfs die moeilikste eksamen is hanteerbaar as jy dit opdeel. Jou kind moet ook haalbare doelwitte vir homself stel. Jou kind moenie meer van homself verwag as wat hy kan doen nie. Hy moet beplan wat hy wil doen en nie wat hy dink hy moet doen nie.”
Leer jou kind om ‘n studieprogram of rooster uit te werk. “Só kan leerders hul vordering monitor en ouers kan hulle ondersteun en motiveer.”
Claire sê die grootste bron van stres is om aan te hou uitstel. “’n Kind moet leer om die werk dadelik te doen en hy kan ook leer om homself te beloon as hy ‘n doelwit bereik het.”
Raad aan leerders
Gerhard beveel die volgende studiemetodes aan:
- Lees baie vinnig (vluglees) deur die werk wat jy moet leer net om jouself te oriënteer. Die ouer kan die jonger kind kortliks oor die groter prentjie inlig.
- Maak opsommings van ‘n spesifieke stuk leerwerk.
- Leer nou die opsommings deur dit vir jouself op te sê of neer te skryf. As jy al die punte kan neerskryf sonder om na die antwoorde te kyk, beloon jouself deur vir vyf minute iets te doen wat jy baie graag wil. Gaan sit weer ná die vyf minute en herhaal dit.
- Ouers kan help deur hul kind die werk te laat opsê. As dit suksesvol is, kan die kind na die volgende leerwerk aangaan en dit op dieselfde manier hanteer.
- LEES OOK: Motiveer jou kind vir die eksamen
- Leer is soos fietsry, hoe meer jy oefen en herhaal, hoe beter raak jy. Leer is dieselfde: Jy moet leerwerk herhaal om dit in jou langtermyngeheue gevestig te kry.
- Die belangrikste is dat jou kind vroegtydig moet begin en elke dag ‘n bietjie moet werk anders plaas hy homself onder stres.
Nog ‘n belangrike studiemetode is breinkaarte. ‘n Breinkaart is wanneer jy die tema van jou hoofstuk in die middel van jou papier omkring. Vandaar af vertak jy na jou hoofgedagtes waarin jy weer met strepe na ander idees onder die hoofgedagtes vertak. Dit kan help om met verskillende kleurpenne te werk sodat jy aparte afdelings in verskillende kleure kan skryf.
Volgens www.mind-mapping.co.uk is daar agt basiese stappe om met ‘n breinkaart te studeer:
- Loer vinnig deur die hele hoofstuk, artikel of boek sodat jy kan sien hoe die werk verdeel is.
- Werk die tyd uit wat jy gaan bestee om dit te studeer en kyk hoeveel werk jy in dié tyd moet leer.
- Maak ‘n breinkaart van wat jy reeds oor die vak weet sodat jy vir jou brein aanknopingspunte kan vind.
- Maak ‘n aparte breinkaart vir die vrae wat jy in die hoofstuk moet antwoord.
- Kry ‘n oorsig van die teks deur na die inhoudsopgawe, hoofopskrifte, resultate en opsommings of enige ander belangrike elemente wat jou oog vang, te kyk. Hierdie proses gee jou die middelpunt en die hooftakke van jou nuwe breinkaart. Deur op die oorsigtelike struktuur te fokus, word die werk baie duidelik en kan dit maklik in ‘n breinkaart verwerk word.
- Nou beweeg jy aan na die materiaal wat nie in die oorsig is nie, die begin en slotparagrawe, afdelings en hoofstukke waar belangrike inligting bespreek word. Voeg dit by jou breinkaart.
- Vul die res van jou kaart in deur na die res van die teks te kyk.
- Ten slotte moet jy hersien. Gaan na die moeilike gedeeltes wat jy in die eerste stappe uitgelaat het en gaan terug na jou vraagbreinkaart om te kyk of daar enige ontbrekende vrae is wat jy nog nie geantwoord het nie.
Eet gesond en gebalanseerd
Dit is baie belangrik dat jou kind gebalanseerd eet. Mariana Davel, ‘n geregistreerde en raadgewende dieetkundige vir Compass Group Southern Africa, sê om jou kind te help konsentreer, is dit belangrik dat hy kos eet wat stelselmatig bloedglukose aan die liggaam voorsien, wat energievlakke handhaaf en die brein wakker hou.
LEES OOK: Hou jou brein vanjaar gesond!
“Die brein het meer energie tydens eksamentye nodig as gevolg van die lang tye wat leerders studeer. Die energie moet van kosse kom wat laag in vet is en ‘n lae GI-inhoud het.”
Sy gee ‘n paar belangrike wenke:
- Ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag. ‘n Maklike opsie is graankos met laevetmelk en ‘n vars vrug of ‘n sny lae GI-brood met ‘n geposjeerde eier en vars tamatieskywe.
- Eet drie maaltye ‘n dag wat hoog in vesel en laag in vet is. ‘n Mens kan ‘n verskeidenheid van vrugte en groete of slaai byvoeg. ‘n Tipiese middagete is ‘n toebroodjie met laevetham en avokadopeer saam met ‘n klein groenslaai.
- Peuselhappies soos laevetjogurt of drie semelbeskuitjies met ‘n smeer of ‘n vars vrug sal die energievlakke handhaaf.
- Oefen gereeld. Dit sal jou kind se serotonienvlakke verhoog en die bloed- en suurstofvloei na die brein verbeter. Dit help ook vir stres.
- Genoeg slaap is baie belangrik. Te min slaap is sleg vir jou konsentrasievermoë en veroorsaak gemoedsversteurings.
- Moenie rook nie, want nikotien verhoog angsvlakke.
- Drink baie water sodat jy nie dehidreer nie. Dehidrasie veroorsaak hoofpyne en laat jou moeg en sonder energie voel. Geur die water met ‘n paar skywe vars appel of ‘n paar mentblare.
- Vermy energiedrankies aangesien dit hoog in geraffineerde suiker en kafeïen is. Dit verhoog jou hartklop wat jou energievlakke dadelik verhoog, maar daarna moegheid veroorsaak.