Ons geldghoeroe Nico Swart sê jy moet eers presies weet wat jou behoeftes is voor jy finansieel kan beplan
Oud en jonk het almal verskillende menings oor finansiële dienste en produkte, skuld, lenings, nuwe motors, eiendom, aandele en selfs testamente. Hoe sou ’n makelaar elkeen van hulle kon help? Die antwoord is eenvoudig: Wie vra die finansiële raad? Kom ons kyk kortliks na geldsakeaspekte waaraan tien groepe individue aandag behoort te gee, sou hulle wil beplan. Al tien groepe sou verder in kleiner groepe verdeel kon word op grond van elk se unieke persoonlike finansiële situasie. Elke groep en persoon se antwoord op wat hulle moet doen, hang af van die groep of individu wat vra.
Op skool – leerders
• Kinders moet skool verlaat met geldsakekennis wat die totale prentjie van persoonlike finansiële bestuur behels.
• Help jou kinders om geldgeletterd te word deur boeke oor finansiële geletterdheid te koop. Dis die beste belegging. (Besoek www. moneyskills.co.za vir boeke vir graad R-12 in Afrikaans en Engels met ’n gids vir ouers en onderwysers.)
Ná skool – begin werk of begin studeer
• Maak seker jy weet wat jy vir ’n lewe wil doen. Doen jou huiswerk oor die regte studierigting, jou totale studiekoste en ’n goeie universiteit.
• Hou ’n opgedateerde curriculum vitae vir as jy onverwags vir werk aansoek moet of wil doen – stel dit professioneel op.
• Skryf vir in geldsakekursusse soos dié van Unisa se Sentrum vir Sakebestuur wat alle aspekte van persoonlike finansies insluit: die Short Course in Basic Financial Life Skills en die Course in Personal Financial Management.
Ongetroud
1 Beplan met behulp van ’n begroting.
2 Stel persoonlike finansiële doelwitte op vir die onmiddellike, kort, medium- en lang termyn.
3 Fokus op jou finansiële behoeftes en nie jou begeertes nie.
4 Maak goeie skuld vir die koop van ’n klein en bekostigbare motor, meubels, ’n eerste woning en verdere studies.
5 Belê vanaf jou eerste salaristjek vir aftrede.
6 Kies slegs beleggings wat kapitaalgroei bied.
7 Beplan om finansieel onafhanklik van jou ouers te word.
8 Moenie te vinnig verloof raak as jy nie die finansiële gevolge/implikasies van ’n verlowing begryp nie – jy kan baie duur betaal as jy daar wil uitkom.
9 Die belangrikste: Bestudeer die verskillende huweliksgoederebedelings en trou buite gemeenskap van goedere met uitsluiting van die aanwasbedeling en wins en verlies – dan kan julle jul geldsake die beste beplan en beskerm (asook dié van jul ouers) teen julself, jul gades, jul families, die belastinggaarder, skuldeisers en derde partye.
10 Iemand wat nie ter wille van jou of jou ouers se geld en besittings met jou wil trou nie, sal nie omgee dat jy dit wil beskerm nie.
Getroud sonder kinders
• Beplan van die begin af jul geldsake met die hulp van jul begroting.
• Leer om jul finansies gesamentlik te beplan.
• Maak seker dat julle presies weet wat die finansiële implikasies van jul bepaalde huweliksvoorwaardekontrak is.
• Beplan met behulp van jul huweliksvoorwaardekontrak.
• Onthou, geld en geldsake is dikwels die oorsaak van egskeidings.
• Wees altyd openlik en eerlik met jou maat en betrek hom/haar in alle finansiële besluite.
• Stel gesamentlike en afsonderlike finansiële doelwitte.
• Respekteer mekaar se finansies en salaris/inkomste.
• Moenie jou ouerhuis se finansiële idees op die ander party probeer afdwing nie.
Getroud – eerste kind
• Stel ’n bababegroting op. Maak dit deel van jou huishoudelike begroting.
• As jul begroting nie balanseer nie (inkomste net bietjie meer of gelyk aan uitgawes), verwyder sekere uitgawes waarsonder julle kan klaarkom.
• Koop goedkoper babatoerusting en speelgoed.
• Belê so gou moontlik in effektetrusts vir die kind se studies op en ná skool.
• Moenie die geld vir onnodige besteding op begeertes onttrek nie.
Geskei
• Verander jou testament binne die eerste drie maande om jou eks uit te sluit.
• As jy dit nie doen nie en jy kom te sterwe, erf jou eks jou boedel volgens jul vorige gesamentlike testament.
• As jy weer trou, trou met die regte huweliksgoederebedeling.
• Begin opnuut beleggings opbou met die oog op jou aftrede.
Middeljare – kinders verlaat huis
• Hou die kinders uit die huis.
• Verhoog jul voorsiening vir aftrede deur beleggings in jul uittree-annuïteite asook in riskante effektetrusts en aandele.
• Onthou, jul geld moet vir die 20-30 jaar ná aftrede nog kapitaalgroei lewer.
• Gee opnuut aandag aan jul boedel.
• Stel ’n nuwe testament op en sluit ’n testamentêre trust daarby in indien nodig.
• Maak planne om jul boedel met die hulp van ’n makelaar te verklein.
• Koop nuwe vaste eiendom in die naam van ’n trust.
• Skenk R100 000 per jaar aan die maat met die kleinste boedel of aan die kinders. l Jy hou vir altyd aan om dit jou boedel te vergroot, maar ook om dit ter wille van boedelbelasting te verklein.
• Raadpleeg ’n trustkenner asook jou makelaar en ouditeur om met inkomstebelastingaspekte te help.
Te veel skuld – gesekwestreer/gelikwideer
• Betaal die duurste skuld eerste – dié met die hoogste rentekoers.
• Raadpleeg jou prokureur en skuldeisers en konsolideer jou skuld deur een banklening uit te neem waarmee jy alle kleiner skulde betaal.
• Jy het nou slegs een skuldeiser. Hou by jou nuwe skuldooreenkoms met die bank.
• Indien gesekwestreer of gelikwideer (jou onderneming), laat jou prokureur jou help om so gou moontlik gerehabiliteer te word.
Voor jou aftrede
• Vind alles moontlik uit omtrent jou werkgewer se aftreefonds en mediesefondsskema waaraan jy behoort. Sodoende weet jy presies wat ná jou aftrede vir jou wag.
• Raadpleeg ’n makelaar en maak seker dat jy voldoende beleggings met kapitaalgroei het om finansieel onafhanklik te kan aftree. Indien jy te min het, moet jy addisionele beleggings maak of jou bestaande beleggings verhoog.
Ná aftrede
• Bly by jou/jul huishoudelike begroting.
• Moenie jou geld mors of in twyfelagtige beleggings daarmee dobbel nie.
• Hou jul lewenstandaard fyn dop, andersins kan julle jul aftreegeld te gou uitgee en dit oorleef.
• Beskerm jul gesondheid deur gesond te leef.
• Moenie geld op duur “aftreemotors” mors nie.
Als gaan oor wie vra
Dis baie belangrik dat ’n makelaar, prokureur, eiendomsagent of konsultant eers uitvind “wie vra?” Daarna kan advies en dienste of produkte aan ’n persoon verkoop word. Net so kan ons as unieke individue nie finansiële dienste of produkte koop (of daarin belê) as ons nie weet “wie vra?” nie. Jy moet weet wat jou persoonlike finansiële situasie, jou doelwitte, jou risiko’s en jou behoeftes is. Begin dadelik beplan nadat jy jou finansiële situasie bepaal het. Jy moet met behulp van jou begroting, oftewel die beursie van jou huishouding, beplan. Jou kontantvloei bepaal hoedanig jy vir die res van die jaar kan beplan.
Nico Swart het al meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning geskryf. Besoek www.moneyskills.co.za Vk