Daardie gesinseerstes bied soms die grootste uitdagings. Hier is raad hoe om dit aan te pak.
Maretha Botes
Ons is ‘n gesin van vyf. Hoewel ons dikwels kort rukkies weggaan en vakansie hou, het ons nog nooit ‘n “groot” vakansie aangepak nie. Ons beplan om aan die einde van die jaar vir ‘n maand lank weg te gaan. Dié wegbreek behels ‘n paar vlugte na en van Europa in; baie reis per trein en natuurlik oornag in vreemde plekke soos gastehuise en kampplekke. Hoe kan ons seker maak dat die vakansie stresvry verloop? Ek bekommer my oor dinge soos dat my kinders kan wegraak; ek die paspoorte sal vergeet; ons te min klere inpak; ons sal baklei en ek die heeltyd daar oorkant gestres sal wees sonder om die vakansie te geniet. Raad asseblief?
Derika de Villiers, kliniese sielkundige by die Vita Nova-sentrum in Pretoria, sê: “Dit is normaal om angstig te wees oor ’n groot vakansie waar elke ervaring nuut en vreemd gaan wees. Beplanning en jou gesindheid is uiters belangrik. Ek stel voor dat jy ‘n aftiklysie vir die vakansie opstel. Begin by dag een en werk stelselmatig deur elke dag se program. Plaas die belangrike inligting soos ‘onthou paspoorte’ of ‘bevestig verblyf’ eerste. Só sal jy meer in beheer voel. Dit is ook belangrik om ‘n paradigmaskuif te maak omdat vakansies gewoonlik nie verloop soos jy beplan nie en om die vakansie as ‘n avontuur te ervaar. Humor is belangrik. Ek stel voor dat julle as gesin saam sit en ‘n aksieplan saamstel wat ‘n wegraak-scenario betref. Ek het tot baie onlangs toe nog my selfoonnommer met pen op elkeen se arm geskryf as ons iewers heen gaan waar daar baie mense is. My kinders weet ook, as ons mekaar êrens verloor; moet hulle net daar plat gaan sit en nie beweeg nie – ek sal hulle kry. Hulle mag ook nie saam met enigiemand gaan nie. Selfs al is dit die mooiste, vriendelikste tannie wat aanbied om te help. Vra eerder om haar foon te leen en bel my. Natuurlik gaan jou strategie van jou omgewing afhang, so neem dit ing edagte.
My seun (15) het ‘n meisie met wie hy al ‘n paar maande uitgaan. Hoewel hulle dikwels saam gaan fliek of so, is dit altyd in ‘n omgewing waar daar mense is. Haar ouers het hom nou saamgenooi vir ‘n naweek in die bosveld. Dit klink lekker en ek weet hy wil dolgraag gaan, maar ek is nie so seker of dit die regte ding is nie. Ek weet haar ouers gaan nie altyd oral teenwoordig wees nie … Hoe maak ek? Is ek verkeerd om voor die voet “nee” te sê?
Caroll Hermann, kliniese sielkundige van die Universiteit van Zoeloeland, sê: “Dit is nie noodwendig verkeerd om voor die voet ‘nee’ te sê nie. Maak seker jy ken die ouers. (Jy ken ten minste jou kind.) Hy het beslis nie ’n naweek weg van julle nodig om in die versoeking te kom nie. Maak van vroeg af seker jy en jou kind kan oor die soort dinge praat. Maak seker hy het die vrymoedigheid om met jou oor drange en ‘dinge’ te kan praat. Uiteindelik moet jy op die opvoeding vertrou wat jy jou kind gegee het.”
My dogter het pas 12 geword. Nou wil sy haar beenhare skeer. Ek is uiters dankbaar dat ons ‘n oop verhouding het en dat sy die saak met my bespreek het. Maar ek voel sy’s nog te jonk hiervoor. Is dit net ek wat outyds is, of moet ek maar ingee? Wanneer is die regte ouderdom en as ek “ja” sê, gee ek maar net in vir groepsdruk? Ek is bang as ek “nee” sê ons verhouding mag skade ly.
Caroll sê: “Daar is nie ’n ‘regte’ ouderdom vir dié soort goed nie. Dit is maar iets waaroor julle moet onderhandel. Wat is jou werklike oorreding om haar nie toe te laat om haar beenhare te skeer nie? As jy voel daar is mediese, morele of sedelike redes, bespreek jou oortuiging met haar. Die belangrikste is dan ook om na haar redes te luister. Gee haar ruimte om haarself te verduidelik en gaan ‘n kompromie aan as julle nie tot ’n vergelyk kan kom nie.