Dis geen geheim nie: ‘n wynklub is die nuwe boekklub.
Maryna Strachan
Dis geen geheim nie: ‘n wynklub is die nuwe boekklub. Met soveel spogwyne op ons voorstoep maak dit sin om ‘n wynklub te begin. ‘n Wynklub voorsien hope plesier en bied ‘n gulde geleentheid om jou wyne beter te leer ken in die geselskap van beide ou en nuwe vriende, maar met soveel opsies is dit soms moeilik om te weet waar om te begin.
Maryna Strachan, besturende redakteur van Wine Extra-tydskrif en konsultant vir Die TOPS at SPAR Wine Show – die nasionale wynskou wat elke jaar vanaf Mei tot November ons land deur toer – sê dis eintlik makliker as wat ‘n mens dink. Jy hoef nie ‘n wynkenner te wees nie en jy hoef beslis nie ‘n ensiklopedie oor wyn te lees om te verstaan wat om te doen nie. Hier gee sy haar top wenke oor hoe om ‘n wynklub op die been te bring en watter wyne om sommeer by jou eie huis te proe.
Hoeveel mense moet jy nooi?
Die ideale getal lede vir ‘n wynklub is tot en met 20. Meer as dit dan raak dinge nie net duurder nie, maar dit maak ook die geleentheid minder intiem. Met 20 lede beteken dit dat jy 20 “proe-porsies” uit ‘n enkele 750 ml bottel kan skink.
Beplan ‘n tema:
Wanneer jy vasgestel het wie deel van jou klub gaan wees en hoe gereeld julle bymekaar gaan kom, besluit op ‘n tema vir elke proe. Dit sal bepaal watter wyne julle gaan proe. Hou dit eenvoudig aan die begin en kies dalk wyne van ‘n sekere wyngebied, soos Stellenbosch of Franschhoek of selfs ‘n tema soos ‘goedkoop, maar lekker’ en sluit wyne in wat onder R40 kos.
Watter rooi of watter wit?
Kies aan die begin die ou bekendes soos Sauvignon Blanc, Chardonnay of Chenin Blanc vir die wit wyne en Shiraz, Merlot of Cabernet Sauvignon vir rooi. Rosé wyne is soms soet of droog, so proe dalk van albei style sodat hul verskeie karakters vergelyk kan word. As jy iets spesiaals wil doen kan jy selfs ‘n ‘Bubbly’ proe hou en elke klublid kan hul persoonlike gunsteling vonkelwyn, of MCC (Methode Cap Classique) saambring.
Wat het jy nodig?
Elke persoon by die proe moet uit dieselfde grootte en vorm glas drink. Jy kan vooraf proe-notas in ‘n Platter-gids kry, agterop die bottel of op die wynplaas se webwerf. Dis ‘n goeie idee om ‘n emmer of bekers byderhand te hou indien iemand dalk hul wyn wil uitspoeg. Dit sal dan ook verseker dat almal nugter bly en kan fokus op die proe of vir diegene wat huistoe bestuur. Ongesoute beskuitjies is ook belangrik om jou palet te neutraliseer na elke wyn.
Voordat julle begin proe…
So aanloklik as wat dit is om te begin proe, sou dit sin maak om die bottel wyn te laat asemhaal. Dit sal verseker dat die geure van die wyn mooi na vore kom. Maak ook seker dat jy die wyn ruik om seker te maak dat dit nie gekurk is nie. ‘n Muf reuk kan beteken dat ‘n wyn moontlik geoksideer is. Kyk in daardie geval ook na die kleur van die wyn. Met ‘n witwyn sal dit roeskleur of oranje vertoon en met ‘n rooiwyn lyk dit roesbruin.
‘n Puntestelsel:
Gebruik die proenotas om die wyn aan jou groep bekend te stel. Gee die wyn ‘n lekker draai in jou glas om die geure vry te laat en ruik dan weer daaraan om jou olfaktoriese sintuie te stimuleer. Neem dan ‘n slukkie en spoel die wyn goed deur jou mond voordat jy dit uitspoeg, oftewel insluk as jy dit verkies. Onthou net, wynproe is subjektief, so vra vir almal in die groep hul opinie oor die wyn en watter geure of smake hulle opgetel het. Daar sal heelwaarskynlik ‘n klomp verskillende opinies wees oor elke wyn. Indien julle dit meer ernstig wil aanpak kan julle ‘n puntestelsel gebruik soos die 20- of 100-punt stelsel of dalk selfs net ‘n ster-puntestelsel.
Hoe beskryf jy wat jy geproe het?
Dalk tel jy bessies of kaneel op die neus op, dan is dit presies hoe jy die wyn sal beskryf. Algemene geure in witwyne sluit in vars gesnyde gras, aspersie, tropiese vrugte of botterkaramel, afhangende van die variëteit, en op rooiwyn sal jy gereeld speserye of koffie proe. Geen geur of smaak is ooit verkeerd nie en indien jy dalk iets proe wat die anders nie kan proe nie, kan jy dalk selfs ‘n ‘Supertaster’ wees, dis iemand wat ‘n buitengewone sterk sin vir smaak in kos en wyn het.
Moenie die wyn bederf nie
As jy die meeste uit jou wynproe-ervaring wil kry, moenie kougom kou of rook nie. Vermy ook om jou tande net voor die tyd te borsel en moenie parfuum of naskeermiddel gebruik nie – nie net affekteer dit hoe jy die wyn beleef nie, maar ook ander om jou.
Waar om jou wyn te koop?
Met meer as 6 000 wyne beskikbaar in Suid-Afrika sal jy nooit ‘n tekort aan opsies hê nie. Jy hoef ook nie in die Wes-Kaap te woon nie; die TOPS at SPAR Wine Show bring honderde gesogde wyne van die Wes- en Noord-Kaapse wynlande na wynliefhebbers in Suid-Afrika om te proe en koop. Ontmoet die wynmakers, proe ‘n verskeidenheid wyne wat nie altyd op die winkelrakke beskikbaar is nie en koop daar ‘n klompie van jou gunstelinge om jou wynklub op die been te bring.
In Johannesburg vind dit plaas vanaf 12-14 Mei by die Sandton Convention Centre. Kaartjies kan vooraf gekoop word teen R160 vanaf www.wineshow.co.za of by die deur teen R180. Die prys sluit ‘n kristalglas in, alle proeë en toegang tot beide wynteaters asook ‘n kaart om jou te help om jou gunstelingstalletjies op die vloerplan te vind.
Klik hier om dubbelkaartjies te wen na die TOPS at SPAR Wine Show.
Vraag: Wat is die ideale getal lede vir ‘n wynklub?