Die BBC Proms word as die wêreld se grootste musiekfees bemark met dié onderskeiding dat dit die langste van alle soortgelyke feeste aangebied word
Deur JOHAN MYBURG
Dit doen enige musiekliefhebber se hart goed om te weet daar is geleenthede waar meer as 300 000 mense jaarliks ‘n reeks konserte bywoon. Dié konserte is die Henry Wood Promenade Concerts presented by the BBC, alombekend as die BBC Proms.
Die BBC Proms word vanjaar van 14 Julie tot 9 September aangebied – agt weke met 76 konserte, lesings, werksessies, gesinsuitstappies en natuurlik die beroemde Last Night of the Proms in Londen se Royal Albert Hall.
In 2014 was die gemiddelde bywoning van die aandkonserte 88% – met sommige van die konserte in die Royal Albert Hall uitverkoop. Wat verder verblydend is, is dat 33 000 van die mense wat kaartjies gekoop het, dit vir die eerste keer gedoen het. En 9 400 kaartjies is deur mense jonger as 18 gekoop.
Kaartjies kos (Last Night uitgesluit) tussen R130 en R1 000 en ‘n seisoenkaartjie gaan jou sowat R3 200 uit die sak jaag. Van die 6 000 kaartjies per konsert word 1 400 (teen sowat R100 elk) uitgehou vir die “prommers”, mense wat bereid is om tou te staan vir dié kaartjies wat hulle staanplek in die boonste balkonne van die Royal Albert Hall bied – met die beste akoestiek in die huis.
Die BBC Proms word bemark as die wêreld se grootste musiekfees met dié onderskeiding dat dit die langste van alle soortgelyke feeste aangebied word.
Die eerste Proms-konsert is in 1895 aangebied en was die geesteskind van die impresario Robert Newman. Sy oogmerk met die konserte was “om die publiek stelselmatig in die wêreld van musiek in te lei: Aanvanklik die gewilde soort musiek en dan moet die standaard gelig word om ʼn gehoor te ontwikkel vir klassieke en moderne musiek.”
In dieselfde jaar is Henry Wood aangestel as die eerste dirigent van die eerste Proms-seisoen.
Newman en Wood het in die eerste seisoen al ʼn tradisie gevestig van Wagner op Maandae en Beethoven op Vrydae. Hulle het gebruik gemaak van jong, talentvolle soliste en toegewyde orkeslede. Teen 1920 het Wood die musiek van eietydse komponiste soos Richard Strauss, Claude Debussy, Sergei Rachmaninoff, Maurice Ravel en Ralph Vaughan Williams op sy program gehad.
In 1927 het die BBC tot stand gekom met die leuse om in te lig, op te voed en te vermaak, en met die totstandkoming van die BBC Simfonieorkes in 1930 het hy die Proms oorgeneem. Sedert 1941 word die Proms in die Royal Albert Hall aangebied.
Die Last Night of the Proms is ‘n geleentheid met heelwat gehoordeelname. Vlaggies word gewuif en daar is spontane samesang. Die waai van vlaggies (meestal die Union Jack) het ná die koms van TV gewild geword en sir Malcom Sargent, die hoofdirigent van 1947 tot 1967, het die naoorlogse moraal ‘n hupstoot gegee deur die waai van vlaggies aan te moedig.
Die aand word gewoonlik afgesluit met ‘n tradisionele sekwens wat begin met Edward Elgar se Pomp and Circumstance March no. 1 waartydens Land of Hope and Glory deur die gehoor gesing word. Daarna volg Wood se Fantasia on British Sea-Songs waartydens die prommers Thomas Arne se Rule, Britannia uit volle bors sing. En as Wood se Fantasia nie volledig op die program is nie, is Rule, Britannia minstens daar. Daarna volg Hubert Parry se Jerusalem gevolg deur die Britse volkslied.
Die program vir vanjaar se BBC Proms is by www.bbc.co.uk/proms beskikbaar. Hou in gedagte dat jy aanlyn na die Proms by www.bbc.co.uk. kan luister