Vanjaar was dit die eerste keer in die meer as honderd jaar wat die fees bestaan dat ’n Amerikaner vir ’n produksie op Bayreuth verantwoordelik was
Deur JOHAN MYBURG
Die Bayreuth-fees, wat jaarliks in die Duitse somer aangebied word, is meer as net ’n musiekfees. Vir menige Wagnerentoesias is dit ook die einde van ’n pelgrimstog. Die Bayreuther Festspiele, soos dit in Duits bekend staan, is immers die fees wat Richard Wagner (1813–1883) eiehandig tot stand gebring het om sy eie operas – spesifiek die monumentale Der Ring des Nibelungen en Parsifal – opgevoer te kry.
Vir die doel het Wagner die teater in Bayreuth onder meer so ontwerp dat die lywige orkesbesetting netjies kan inpas. Die Bayreuth-teater is in 1876 met ’n opvoering van Das Rheingold geopen. Na Wagner se dood het sy weduwee, Cosima, die beheer van die teater en fees oorgeneem. In 1906 het Wagner se seun, Siegfried, die leisels oorgeneem en na sy dood in 1930 sy vrou, Winifred, wat ’n goeie verhouding met Hitler gehad het. Na die Tweede Wereldoorlog het Winifred se twee seuns, Wolfgang en Wieland, beheer van die fees oorgeneem. Na heelwat twiste binne die uitgebreide Wagner-familie het Wolfgang se twee dogters, Eva Wagner- Pasquier en Katharina Wagner, die leisels oorgeneem en deesdae is laasgenoemde die feesdirekteur. Die dirigent Christian Thielemann is as hoofadviseur en ook musiekdirekteur van die fees aangewys.
Vanjaar was dit die eerste keer in die meer as honderd jaar wat die fees bestaan dat ’n Amerikaner vir ’n produksie op Bayreuth verantwoordelik was. Die 39-jarige Yuval Sharon was vanjaar die regisseur van Lohengrin, die opera wat in 1850 geskryf is. Sharon se werk as operaregisseur is al as vernuftig, virtuoos, skouspelagtig en verbysterend beskryf. Produksies waarvoor hy reeds verantwoordelik was, is onder meer Peter Eotvos se Three Sisters in Wene se Staatsoper, Wagner se Die Walküre en John Adams se Doctor Atomic in Karlsruhe en Claude Debussy se Pelléas et Mélisande in Cleveland. Oor sy Bayreuth-debuut het Sharon, gebore in Chicago van Israelse ouers, gese: “Die geleentheid om tot die tradisie van die fees by te dra, is ’n groter eer as enige nasionale of godsdienstige bakens wat versit is.
LEES OOK: Klassieke klanke: Bedřich Smetana
Dit is wonderlik om te sien hoe kunstenaars van regoor die wereld saamwerk in ’n teater waar eens Duitse waardes, bo enigiets anders, geseevier het, en hoe die kunstenaars uitdrukking gee aan die werk van ’n komponis wat die genre van opera getransformeer het.” Roberto Alagna, wat die naamrol sou sing, het ’n maand of so voor die fees onttrek as gevolg van ’n te vol program en te min tyd vir voorbereiding vir die rol. Hy is deur die Poolse tenoor Piotr Beczała vervang, wat die Lohengrin-rol in 2016 in Dresden teenoor Anna Netrebko as Elsa vertolk het. Die rol van Elsa von Brabant in die Bayreuth-produksie is deur Anja Harteros en die van Ortrud deur Waltraud Meier vertolk.
In Sharon se feministies-gekleurde voorstelling word Ortrud, tradisioneel gesien as boos, iets van ’n vryheidsvegter wat Elsa bevry terwyl die mense van Brabant soos motte die lig van die sjarmante, dog korrupte, Lohengrin na hul dood volg. Saam met Lohengrin was die operas Parsifal, Tristan und Isolde, Die Meistersinger von Nürnberg, Die Walküre en Der fliegende Holländer ook op vanjaar se Bayreuth-program. Intussen is aangekondig dat Tannhaüser met Tobias Kratzer as regisseur en Valery Gergiev as dirigent volgende jaar se Bayreuth- fees, die 108ste fees, sal open. Die opera is in 1891 die eerste keer in Bayreuth aangebied en die laaste aanbieding was in 2011.