Hoekom is dit so moeilik om ongesonde gewoontes te laat staan? vra Zerelda Esterhuizen
Zerelda Esterhuizen
As daar nou iemand is wat verstaan wat dit is om na die slegte stemmetjie vs die goeie stemmetjie in jou kop te luister, is dit ek. Ek hou van eet en glo my ek eet veel eerder ‘n lekker stuk sjokoladekoek as ’n stuk seldery. Dit is net nie dieselfde nie.
En as my alarm Saterdagoggende vir ‘n Parkrun afgaan, is dit vir my ongelooflik moeilik om op te staan, my tekkies aan te trek en deur die veld te gaan strompel terwyl ek my heerlike warm bed visualiseer.
Dis asof slegte gewoontes, soos om verkeerd te eet, te veel te eet of nie te oefen nie, net soveel lekkerder is.
Teri Goetz is ‘n Amerikaanse lewenstylgids, motiveringspreker en skrywer. Sy sê as jy al voor ‘n yskas gestaan het as jy nie honger is nie, moet jy nie skuldig voel nie, want die meeste mense doen dit. “Hierdie ongesonde gewoontes word so dikwels herhaal dat dit ‘n gewoonte word, selfs al weet ons van beter. Die geheim is om hierdie gewoontes te verander sodat gesonde keuses later ‘n gewoonte word.”
Sy sê die meeste ongesonde gewoontes word gedoen in reaksie op stres: Te veel werk (of werk wat jy haat), verlies, kommer. Die soort stres wat ‘n mens kan lamlê. “Ons probeer vir die stres kompenseer deur ongesonde gedrag te beoefen.”
Dr ST Potgieter, ‘n sielkundige van Kaapstad, sê ‘n gewoonte is
iets wat deel van jou brein se bedrading vorm – met ander woorde jou brein word in ‘n sekere patroon geprogrammeer.
“Dis moeilik om hierdie patroon te verbreek en te verander. Dis ‘n komplekse proses wat wetenskaplikes nog nie ten volle verstaan nie. Gewoonlik word ‘n patroon deur herhaling in die brein gevestig. Gewoontes wat vir ‘n persoon lekker is (maar wel ook skadelik kan wees), skei ‘n goedvoelhormoon, naamlik dopamine, af. En dan sal ‘n mens neig om die aktiwiteit weer en weer te doen, want jy wil die effek herbeleef. Dit raak dan moeilik om die siklus te breek.”
ST sê moet verskillende tegnieke gebruik om ‘n slegte gewoonte te breek. “Vul byvoorbeeld die leemte wat ontstaan met ‘n positiewe aspek. Kry vir jou ‘n ondersteuningsgroep wat jou kan help (soos die AA vir alkoholiste) – dit kan ook ‘n groep van vriende en familie wees, vermy versoekings (bly weg van plekke, mense en aktiwiteite wat jou in versoeking kan stel), neem ‘n besluit en stel jouself geestelik en sielkundig daarop in.
“Beloon jou vir elke klein stap van oorwinning en onthou volharding elke dag is nodig. Doen kennis van die negatiewe gevolge van jou slegte gewoonte op, soms is dit nodig om professionele hulp in te kry.”
Teri gee ‘n paar stappe om ongesonde gewoontes te laat staan:
- Identifiseer die gewoontes wat jy wil verander. Maak ‘n lys van dinge wat jy wil verander soos as jy te min oefen of te veel ongesonde kos eet.
- Kyk na die gevolge van hierdie gewoonte. Verlig dit regtig jou stres as jy ongesond eet of te veel drink? En hoe laat dit jou later voel? Weeg die positiewe teen die negatiewe op.
- Gebruik jou gesonde verstand, watter goeie gewoonte kan dieselfde effek vir jou gee? Vervang die slegte gewoonte met iets goeds. As jy byvoorbeeld altyd twee keer vir jou opskep, wag vyf minute om te kyk of jy regtig nog honger is. As jy nog honger is, skep dalk net ‘n gesonde groente in. Of haal diep asem (tel tot vier) en blaas stadig uit (tel tot agt). Fokus op jou asemhaling, doen dit vier keer en kyk hoe jy voel.
- Verwyder die snellers wat jou tot ongesonde optrede laat oorgaan. As ‘n sigaret rook as jy kuier sorg dat daar niks in die huis is nie. As jy te veel skyfies eet, moenie weer skyfies koop nie. As sekere mense snellers is, kyk wie regtig positief tot jou lewe bydra en wie nie.
- Visualiseer die verandering in jou lewe. Sien jouself in daai denim wat al jare in jou kas hang, sien jouself waar jy mooi naels het (wat jy nie opkou nie), sien jouself met ‘n georganiseerde huis (as jy ? opgaarder is).
- As jy geneig is om jouself af te breek, hou op lelike goed van jouself sê: In plaas van “Ek is lelik en dik” sê liewer “Ek word al hoe gesonder”.
- Onthou Rome is nie in een dag gebou nie. Klein treetjies sal jou by jou mikpunt uitkry. As jy byvoorbeeld een aand nie kan gaan draf nie, trap net ‘n kwartier op ‘n oefenfiets. Onthou, niemand is perfek nie en soms gaan jy misluk. Almal doen dit een of ander tyd. Gaan net weer aan.
BRONNE EN KONTAKTE:
Dr ST Potgieter: 021 949 5007,[email protected] of besoek www.pitkos.co.za
Teri Goetz: www.terigoetz.com