Wie sou 20 jaar gelede kon dink dat Jean-Michel Basquiat se werk só ’n verbluffende prys sou kon haal?
Deur JOHAN MYBURG
As jy genot put uit die asemrowende pryse wat kuns op veilings haal, is jou pret voorlopig nog veilig. Dié opwaartse kurwe kan (soos dit tans lyk) nog ’n hele ruk duur en ’n mens behoort in die toekoms ook nog meer rekords te sien spat.
In Mei is ’n nuwe rekord byvoorbeeld opgestel toe ’n ongetitelde skildery in olieslik en spuitverf op doek van die Amerikaanse kunstenaar Jean-Michel Basquiat vir sowat R1,4 miljard ($110,5 miljoen) op ’n veiling verkoop is. Dit was die eerste kunswerk wat ná 1980 gemaak is wat deur die $100 miljoen-merk gebreek het én dit was die hoogste prys wat nog deur ’n Amerikaner vir ’n kunswerk betaal is – selfs meer as vir ’n werk van Andy Warhol. Met dié jongste veiling het Basquiat by die liga van die grotes soos Francis Bacon en Pablo Picasso aangesluit. Die Basquiat-skildery is in New York op ’n veiling van Sotheby’s verkoop. Volgens die veilingkatalogus was dié werk sedert 1984 in ’n private versameling. Die skildery is toe vir $19 000 aangekoop.
Dié skildery is egter nie die wêreld se duurste kunswerk nie. Dié eer kom Picasso toe. In 2015 is die O-weergawe van Les femmes d’Alger (Die vroue van Algiers) van 1955 ook in New York, maar op ’n veiling van Christie’s, vir $179 miljoen verkoop. ’n Paar maande later het Amedeo Modigliani se Nu couché (Slapende naakfiguur) van 1917/’18 met $170,4 miljoen ’n kortkop van die Picasso gekom. Maar dié skilderye wat rekordpryse op veilings haal, is nie noodwendig die wêreld se waardevolste skilderye nie. Daar is talle kunswerke wat nooit op veilings beland nie en waarvan die waarde onberekenbaar is. Dink maar aan Leonardo se Mona Lisa. Dit is geheel en al buite die kwessie om ’n prys aan dié skildery te koppel. Wat wel beskikbaar is, is die versekeringswaarde van dié skildery in die Louvre in Parys. Volgens die Guinness World Records was die versekerde waarde in 1962 sowat $100 miljoen. Volgens berekening moet dit nou meer as $800 miljoen wees.
LEES OOK: Kuns: Dumeli Feni
Wat maak ’n kunswerk waardevol? Daar is baie mense wat graag die antwoord op dié vraag sal wil weet en eweneens ook heelwat wat meen hulle weet. Wie sou 20 jaar gelede kon dink dat die vroeggestorwe Basquiat (1960–1988) se werk só ’n verbluffende prys sou kon haal? Duidelik was daar iemand wat genoeg waarde in die werk gesien het om destyds $19 000 daarvoor te betaal én om nou $110,5 miljoen daarvoor op te dok. Die 41-jarige Japanse entrepreneur en versamelaar Yusaku Maezawa wat dié Basquiat gekoop het, het ná die veiling op Instagram gesê die skildery het hom onmiddellik opgewonde gemaak. “Ek is gelukkig genoeg om aan te kondig dat my bod so pas op dié meesterstuk toegeslaan is,” het hy opgemerk.
Maezawa is die stigter van Zozotown, Japan se grootste aanlyn-mode-inkopiesentrum. Hy beplan om die skildery eers wêreldwyd te vertoon en daarna deel van die versameling in sy kontemporêre kunsstigting in Chiba in Japan te maak. “Ek hoop dit bring vir ander soveel vreugde soos wat dit vir my bring,” het Maezawa gesê oor dié skildery wat Basquiat op 21 gemaak het. Dié rubriek oor waardevolle kuns word volgende week met ’n paar wenke voortgesit, sou jy Suid-Afrikaanse kuns – wat dalk nog bekostigbaar is – wil aankoop.