Bartinney Wynlandgoed buite Stellenbosch stel nuwe wyne bekend
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s CLIFFORD ROBERTS
Bartinney Wynlandgoed in die Banhoekvallei buite Stellenbosch het onlangs hul premium Skyfall Cabernet Sauvignon 2012 en Hourglass Chardonnay 2015 by die indrukwekkende proelokaal, Tasting Shed, bekend gestel.
Die twee wyne is deel van die vlagskip-reeks en kom in klein hoeveelhede. Die druiwe wat vir die wyne gebruik is, kom uit uitgesoekte wingerde wat hoog teen die hellings geplant is.
Die wynmaker, Ronell Wiid, het aan gaste vertel dat beide wyne die ware weerspieëling van hul oesjare is. Die Skyfall Cabernet Sauvignon 2012 is afkomstig uit 18 jaar oue Cabernet Sauvignon wingerde, sowat 500m bo seespieël.
Cabernet Sauvignon beslaan tot 70% van die plaas se wingerde.
Die Hourglass Chardonnay 2015 kom uit ’n 27 jaar oue Chardonnay wingerd wat tussen 350m en 550m bo seespieël groei.
Die wyn het sy naam te danke aan nuwe Chardonnay aanplantings wat natuurlik in die vorm van ’n uurglas groei.
Die twee nuwe vrystellings sluit by die Bartinney Chardonnay, Cabernet Sauvignon, Sauvignon Blanc en Elevage aan.
Die plaas behoort aan Michael en Rose Jordaan, maar is sedert 1953 al vir vier geslagte in die Jordaan-familie. Die plaas is koolstof-neutraal, pesbeheervry en ’n WWF Bewaringskampioen en het ook vier luukse wingerd-gaste-akkommodasie tot sy indrukwekkende aanbieding gevoeg.