Barcelona word gereken as die klassieke voorbeeld van pop en opera wat ontmoet sonder om te vergly – elke sanger bly getrou aan sy en haar genre
Deur JOHAN MYBURG
Hoewel Freddie Mercury (toe nog Farrokh Bulsara) tien jaar oud was toe Montserrat Caballe haar professionele debuut in 1956 as Mimì in Puccini se La bohème gemaak het, was dit sy opname van Barcelona saam met haar wat dié Spaanse sopraan aan ‘n wyer gehoor bekendgestel het.
Barcelona was onmiddellik wêreldwyd ‘n treffer toe dit in 1987 uitgereik is, en met die heruitreiking daarvan om saam te val met die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona het dit die tweede plek op die Britse trefferslys gehaal.
In 1986, die jaar nadat die 53-jarige Caballe haar laaste Tosca saam met Luciano Pavarotti as Cavaradossi in die Met in New York gesing het, het Mercury, hoofsanger van die Britse rockgroep Queen, in ‘n onderhoud op Spaanse televisie laat val dat hy vir Caballe bewonder en dit sy droom is om haar te ontmoet.
Caballe het van die onderhoud te hore gekom en kort daarna het Mercury en die vervaardiger Mike Moran ‘n uitnodiging gekry om haar in Barcelona, waar sy woon, te ontmoet. Caballe en Mercury het vriende geword en toe Caballe gevra word om met voorstelle te kom vir ‘n lied om die komende Olimpiese Spele in die stad mee te vier, het sy Mercury voorgestel.
Mercury het Caballe in Covent Garden ontmoet, waar hulle idees uitgeruil het, hy improviserend voor die klavier. Mercury het Barcelona saam met Moran geskryf en in 1987 saam met Caballe opgeneem.
Barcelona word gereken as die klassieke voorbeeld van pop en opera wat ontmoet sonder om te vergly – elke sanger bly getrou aan sy en haar genre. Mercury artikuleer elke woord terwyl Caballe op tonaliteit en stembeheer fokus. Wat Mercury veral van Caballe beïndruk het, was haar vermoë om haar stemintensiteit te beheer. Waar hy byvoorbeeld tydens opnames weg moes staan van die mikrofoon om die intensiteit van sy stem te beheer, het sy nie beweeg nie. In operakringe is dikwels na haar “engelagtige pianissimo” verwys.
Mercury is in 1991 dood en Caballe het geweier om dit saam met enigiemand anders uit te voer. Barcelona is gevolglik nie in 1992 tydens die openingsgeleentheid van die Olimpiese Spele gesing nie. Later het sy dit wel saam met ‘n opname van Mercury se stem gesing.
Caballe, gebore in 1933, het haar groot deurbraak gekry toe sy in 1965 op 33 vir Marilyn Horne in ‘n konsertweergawe van Donizetti se Lucrezia Borgia in New York se Carnegie Hall moes instaan. Caballe het ‘n staande applous van 25 minute gekry vir dié vertolking wat haar roem in die operawêreld besorg het. Dieselfde jaar het sy haar debuut by Glyndebourne gemaak as die Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier en as grafin Almaviva in Mozart se Le nozze di Figaro.
Caballe het bekendheid verwerf vir haar vermoë om arias besonder vinnig onder die knie te kry – ‘n deug wat blyk uit haar omvangryke repertorium. Vir die Carnegie Hall-debuut het sy byvoorbeeld ‘n maand gehad om dié bel canto-rol – wat sy in daardie stadium nog nie voorheen gesing het nie – te bemeester.
‘n Hoogtepunt in haar loopbaan was haar vertolking van die titelrol in Norma van Bellini teenoor Jon Vickers in 1974.
Toe haar sangloopbaan tot ‘n einde gekom het, het sy haar aan liefdadigheidswerk toegewy, onder meer as ‘n welwillendheidsambassadeur vir Unesco, wat ‘n stigting vir behoeftige kinders in Barcelona op die been gebring het.