Balance, die prettige wynreeks van Overhex Wines, het ’n nuwe aanlyn-speletjie bekendgestel wat pret én omgee vir die omgewing vervolmaak
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die speletjie is op ʼn heel ongewone manier bekendgestel.’n Reuse sirkusmat het gaste ingewag en nadat elkeen ’n glasie Balance-wyn kon geniet, het die pret begin.
Die hele middag het op balans gefokus en voor die speletjie onthul is, moes gaste eers hul litte losmaak en hul balans vervolmaak. Lionel Chanar van Sisonke Sirkus het almal in ’n sirkel laat staan en om die beurt laat vorentoe en agtertoe leun om te illustreer hoe ons mekaar kan balanseer. Toe is gaste in twee’s opgedeel om verskeie balans-toertjies te probeer, voor almal soos ware sirkus-gimnaste op mekaar se bobene balanseer het.
Caroline van Schalkwyk van Balance Wines het toe verduidelik: “Deur Hank die olifant te help om sy balans op ’n eenwieler te hou, terwyl hy terugreis na sy woestyn-tuiste, kan spelers Balance Bucks versamel, wat aflosbaar is wanneer Balance-wyne aanlyn gekoop word.”
Balance Bucks kan na elke vlak in die speletjie afgelos word. Vir Balance Bucks wat afgelos word nadat die finale vlak van die speletjie voltooi is, word ’n donasie namens jou gemaak ter ondersteuning van die Elephant Human Relations Aid (EHRA) PEACE-projek.
Hierdie opvoedkundige inisiatief bevorder die vreedsame kohabitasie van plaaslike gemeenskappe en woestyn-aangepaste olifante in Suider-Afrika.
Die Balance-speletjie is toeganklik deur slim-toestelle en rekenaars en toegang kan direk aanlyn verkry word by https://balance.wine sonder om die toepassing of speletjie af te laai. Die speletjie is ook beskikbaar deur ’n QR-kode op Balance wynbottels.
Spelers moet drie vlakke voltooi, waarin Hank moet koes en spring om verskeie hindernisse te oorkom en onderweg punte te kry deur vrugte te versamel, wat die ryk geur-spektrum in Balance-wyne verteenwoordig. Afslag-koepons in die vorm van Balance Bucks van R20, R40 tot R60 onderskeidelik, kan gewen word soos jy elke vlak voltooi, maar hang af van jou puntetelling. Die finale vlak eindig waar Hank deur die woestyn reis, om weer by die trop woestyn-olifante aan te sluit.