Backsberg, ’n wynlandgoed tussen Stellenbosch en die Paarl, het sy eerste Pinotage Rosé bekend gestel
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die “geboorte” is Vrydagmiddag gevier met ’n rustige onthaal onder die plaas-restaurant se eikebome en sonsambrele.
Pinotage is ’n druifsoort wat in 1922 in Suid-Afrika ontwikkel is en nou regoor die wêreld verbou word. Alle druiwe – wit of rooi – se sap is wit en dis die dopkontak wat vir die kleur verantwoordelik is. Die kenmerkende pienkkleur van rosé-wyn word veroorsaak deur die doppe van die klaar geparsde rooi druiwe, korter op die sap te laat lê.
Dit is nie die eerste rosé wat Backsberg maak nie, maar wel die eerste van hierdie druifsoort.
Die Backsberg Pinotage Rosé 2017 is ’n droër-styl wyn wat gekenmerk word deur kersie- en aarbeigeure, met onderliggende ment. Die wynmaker, Alicia, het aan gaste vertel dat die wyn ’n goeie pasmaat is vir seekos en slaaie, asook ligte etes soos souttert, kaas en tapas.
Backsberg is al sedert 1916 in die Back-gesin se besit. Die kelder is in 1970 vir die publiek oopgestel.
Die Backsberg Pinotage Rosé 2017 verkoop vir ongeveer R53 per bottel en ’n hoeveelheid is vir uitvoer beskikbaar gestel. Die proekamer is oop Maandag tot Vrydag van 08:30 tot 17:00, Saterdag 09:30 tot 16:30 en Sondag 10:30 tot 16:30. Die restaurant is van Woensdag tot Sondag, 09:30 tot 15:30, oop.
Vir meer inligting, besoek www.backsberg.co.za.