Besoekers aan Babylonstoren tussen die Paarl en Franschhoek, kan nou die nuwe glasboks wynproe-ervaring geniet.
Maryke Roberts
Die treffende glas- en- staalstruktuur waarvan die binnenshuise dekor deur Tonic Design behartig is, is ‘n modern skakel tussen die twee ou Kaaps-Hollandse vleuels van die wynkelder en ‘n perfekte refleksie van die plaas se filofosie om beide erfenis en innovasie te eer.
Gaste kan eers ‘n toer van die wingerde onderneem voor hulle wynproe en iets ligs in die proelokaal eet. Dit bied ‘n pragtige uitsig oor die wingerde.
Anelle van Tonder, verkoops- en bemarkingsbestuurder van die proelokaal by Babylonstoren het gaste onlangs op ‘n toer geneem om hulle oor die plaas se geskiedenis te vertel, die wingerde te wys, deur die kelder en vatkelder en olyfolie-produksie te neem en die lekker tapasborde in die proelokaal te laat proe. Keldermeester Charl Coetzee het ‘n wynproe aangebied wat ook die wen- Méthode Cap Classique (MCC), Sprankel ingesluit het en gaste meer vertel van die verskillende opsies wat aan besoekers beskikbaar is.
Daar is ook ‘n oulike verkoopsarea met oorspronklike plaas-implemente en verpakkingskratte wat die gevoel van die plaas se eeue oue geskiedenis weerspieël waar onder meer olyfolie en wyn gekoop kan word.
Die Babylonstoren wynproesentrum is daagliks van 10:00 tot 18:00 (somer) en 10:00 tot 17:00 (winter) oop en die uurlange wyntoer kos R50 en word elke uur tussen 11:00 en 15:00 aangebied. Die prys sluit ‘n wynproe in.
Anelle van Tonder, verkoops- en bemarkingsbestuurder van die proelokaal, en keldermeester Charl Coetzee.
Anelle van Tonder, verkoops- en bemarkingsbestuurder van die proelokaal, neem gaste op die toer deur die wingerde.
Die verouderingskelder waar die wyn in eikehoutvate verouder word.
Gaste kan hier wynproe en tapasborde geniet. In die somer word die blindings opgetrek en bied dit onbelemmerde uitsige oor die wingerde en berge.
SOURCES
Clifford Roberts