Dié orgaan is belangriker is as wat jy dink
CHRISTA SWANEPOEL
“Die wit van my oë was maar altyd gelerig, maar omdat ek nie siek gevoel het nie, het ek gedink dit is maar hoe my oë lyk,” sê Antoinette Dinkelmann, wat tans in Illinois, Amerika, woon.
Sy wou in ’n stadium oortollige gewig afskud en het ’n beheerde dieet gevolg wat relatief hoog aan vet was met min kalorieë en koolhidrate. “Ek het dit ’n rukkie gevolg toe ek begin sleg voel en my lewer geswel gevoel het. Ek is toe dokter toe. “Hy het gevra dat ek 24 uur vas en het daarna ’n bloedtoets gedoen. Die uitslag: verhoogde bilirubien (galpigmente), wat ’n aanduider van Gilbertsindroom is. As ’n mens vas, gaan jou bilirubienvlakke op. “Dis nou al jare later en ek moet altyd let op wat ek eet. Ek eet feitlik net groente en proteïene en geen koolhidrate en suiwel nie en amper nooit vrugte nie.
Vet plaas ’n las op die lewer en as jy die siekte het, is jou lewer reeds onder druk. Ek neem daaglikse aanvullings van sink en mangaan asook aanvullings wat my lewer skoonmaak en opbou. Ek het agterna besef dat my pa altyd van die simptome gekla het en my een broer ook daarmee sukkel.”
Lewerkanker
Baie mense toon geen tekens in die beginfase van lewerkanker nie. As simptome wel voorkom, sluit dit in: gewigsverlies wat nie met die dieet verband hou nie en gebrek aan eetlus.
Risiko’s sluit in:
- Geslag – meer mans as vroue kry lewerkanker.
- Ouderdom – In Noord-Amerika, Europa en Australië kom lewerkanker die meeste onder ouer mense voor, terwyl dit in ontwikkelende lande soos Asië en Afrika onder jonger mense – tussen 20 en 50 jaar – voorkom.
- Chroniese infeksie met hepatitis B of hepatitis C selfs al is daar nie sirrose teenwoordig nie.
- Sirrose – die lewer verhard en die kans om kanker te ontwikkel, verhoog.
- Sekere oorgeërfde lewersiektes soos hemochromatose (’n siekte wat maak dat die lewer te veel yster stoor) en Wilson-siekte.
- Diabetes – mense met hierdie bloedsuikerprobleem se kanse is groter om lewerkanker te ontwikkel.
- Nie-alkoholiese vetterige lewersiekte – ’n ophoping van vet in die lewer.
- Blootstelling aan aflatoksien, ’n giftige stof wat vervaardig word in die spore van die fungus Aspergillus Flavus, wat grondbone aantas.
- Vetsug – ’n ongesonde liggaamsmassa- indeks (LMI).
- Oormatige alkoholgebruik.
Bron: WebMD, Kansa
Pas jou lewer op
Die lewer is naas die vel die grootste orgaan van die liggaam en sit net onder die ribbekas aan jou regterkant. Dit filtreer chemikalieë en alkohol uit die bloed, reguleer jou hormone en bloedsuikervlakke, stoor energie van die voedingstowwe wat jy inneem en vervaardig bloedproteïen, gal en verskeie ensieme wat die liggaam nodig het. Dit is hieruit duidelik dat dit belangrik is om na jou lewer om te sien en dit gaan hoofsaaklik daaroor om sekere dinge te vermy.
Moenie te veel alkohol gebruik nie Alkohol kan lewerselle beskadig, wat tot swelling of letsels lei wat in sirrose kan omsit, wat dodelik kan wees. Hou liefs by een drankie per dag as jy ’n vrou is en twee as jy ’n man is. (weens liggaamsgrootte).
Vermy medikasie of kombinasies van medikasie wat die lewer kan beskadig Cholesterolmedikasie en die pynstiller acetaminophen kan giftig vir die lewer wees as dit langdurig of te veel op ’n slag gebruik word. Dit kom in baie voorskrifpynpille en verkouemedisyne voor. Moet ook nooit medisyne saam met alkohol gebruik nie. Vind by jou dokter uit watter van die medisyne wat jy gebruik nie gelyktydig of saam met alkohol gebruik mag word nie. Volg ook altyd die dosisaanwysings noukeurig.
Volg ’n gesonde dieet en oefen gereeld ’n Toestand genaamd nie-alkoholiese vetterige lewersiekte (NAFLD) kan ook tot sirrose lei. Dit ontstaan weens oorgewig, diabetes of hoë vlakke van vet in die bloed. Dit kan voorkom word deur gewig af te skud, gereeld te oefen en ’n gebalanseerde dieet te volg.
Wees bewus van hepatitis Hepatitis is ’n virus wat die lewer kan ontsteek. Daar is verskillende soorte. Hepatitis A word deur water of kos oorgedra wat met bakterieë besmet is wat in ontlasting voorkom. Jy word gewoonlik self daarvan gesond. Hepatitis B en C word deur bloed en menslike vloeistowwe oorgedra. As dit nie behandel word nie, kan dit tot sirrose, lewerkanker en lewerversaking lei. Jy kan hepatitis A voorkom deur gereeld hande te was en plekke te vermy wat onhigiënies lyk. Om hepatitis B en C vry te spring, moet jy nie iemand anders se tandeborsel, skeermes of spuitnaalde gebruik nie. Gebruik ook altyd kondome.
Wat sê die dokters?
Gilbert-sindroom is ’n algemene matige lewertoestand waar die lewer bilirubien nie behoorlik kan prosesseer nie. Bilirubien ontstaan uit die afbreek van rooibloedselle. Dit gebeur wanneer daar ’n gebrek aan die ensiem Glucuronyl transferase is, wat die gevolg is van ’n gebrek aan sink en mangaan. Dit lei daartoe dat die Krebs-siklus in die liggaam nooit voltooi word nie. Dié siklus is die finale stap in die oksidasie van koolhidrate, vette en proteïene en voedingstowwe word nie in energie omgesit nie.
Die sindroom word veroorsaak deur ’n oorgeërfde geenmutasie. Jy word met Gilbert-sindroom gebore, maar dit kan, soos in Antoinette se geval, eers baie jare later gediagnoseer word wanneer jy vir ’n bloedtoets gaan en die verhoogde bilirubienvlakke uitgewys word. Antoinette se raad is om dokter toe te gaan as jou oë en vel ’n gelerige skynsel kry en jy ongemak op jou lewer ervaar. Eet genoeg kalorieë, maar vermy vet kosse soos botter, olies en vet aan jou vleis.
Simptome en snellers van Gilbert-sindroom
Behalwe dat jou oë en vel ’n geel skynsel kan hê, kan jy met tye tydens episodes met maagkrampe sukkel, moeg en pap voel en sukkel om te konsentreer. In die meeste gevalle is die sindroom nie waarneembaar nie.
As lyers eers bewus is daarvan, sal hulle agterkom dat daar sekere snellers is, soos dehidrasie, as hulle lank sonder kos bly, siek is, stres en hul maandstonde het.
Die meeste simptome verdwyn sonder behandeling.
Meer oor sirrose
Sirrose kom neer op die verdringing van normale liggaamsweefsel deur fibrose (littekenweefsel) veral met betrekking tot ’n leweraandoening wat deur gifstowwe of alkoholisme veroorsaak word. Die lewerselle droog uit en sterf af. Die lewer word hard en geel en die oppervlak vertoon grof. Later kan dit glad nie meer funksioneer nie en lewerversaking kom voor, wat noodlottig is.