Artritis hou met soveel onnodige pyn en ellende verband, want met ’n lewenstylverandering kan jy dit voorkom en verligting ervaar
CHRISTA SWANEPOEL
Soos mense ouer word, kom artritis toenemend voor en omdat dit tot bewegingsgestremdheid lei, plaas dit sosiaal sowel as ekonomies ’n swaar las op die samelewing. Só sê prof Hans Loots, deeltydse dosent by die departement sport en bewegingskunde by die Universiteit van Johannesburg.
In die VSA is daar byvoorbeeld 27 miljoen mense wat aan osteoartritis (OA) ly. Teen die ouderdom van 65 is 80% van daardie land se bevolking met dié siekte gediagnoseer en 60% hiervan sal oor pyn kla. Daar word gesê dat 20% van alle bejaardes noemenswaardige OA onder lede het. Prof Hans verduidelik wat presies die toestand behels.
HOE WERK GEWRIGTE?
Om OA te verstaan, moet ons weet hoe gewrigte werk. Die meeste van die gewrigte in die liggaam is vryelik beweegbare of sinoviale gewrigte. ’n Sinoviale gewrig word tipies aan die eindes van twee lang bene gevorm. Die twee oppervlaktes aan die eindes van die lang bene word deur ’n laag baie gladde kraakbeen bedek. Dan word die gewrig self deur ’n gewrigkapsel omring wat uit bindweefsel bestaan. Aan die binnekant van die kapsel kry ons die sinoviale membraan, wat vir die afskei van sinoviale vloeistof binne die gewrigkapsel verantwoordelik is. Hierdie vloeistof het hoofsaaklik drie funksies: smering van die gewrigoppervlakke, verspreiding van voedingstowwe en skokabsorpsie.
SIMPTOME
Die hoofsimptoom is pyn wat die beweging strem en met oorgebruik vererger. Dit kom ook in die nag of tydens rus voor. Daar is ook baie keer styfheid en krepitus kan voorkom – ’n kraakgeluid of rasperige gevoel veroorsaak deur been wat op been skuur. OA kom veral in gewigdraende gewrigte soos dié in die knieë, heupe en lae rug voor. Die hande en voete kan ook geaffekteer word. In die rug kan die vorming van osteofiete (’n uitsteeksel van been) op die senuwees knyp. OA kan ook tot die sogenaamde “water op die knie” lei.
WAT IS OSTEOARTHRITIS?
Daar is verskeie vorms van artritis, maar ons fokus op OA omdat dit die meeste voorkom – 80% van artritispasiënte. OA is egter nie net ’n enkele siekte nie, maar eerder die gevolg van ’n hele reeks afwykings wat tot strukturele of funksionele versaking van een of meer gewrigte lei. OA betrek nie net die gewrig nie, maar ook die omliggende spiere, die been in daardie area, die gewrig se ligamente, die gewrigkapsel en die sinovium, of sinoviale membraan.
Die gewrigte wat gewoonlik betrek word, is dié wat gewigdraend is, soos die knie en heupgewrigte. Dit kom ook dikwels in die hande voor.
OA word ook degeneratiewe gewrigsiekte genoem. Die stappe wat artritis gewoonlik volg, is die volgende: Die eerste tekens van die toestand is ’n opbreek en fibrillasie (veselrigheid) van die normale gladde oppervlakte van die gewrig kraakbeen. Soos die siekte vorder, gaan meer en meer van die kraakbeen verlore. Uiteindelik begin ons die volle dikte van die gewrigkraakbeen verloor en die ruimte tussen die twee gewrigeindes begin verklein.
Onder die gewrigkraakbeen is daar ander veranderinge wat in die been plaasvind. Die vorm van die gewrigkraakbeen word eintlik deur die vorm van hierdie been bepaal en dié deel van die been bepaal ook die sterkte van die gewrig. Daar is nou ’n reaksie in die beenplaat, wat tot verdere beskadiging van die kraakbeen lei.
Uiteindelik word die gewrigoppervlaktes vervorm en raak beweging in hierdie gewrig vir die pasiënt moeilik. Benige uitgroeisels of osteofiete begin ook nou op die buitekante van die gewrig verskyn.
In die kniegewrig verminder hulle die beweeglikheid nog verder en in die vingers sien ons hulle as verdikkings in die gewrigte.
WAT JY KAN DOEN
Die slegte nuus is dat skade aan kraakbeen nog nie herstel kan word na wat dit was nie. As die toestand te ver gevorder het, is ’n gewrigvervanging jou voorland. Soos met baie dinge is voorkoming in hierdie geval ook beter as genesing.
- Die eerste ding wat jy kan doen om OA te voorkom of te keer dat dit verder ontwikkel, is om jou lewenstyl te verander. Sit minder en beweeg meer. As jy middeljarig of ouer is, raadpleeg eers ’n biokinetikus en medikus, want jou probleem is dalk nie tot artritis beperk nie.
- Fokus op jou liggaamsgebruik. Let op na hoe jy sit, staan en loop.
- Verloor gewig indien nodig. _ As daar pyn is, kan ’n mens analgetika gebruik, wat ook die inflammasie sal aanspreek, maar ongelukkig het die middels baie newe-effekte.
- Gebruik aanvullings soos vitamien E en C asook kalsium, magnesium, boor, mangaan en selenium.
OORSAKE
Dit is belangrik om daarop te let dat gereelde deelname aan oefening nie tot OA in normale gewrigte lei nie. Daarom kan die vrees vir die toestand nie as verskoning gebruik word om nie te oefen nie! Daar word tussen primêre en sekondêre OA onderskei. Primêre OA word deur toenemende ouderdom veroorsaak. Soos ’n mens ouer word, verminder die proteoglikaaninhoud van die gewrigkraakbeen en daarmee saam die waterinhoud, wat die kraakbeen dan minder weerstandbiedend maak teen die stampe en stote wat die gewrig ervaar en dit kan dan makliker beskadig word. Sekondêre OA is te wyte aan:
- Aangebore afwykings in die gewrig.
- Abnormale anatomie soos verskil in beenlengte.
- Genetiese faktore.
- Endokriene faktore, waar byvoorbeeld mense met suikersiekte meer geneig is om OA te ontwikkel.
- Inflammasie, hoewel dit in OA nie so sterk is nie, maar jig kan byvoorbeeld tot hierdie probleem lei.
- Vetsug, wat ’n te hoë las op sommige gewrigte plaas.
- Osteoporose.
- Beserings van die gewrig kan later tot OA lei, soos mense wat byvoorbeeld ligamente in hul knieë beseer het.
- Die werk wat jy doen. Boere, konstruksiewerkers en brandweermanne het ’n groter neiging om OA in hul heupgewrigte te kry. Navorsers reken swaar werkladings kan tot OA van die heup en kniegewrigte bydra.
- Infeksie in ’n gewrig.
- Gewrigonstabiliteit as gevolg van ligamente wat beskadig is of swakheid van spiere om die gewrig.
- Verkeerde liggaamsgebruik, wat tot swak gekoördineerde bewegings lei en gevolglik die gewrigte oorlaai. As jy byvoorbeeld voortdurend sit, kan jy OA in die heupe kry omdat die kop van die femur net op een plek in die gewrigholte druk en omdat dié deel nie “sirkulasie” kry nie, lei dit tot degenerasie van die kraakbeen in die area. Die kollageen in die gewrigkraakbeen kan makliker afgebreek word, wat die situasie vererger.
BEHANDEL DIT NATUURLIK
Miljoene mense wêreldwyd ly aan artritis. Die algemeenste vorm daarvan word deur normale slytasie van gewrigte en/ of skade aan die spiere en ligamente veroorsaak. Dit lei tot inflammasie, swelling, rooiheid, warmte, pyn en styfheid. Vroeë diagnose kan help om meer skade te voorkom en die regte behandeling sal verseker dat lyers ’n aktiewe en gemaklike lewe sal kan lei.
Arthro XPS, Arthrovite and Inflamoxin ™ is drie produkte van NRF Health, wat verligting vir styfheid en pyn in die gewrigte sal bring.
Beskikbaar by Dis-Chem en uitgesoekte apteke. Vir navrae bel NRF Health by 0800 005 744