Wat is die impak van hersaamgestelde gesinne op kinders? JB Roux vind uit
JB Roux
“Nadat ek en my tweejarige dogter, Tabitha, by Keith en sy seuns ingetrek het, het dit haar lank geneem om haar voete te vind. Sy het snags wakker geword en gebewe,” vertel Reinet*.
Aan die begin was dinge in die nuwe huishouding chaoties: Daar was skielik baie meer mense as waaraan sy gewoond was; daar was die hele tyd geraas en allerhande aktiwiteite. Tabitha was nie daaraan gewoond nie. Ons het haar na ’n kamer aan die verste end van die huis verskuif. Nadat ek haar saans gebad het, het ek ’n stil tydjie saam met haar in haar kamer deurgebring voordat ek haar in haar bed gesit het.
“Dit het gelyk asof dit baie help en sy het ná ’n rukkie weer deurgeslaap. Ek dink sy het die tyd wat ons vroeër saam deurgebring het, gemis – ek het ook.”
Wanneer ’n ouer met iemand anders as die biologiese pa of ma van sy of haar kinders trou of by so iemand intrek, is dit gewoonlik die kinders vir wie die aanpassing die grootste is. Die grootste “probleem” is egter nie dit waarmee hulle gekonfronteer word nie – soos ’n nuwe gesinsopset met nuwe gesinslede – maar dít wat hulle agterlaat: die kinders in so ’n “nuwe” gesin ervaar dikwels verlies wat soms onderskat word.
In haar boek, Blending Families, skryf Flicky Gildenhuys dat om verlies te oorkom en om te rou, ’n proses is wat die ouers én kinders in so ’n gesin moet deurmaak. Kinders word gekonfronteer met die verlies aan kontak met een van hul ouers en met hul uitgebreide familie soos grootouers, neefs en niggies.
Daar is ook die verlies aan familiegebruike, -tradisies en gesamentlike vakansies. Hulle moet dikwels die huis en skool waaraan hulle gewoond is, agterlaat, asook troeteldiere en die roetine wat deel van hul lewens was.
Flicky beveel aan dat die ouer wat steeds voltyds deel van ’n kind se lewe is, moet oplet of ’n kind verlies op een spesifieke voorwerp of herinnering fikseer, soos ’n speelding wat hy of sy met die verhuising moes prysgee. Dit is dalk die kind se manier om te sê dat hy of sy ook na ánder dinge terughunker. Dit het al gebeur dat ’n kind geweier het om die eetgerei in die “nuwe” huis te gebruik. Dit was haar manier om te probeer sê dat sy haar pa wat van die werk af huis toe gekom en die gesin wat saam aan dieselfde tafel geëet het, die meeste mis.
Kinders se ouderdom bepaal tot ’n groot mate hoe hulle verlies hanteer. Kleuters dui deur middel van hul slaap-, eet en toiletgewoontes aan dat hulle verlies moeilik verwerk. Hulle is ook meer geneig tot uitbarstings as voorheen. Kleuters is dikwels onvoorspelbaar, maar ’n ouer moet nogtans oplet na gedragsveranderinge wat langer as ’n paar dae duur.
Kleuters het behoefte aan ’n vasgestelde roetine, ’n vertroude omgewing en – baie belangrik – ’n ouer se verdraagsaamheid ten opsigte van tydelike veranderinge in hul gedragspatrone, soos verhoogde skeidingsangs, ’n toename in die gebruik van ’n fopspeen of bottel en ’n toename in probleme met toiletopvoeding of versteurde slaappatrone.
Ononderhandelbare grense en die aanmoediging van gesonde gewoontes is baie belangrik, eerder as om die aandag te vestig op die oorsaak van die gedragsprobleme.
Voorskoolse kinders rig dikwels allerhande lugkastele rondom hul lewens op en is geneig om oor hul verlede en/of toekoms te fantaseer. Hulle sal byvoorbeeld praat oor hoe dinge eendag sal terugkeer na hoe dit voorheen was. Hulle kan ook fisieke simptome ontwikkel soos bednatmaak en maagpyn of versteurde slaappatrone, of hulle kan weier om skool toe te gaan. Hulle kan aggressief raak, verhoogde skeidingsangs toon en teruggetrokke of lusteloos wees.
Jong kinders voel dikwels weerloos en magteloos, veral wanneer hulle blootgestel word aan verlies. Vir jong kinders is sulke gevoelens verwarrend en dit kan angstigheid veroorsaak. Hulle raak meer veeleisend en kwaad. Dit is nie noodwendig raadsaam om aan so ’n kind se vereistes toe te gee om haar só ’n gevoel van sekuriteit te gee nie: sulke toegewings kan nie op die lang termyn volgehou word nie. Help jou kind liewer om te verstaan dat ’n mens soms moet wag voor daar aan jou verwagtinge voldoen word.
Daar is ook goeie nuus: Geleenthede soos hierdie kan jou kind help om emsioneel te groei. Om verlies te ervaar, is ’n gesonde en noodsaaklike proses. Dit is nie raadsaam om jou kind heeltemal daarteen te probeer beskerm nie. Jou taak as ouer is om seker te maak dat jou kind die nodige ondersteuning het om verlies sinvol te verwerk.
Spesiale sorg moet geneem word as jou kind meer as een soort verlies ervaar of wanneer die verlies met trauma gepaardgaan; of wanneer jy self ook sukkel om vrede te maak met jou verlies.
As jou kind die gedragsafwykings hieronder toon, is dit raadsaam om professionele hulp te kry
1. Wanneer jou kind teruggetrokke is en nie aan speletjies of dag tot dag-aktiweiteite wil deelneem nie.
2. As jou kind die hele tyd geïrriteerd of aggressief is.
3. Daar is geen vordering in die aanleer van toiletgewoontes nie.
4. Langdurige versteurde slaappatrone.
5. Verlies aan belangstelling in kossoorte en speletjies wat sy voorheen baie geniet het.
6. Vrees om alleen te wees.
7. Wanneer die kind deur middel van speletjies verlies probeer “uitleef”.
8. Volgehoue ontkenning van die verlies wat hy of sy ervaar.
Groter kinders en hul verwerking daarvan
Kinders van ses tot nege jaar oud sal waarskynlik sukkel om skielike veranderinge te aanvaar en bly glo dat dinge sal terugkeer na hoe dit voorheen was.
Hulle sal dikwels uiting aan hul woede en hartseer gee deur na aandag te soek en ook deur grense te toets om seker te maak dat jy hulle steeds liefhet. Hulle kan ingedagte word en sukkel om te konsentreer of om te slaap.
Jou kinders het nodig om te weet dat jy in beheer is. Jy moet hulle help om ’n sinvolle manier te vind om aan hul gevoelens uiting te gee, soos deur kuns of fisieke aktiwiteite. Hulle moet weet dat hulle steeds geliefd is, al het die omstandighede verander. Oppas dat so ’n kind nie emosionele ondersteuning aan die ouer bied nie: Hy of sy voel dikwels dat dit die ouer is wat ondersteuning nodig het.
Kinders van nege tot twaalf jaar is baie bewus van wat ander mense, veral hul vriende, sal dink of sê van die veranderings in hul huislike lewens; hulle kan selfs skaam of verleë voel. Hulle gee baie keer uiting aan hul verlies deur swak skoolprestasies en fisieke simptome soos hoofpyn en maagpyn. Hulle voel dikwels verskeur tussen hul ouers en voel angstig oor een of albei van hul ouers se fisieke en emosionele behoeftes.
Herinner jou kinders aan alles wat nié verander het nie en help hulle om enige nuwe en uitdagende ervarings soos ’n avontuur te benader.
WEN 3 lesers kan ’n kopie van Flicky Gildenhuys se Blending Families (Penguin Random House) wen.