Armand Aucamp se kookboek, Armand Kook Kaal, is in Kaapstad by The Stack deur Lapa Uitgewers in samewerking met Du Toitskloof Wyne bekendgestel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Armand Aucamp is een van SA se gewilde akteurs en hy deel nou sy geheim met almal: hy eet kaal, gestroopte, heel kos soos Tim Noakes dit in sy Real Meal Revolution deel.
Armand het die aand vertel: “Ek is jammer ek het so baie klere aan!” waarna die gaste geskaterlag het, want op die voorblad van sy boek lyk dit of hy net ’n voorskoot dra.
Hy het meer van sy hele banting– en keto-reis vertel. “Ek is sommer senuweeagtig om vanaand my eie woorde te gebruik en nie van ’n teks af nie. En dis wat my opgewonde maak oor hierdie boek: dis my eie woorde, iets wat ek geskep het. Dis my reis met banting.
“Aanvanklik het ek gedink Prof. Noakes is mal. Ek het gesukkel om gewig te verloor en probeer toe in 2014 hierdie nuwe denkwyse. Oor ’n paar jaar het ek 100 laekoolhidraatresepte, wat banting– of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf.
“Ja, ek erken: my hele reis het met ydelheid begin. Ek wou nie gesond wees nie; ek wou skinny wees!”
Die kookboek is ’n stap-vir-stap boek en baie modern uitgelê. Pragfoto’s laat jou mond behoorlik water.
Prof. Tim Noakes het gesê: “Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat-kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!” Armand vertel dat dit vir hom ’n groot eer is dat prof. Noakes sy boek met hierdie mooi woorde vereer het.
Armand sê naas toneelspel het banting nou vir hom ’n passie geword.
By die funksie is verskeie wyn-en-kos stasies opgestel, waar gaste verskillende disse uit die resepteboek met ’n glas Du Toitskloof Wyne wat die dis die beste komplimenteer, kon geniet.
Die stasies het onder meer die Land’s End Sauvignon Blanc met kaastjips gepasmaat; die Pinotage Rosé met halloumi-vingers met artisjok-doopsous; die Land’s End Syrah met roomkaas- en- biltong-balletjies; die Dimension Red Blend met sampioensop; Quest Heroes Journey 1 met lamsvleis-koftas; Rooi muskadel met keto-klapperstafies en die Cape Ruby Port met sjokoladebruintjies.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.