Daar is min van ons wat nie een of ander tyd probleme met ons tande het nie. Het jy dalk een van die onderstaande probleme?
CHRISTA SWANEPOEL
EK BORSEL EN VLOS EN GEBRUIK ’N MONDSPOELMIDDEL, MAAR KRY STEEDS GEREELD GAATJIES IN MY TANDE. HOE KAN EK DIT VOORKOM?
As jy jou tande goed versorg en steeds gaatjies kry, moet jy dalk na jou tegniek en dieet kyk. Dit kan wees dat die suurvlak in jou speeksel te hoog is. Jy eet en drink dalk goed wat baie suur en suiker bevat, wat albei oorsake van tandbederf kan wees.
HOE LANK MOET ’N OUER ’N KIND SE TANDE BORSEL OF JOU KIND HELP OM SY TANDE TE BORSEL?
Dit neem baie jare voor ’n kind die fyn motoriese vaardighede ontwikkel wat nodig is om goed te kan borsel. Sommige tandartse beveel aan dat ouers hul kinders se tande borsel tot ’n kind sy eie naam netjies kan skryf. Ander meen ouers kan self besluit, maar dat kinders tussen ses en agt gewoonlik self hul tande voldoende kan versorg. ’n Stukkie fluoriedtandepasta so groot soos ’n ertjie kan op die tandeborsel gebruik word wanneer die kind in staat is om te spoeg.
WATTER VLOS IS DIE BESTE?
Sommige tandartse meen vlos sonder ’n waslagie sal meer plaak verwyder, maar jy kan enigeen gebruik wat vir jou werk.
WAT AS JY GAATJIES ONDER JOU DRAADJIES KRY?
Tande kan net so maklik gaatjies kry as jy draadjies dra as daarsonder. Jou mondhigiëne, insluitend gereelde borsel, spoel met fluoried, aanvullings en ’n deeglike skoonmaak met elke besoek aan die ortodontis, is noodsaaklik. Gewoonlik kan gaatjies herstel word terwyl draadjies op is, maar soms moet dit eers verwyder word.
WAT MAAK DAT TANDE VERKLEUR?
Vlekke kom voor wanneer donker kos (beet en bessies) en drank (kola en tee) of stowwe in sigaretrook aan plaak of tartar op die tandoppervlak vassit of poreuse emalje binnedring. Boonop verdun die emalje soos ’n mens ouer word, wat die gelerige tandbeen blootstel.
EK HET TWEE WEKE TERUG MY TAND LAAT STOP EN DIT BLY SENSITIEF. HOE LANK HOU DIT AAN?
Dit is nie vreemd dat ’n tand agt tot 12 weke ná ’n diep stopsel nog sensitief kan wees nie. As dit erger word, het jy dalk onherstelbare skade aan ’n senuwee wat geïnfekteer kan word. Dan het jy ’n wortelkanaalbehandeling nodig om die tand te red. Gaan terug na jou tandarts as die sensitiwiteit te lank aanhou.
IS HARDE EN TAAI LEKKERS SLEG VIR JOU TANDE?
Die hardheid en taaiheid kan tande breek, stopsels losmaak en krone breek. Die suikerinhoud maak dat bakterieë floreer en gaatjies veroorsaak. Die belangrikste: Lekkers veroorsaak suur in die speeksel, wat ’n teelaarde vir tandbederf vorm.
HET ’N GEKROONDE TAND SPESIALE SORG NODIG?
Al het die kroon self nie spesiale sorg nodig nie, beteken nie die tand onder dit het nie beskerming nodig om dit teen verrotting en tandvleissiekte te beskerm nie. Hou jou higiëneroetine vol, borsel steeds twee keer per dag en vlos een keer per dag – veral om die kroon waar die tand en tandvleis bymekaarkom.
MY TANDVLEIS TREK TERUG. KAN EK IETS DAARAAN DOEN?
Spreek jou tandarts dat hy dit kan evalueer en behandel. Die tandvleisweefsel is die enigste versperring tussen bakterieë en die bene wat jou tande ondersteun. Dit is dus belangrik dat dit beskerm word.
WORD TANDVLEISSIEKTE DEUR SOEN OORGEDRA?
Volgens navorsing deel paartjies mekaar se bakterieë. Dit maak net sin om met mondhigiëne vol te hou en jul tande elke drie tot ses maande te laat skoonmaak.
WAT KAN ’N MENS AAN TANDVLEISSIEKTE DOEN?
Die behandeling van tandvleissiekte begin met ’n tandartsondersoek. Hy sal bepaal watter soort tandvleissiekte jy het, of daar beenverlies is en of daar ’n ander sistemiese siekte is om in ag te neem. Hy kan jou na ’n tandvleisspesialis verwys en jou raad gee hoe om tuis daarna om te sien, wat borsel, vlos en mondspoelmiddel insluit.
HOEKOM BLOEI MY TANDVLIES ELKE KEER AS EK TANDE BORSEL?
Sal jy bekommerd wees as jou kopvel bloei elke keer as jy hare borsel? Bloeiende tandvleis is nie normaal nie. Dit is ’n teken van infeksie. Spreek so gou moontlik jou tandarts. Die meeste volwassenes het elke drie tot ses maande ’n deeglike skoonmaak nodig tesame met ’n streng tuissorgprogram. Daar is bewyse dat inflammasie van die tandvleis met hartsiektes verband hou.
WAT MAAK DAT TANDE VIR KOUE EN HITTE SENSITIEF RAAK?
Tandvleis wat terugtrek kan sensitiwiteit veroorsaak. Soos tandvleis van die tande af wegtrek, word die tandwortel ontbloot. Gebruik ’n tandepasta spesiaal vir sensitiewe tande en gebruik ’n fluoriedmondspoelmiddel. Jou tandarts sal die beste behandeling aanbeveel.
WAT IS PERIODONTITIS?
Dit is ’n meer gevorderde stadium van periodontale siektes waar die binnelaag van die tandvleis en been van die tand af wegtrek en sakkies vorm en die tandkasbeen vernietig word.
WORD PERIODONTALE SIEKTE MET ANDER GESONDHEIDSPROBLEME VERBIND?
Navorsers het ’n potensiële verband tussen tandvleissiekte en ander ernstige toestande ontbloot. In mense met gesonde immuunstelsels is mondbakterieë wat in die bloedstroom beland gewoonlik skadeloos. Onder sekere omstandighede kan hierdie mikro-organismes met gesondheidsprobleme soos beroerte en hartsiektes verband hou. Diabetes is nie net ’n risikofaktor vir tandvleissiekte nie, maar tandvleissiekte kan diabetes vererger.
WAT IS DIE OORSAAK VAN HALITOSE EN WAT KAN EK GEBRUIK OM DIT TE GENEES?
Halitose of slegte asem het verskeie oorsake. Kosgeure, tandvleissiekte, tandbederf, maag- en sinusprobleme en selfs sekere siektes kan halitose veroorsaak. Die kure wissel. Besoek eerstens jou tandarts om tandprobleme uit te skakel en die tande goed skoon te maak. Hy sal ook jou versorgingsroetine met jou deurgaan. Mondspoelmiddels kan help, maar die resultaat kan dalk net tydelik wees.
WAT IS DIE BESTE MANIER OM VAN BAKTERIEË OP DIE TONG, WAT SLEGTE REUK VEROORSAAK, ONTSLAE TE RAAK?
Daar is tongskrapers by die meeste apteke beskikbaar, maar jy kan jou tong met ’n klein borseltjie borsel.
HOE TAS DIT WAT EK EET MY ASEM AAN?
Al die kos wat jy eet, begin om reeds in jou mond afgebreek te word. Soos kos verteer en in jou bloedstroom opgeneem word, word dit uiteindelik na jou longe gedra en in jou asem geruik. As jy kos met sterk geure soos knoffel en uie eet, sal borsel en vlos die reuk net tydelik verberg. Die reuk sal nie heeltemal weggaan voor die kos nie weer uitgeskei is nie.
WATTER SIEKTES WORD MET SLEGTE ASEM VERBIND?
Die mediese toestand xerostomie (droë mond) kan ook slegte asem veroorsaak. Nog siektes wat halitose kan veroorsaak is: infeksie in die asemhalingskanaal, soos longontsteking en brongitis; chroniese sinusinfeksie; postnasale drup; diabetes; chroniese suurrefluks en lewer- en nierprobleme.
Bron: WebMD