Anton Smit vertel bietjie meer oor sy beeld Crouching Angel. Een van die beelde wat ‘n meer onbekende storie het, is die Crouching Angel.
Ek het ‘n ouer broer gehad wat my geleer het om te skubaduik. Ons het jare afgery Sodwana toe. Op pad na een van hierdie naweke het hy gesê “Ek gaan saam met ‘n walvishaai swem” … en hy het! Ek wonder hoe hy dit geweet het. Een Sondagoggend het ons met die boot uitgegaan. Daar was ‘n storm op see. Ons duik was vir 06:00 geboek. My broer het gesê: “Jy is die Christen, hoekom het jy nie geloof nie? Jy sal sien, alles sal regkom.” Die deinings was omtrent vier meter hoog. Toe ons by negemylrif kom waar ons wou duik, gaan lê die storm. Die son het deurgebreek en die golwe het gaan lê. Dit was soos Jesus wat die storm stilgemaak het. Ons het die wonderlikste duik gehad. Nie lank daarna nie is my broer aan kanker oorlede. Ek het besef hy moes toe al geweet het hy is siek. Hy wou gehad het die weer moes vir duik ter wille van my goed genoeg wees. Ek is so geseënd deur die Here met my broers en familie. In die Bybel is daar ‘n stuk waar die engel water roer dat dit genesende krag kan hê. Ek het met Crouching Angel ‘n engel gevisualiseer wat met ‘n ligstraal sy toon vat en die water roer dat die storm kan bedaar. ‘n Tipe van ‘n Boerse engel wat geroep is om die see vir ons stil te maak. Hierdie engelbeeld het ek met een opslag gesien en ter nagedagtenis aan my broer Ethan gemaak.
Engele is ‘n tema wat baie in my werk voorkom. Ek voel dit help nie jy glo in die Here as jy nie oor hom wil praat nie. As jy by ‘n uitstalling instap en jy sien ‘n beeld van my seun, sal jy vir die persoon langs jou tog sê: “Lionel Smit het die beeld gemaak.” Net so kan iemand tog nie sê: “Ek glo in die universe nie.” Want dan sou jy tog moes sê: Dis ‘n mooi skildery wat die universe gemaak het. Ek glo met my hele hart, siel en verstand dat Jesus Christus die outeur van die wêreld is. Daar is so baie dinge wat glad nie wetenskaplik verklaar kan word sonder die Skepper nie. Dink maar net hoe bly wolke in die lug. Dis omtrent tien miljoen liter water wat daar sweef. Daar is so baie dinge wat net onverklaarbaar is as jy nie glo nie. God skep aanhoudend. Hy laat reën gebeur.
Watter uitstalling bly jou by en hoekom?
Kunstenaars dink nie altyd aan uitstallings as ‘n loopbaan nie. Dit gebeur baie kere dat as jy ‘n uitstalling rég doen vertel dit volgens my mening ‘n storie. Ek onthou veral ‘n uitstalling, The poet’s tree rondom 1996. Ek het die hele Pretoria Millennium-galery getransformeer. Dié uitstalling bly my by, want dit was baie eksperimenteel. In die hoofgalery was ‘n hele kamer ‘n uitstalling met dooie bome as die tema. Die uitstalling het gegaan oor hoe bome figuratief kan word. Daar was bietjies-bietjies daarvan in die werk wat na binne reflekteer – hoe goed plantagtig word.
Die student en sy straf
“n Student is betrap dat hy die The Passover-beeld geverf het. Die Arts Association het Anton gekontak en gevra wat hy voorstel met die jong kunstenaar moet gebeur, aangesien dit ‘n skending van openbare werk is wat Anton aan die kunsvereniging geskenk het. Anton het voorgestel dat die skilder as ‘straf’ elke jaar die beeld ‘n nuwe baadjie aantrek (verf). Hy voel dis ongelooflik dat The Passover iemand so geïnspireer het om daaraan te wil verf.
Ek voel dis ‘n pragtige gebaar as iemand so baie van ‘n beeld hou dat hy sy kunstigheid probeer uitbeeld. Die beeld staan by die kunsvereniging in Macky-straat. Nadat hy dit gedoen het, het hy self ‘n bekende kunstenaar geword. Die stadsraad het (met goeie bedoelings) ‘n palissadeheining feitlik bo op die beeld opgerig. Dit was hul bydrae om die beeld te probeer beskerm.
Ek het die beeld gemaak toe tannie Bettie Cilliërs Barnard tagtig jaar oud geword het. My vrou, Roelien, en ek het daar gaan kuier. Ons is van die min mense wat sy in haar ateljee toegelaat het. Die beeld is vir die stad van Pretoria geskenk. Die student het ‘n paar keer die beeld ander patrone gaan verf. Toe die polisie my vra watter straf om hom te gee het ek gesê: “Vat nou jou tyd en verf dit mooi. Ek hou daarvan dat daar party ouens is wat sien die beeld is so treffend dat hul nie hul hande daarvan kan afhou nie. Hy het mooi weergawes gemaak. Dit seker ses of sewe keer geverf as deel van gemeenskapsdiens totdat hyself beroemd geword het.
Die jeug: Beeld van die geroeste jongman
Dis Joseph Conrad wat gesê het ‘n jongeling is soos ‘n skip wat aan die brand raak op see. Jy kry die vuur nie geblus nie. Jong manne het ‘n onversadigbare gees. Ek glo dat jongmense ‘n onblusbare gees moet hê, ander is hulle ‘n oumens wat in ‘n jong liggaam lewe. Dit is hoekom ek graag jonkwees leef en uitbeeld. ‘n Mens moet uitgaan, foute maak, val en seerkry, opstaan en dinge weer doen. Dit is baie beter as wat jy niks doen nie. Daar is ‘n spreekwoord wat lui: “In the end the sins of omission will rankle more than the sins of commission”. Dis eintlik maar net ‘n ander manier om oor die gelykenis van die tien talente te praat. Dit wat jy nie doen nie wat jy moes doen sal jou seerder maak as die goed wat jy verkeerd gedoen het.