Toe Anneli van Rooyen se ganse lewe op 23 Oktober 2007 onherroeplik verander is weens ‘n mislukte operasie om haar pynvry te maak, kon sy nie voorsien dat sy in 2015 weer ‘n trefferalbum sou uitreik en met ‘n moderne weergawe van haar reuse-treffer Ek lewe (in duet met Karen Zoid) ‘n iTunes-treffer sou hê nie! Maar dit het met haar 13de album Nogtans sal ek sing gebeur.
CHRISTIAAN J DE SWARDT
Tot 2014 is alles moontlik gedoen om die onomkeerbare skade te takel; tevergeefs!
Agter die skerms het die musiekvervaardiger en musikant Danny Antill en die mediaspesialis Lydia Winchester planne met Anneli gehad: ‘n nuwe album. “Hulle het my – sónder ‘n krieseltjie selfvertroue – in ‘n ateljee by ‘n mikrofoon gekry en ons hét ‘n album voltooi.”
Anneli en Danny ken mekaar al sedert 1983. Sy klavierspel word op talle van haar treffers gehoor; onder meer Neem my op vlerke. Sy sê om by Studio Village op te neem, was om ná ‘n jarelange afwesigheid by ‘n hawe in te vaar. Dit is die ou Decibel-ateljees, waar sy haar tydlose treffer Ek lewe en die grootste deel van haar musiek deur die jare opgeneem het.
“Daar was ‘n ‘ja’ in my gees, hoewel absoluut alles op die teendeel gewys het. Danny, wat kanker het en om sy lewe veg, het self enorme terugslae die hoof gebied om Nogtans sal ek sing saam met my deur te sien. Ons sou egter nou nog besig gewees het met opnames as Lydia nie die streep in die sand getrek het vir die uitreik van die album nie!”
Anneli sê die titel is haar direkte, persoonlike belewenis van die stryd waarin sy haar bevind. “My ganse realiteit, hede en toekoms is anders as wat ek ooit kon voorsien en ‘n mens staan magteloos voor sulke ingrypings. Ons hét ‘n gewaarborgde toekoms uit genade. Hierdie is ‘n geloofsprong. Dis nie iets wat moontlik was nie; dis moontlik gemáák sodat ons mekaar kan bemoedig en deur genade hoop uit wanhoop kan skep.”
Nogtans sal ek sing is Anneli se 16de album; met nege nuwe opnames en agt van haar goue album, Seënbede, wat in 2003 uitgereik is.
Toe die versoek van Karen Zoid in Maart 2015 kom vir ‘n onderhoud op Zoid Afrika, het geen enkele siel wat Anneli se toestand ken, gedink sy sou ja sê nie. “Pyn se houvas op my was te versmorend en dit sou boonop nog ‘n retoervlug Kaap toe verg. Hoe die ‘ja’ in my ontspring het, kan ek nie verklaar nie, maar ek sal altyd bly wees daaroor! My dapper assistent, Elouna Ollewagen, het opdrag gehad om seker te maak almal verstaan dat ek nie sou kon sing nie; net gesels.
“In die TV-ateljee het ‘n goeie gees geheers, maar hoe dit beskik is dat Karen bereid sou wees om Ek lewe so aan te pak en dat ek teen alle beplanning in weer ‘ja’ sou sê vir ‘n waagkans, weet net die Skepper.”
Anneli en Karen se weergawe van Ek lewe het tot bo-aan Itunes gevorder! Dit was opnuut ‘n treffer én Anneli was oornag wéér ‘n ster! “‘n Paar van die omroepers met wie ek onderhoude gedoen het, het so ‘n lieflike ding gesê: dat ek nie werklik weg was nie, want my musiek was daar …”
Die herinneringe aan 23 Oktober 2007 sal altyd by haar talm. Daardie dag – tydens ‘n “risikovrye” dagprosedure om die pyn, wat haar toe al ‘n geruime tyd teister, te probeer verminder of uitskakel – is sy werklik ernstig beseer.
Dié ondervinding het haar denke oor medici en gesondheidsorg drasties verander. “Ek vra dat elke pasiënt dubbel seker sal maak dat ‘n voorgestelde prosedure – veral iets buite die gewone – die korrekte opsie vir jou is. Kry indien nodig ‘n tweede mening. Google in ieder geval om meer te wete te kom en vra die dokter uitdruklik om ‘n paar van die hoofpunte met jou te bespreek. Medici laat ons ‘n papier teken om hulle van risiko te vrywaar, maar hulle is terselfdertyd verplig om jou van moontlike nagevolge in te lig, sodat jy ‘n ingeligte besluit kan neem. As ‘n dokter nie met jou wil praat of jou vrae beantwoord nie, kry ‘n ander een. Jy plaas jou lewe in ‘n chirurg en narkotiseur se hande. Maak seker dat die narkotiseur vóór die prosedure met jou praat oor die vorm wat jy ingevul het. Narkose is ook ‘n spesialiteit met risiko’s.”
Anneli sê sy het eerlikwaar nie planne nie. “’n Mens kan net tot op ‘n punt met senuweepyn onderhandel. Hierdie pyn vee plat en neem oor, selfs al probeer ek my uiterste om dit teen te staan. Ek het begin leer dat ek met omsigtigheid ‘ja’ kan sê, maar dan betaal ek maar ‘n prys daarvoor en moet noodwendig baie rus daarna. Ek neem dit een dag op ‘n slag en nie uit my eie krag nie.”
Anneli, verrassend …
Anneli deel ‘n paar onverwagshede:
- Ek is versot op argitektuur en moes eintlik ‘n argitek geword het! Ek het op laerskool al planne vir ‘n skool ontwerp en het steeds talle boeke met honderde huisplanne waaraan ek my kan verkyk.
- Ek is op ontwerp en toeganklikheid ingestel. ‘n Goed ontwerpte gebou of tuin (of eintlik enigiets) maak my bly. Naby my is ‘n winkelsentrum met ‘n powere parkeerterreinuitleg. Ek probeer hard, maar elke iedere keer is die ondeurdagtheid soos skuurpapier teen my brein!
- Dan is ek ook – hoewel niemand dit weet nie – ‘n briljante konsultant op ‘n verskeidenheid van terreine! Om oplossings te soek en planne te beraam, is vir my absoluut heerlik.
- Ek is sportmal.
- Afskeepwerk maak my baie ongelukkig.
- Wanneer ek lees, is ek in ‘n ander wêreld.
- Ek is mal oor lig. Atmosfeer-ligte is wonderlik, maar semi-duister wanneer ek wil sien, werk glad nie vir my nie. Ek dink so ‘n “twilight zone” maak ‘n mens depressief. Daarom is ek ook mal oor my “forensiese” flits.
Anneli in die alfabet
Die A-Z met daardie woorde wat Anneli as mens tipeer, begeester en bemoedig.
A – aanhou
B – blymoedigheid
C – die see
D – dankbaarheid en diere
E – entoesiasme
F – foto’s en fotografie
G – geloof en genade
H – honde
I – inspirasie en insig
J – jubel
K – kos en kennis
L – liefde, lag en lees
M – ma en musiek
N – natuur
O – opregtheid en oplossings
P – pa en planne
R – rose
S – sport, son en sterre
T – toewyding
U – uithouvermoë
V – vergifnis
W – water en wysheid
X – die x-faktor
Y – ywer
Z – zzz … slaap!