JACKIE PIENAAR-BRINK
Vertel van jou toneelspeldebuut.
Dit was in ‘n paar episodes van die sepie Egoli. Ek moes sommer op die eerste dag vir Hykie Berg soen. Sedertdien het ek net die grootste respek vir alle sepie-akteurs. Kykers ontspan deur na ‘n sepie te kyk en het nie ‘n idee hoe kompleks en moeilik die masjien is wat dit aan die gang hou nie. Dis ‘n ongelooflik tydrowende werk en vergeleke met sang tegnies nogal uitdagend.
Wat is jou gunstelingmusiekgenre?
Ek hou van moderne en ouer folkmusiek, soos Shawn Colvin, Mumford en Sons, Janis Ian, Norah Jones en Gordon Lightfoot. Dan ook van ligte jazz (soos Harry Connick Jr, Jamie Cullum, Nikki Yanovsky en Diana Krall) en nuwer country van byvoorbeeld Alison Krauss, Keith Urban en Tim McGraw.
Vertel van jou deelname aan die produksies Afri-Frans en Afri-Spaans.
Afri-Frans en Afri-Spaans was ‘n fenomeen. Dit was ongelooflik om deel van die live konserte te wees. Om saam met legendes soos Laurika Rauch te kan werk, is wonderlik. Mens verstaan dan waarom iemand ‘n legende word en hoe spesiaal die musiek is wat hulle bekend gemaak het. Die Franse vertalings van liedjies soos Sweef soos ‘n Arend en Blouberg se strand het ‘n nuwe energie daaraan gegee. Dit is op ‘n internasionale platform ten toon gestel waar dit net so goed en beter klink as enige Europese musiek. Ek haal my hoed af vir Matthys Maree, wat die vervaardiger was en wat ons beste musiek vir ‘n oorsese mark toeganklik gemaak het. As goeie skrywers se boeke oor die wêreld vertaal en versprei kan word, waarom nie dan goeie musiek ook nie?
Wat sou jy uitsonder as hoogtepunte in jou lewe?
- My albums. Seker maar omdat dit persoonlik is en meestal musiek is wat ek self geskryf en vervaardig het. Dit is projekte waarin my hart is en wat ek met groot sorg aangepak het.
- Die Sama (Godinne op die grondpad – Beste album: Afrikaans Kontemporêr in 2006). Ek sal altyd dankbaar wees vir die erkenning. Ook die Tempo-toekenning (in 2012) vir Beste Kopskuif-album wat ek saam met Ollie Viljoen gemaak het. Dit was vir hom ‘n jare lange droom en hy was so trots op die CD (Blues en susters). Ek is so dankbaar ons kon dit doen voor hy oorlede is.
- Die geboorte van elkeen van my vier broers se 11 kinders. Ek hou baie daarvan om ‘n tannie te wees.
Het jy al ooit ‘n agent gehad?
Nee, maar nie regtig uit vrye keuse nie. Ek sit heeldag op kantoor en werk om by alles uit te kom en elke navraag te beantwoord, maar die afgelope tyd raak dit moeilik om alles self te behartig. Ek het nog nie ‘n agent teëgekom wat toegewyd genoeg is en dieselfde kan insit wat beskikbaarheid en tyd betref nie. Daar is net ‘n handjievol goeie agente in ons land en hulle is reeds vol bespreek.
Hoeveel kinders is julle?
Ek is die middelkind en enigste dogter van vyf kinders. My pa is ‘n oud-inspekteur van onderwys wat volgende jaar 80 word en my ma ‘n oud-onderwysers wat later huisagent geword het. Ons is ‘n hegte gesin en ek is baie gelukkig om ook vier wonderlike skoonsusters te hê. My ouers het nog altyd ‘n enorme invloed op my lewe gehad. Toe ek jonger was, het ek gedink alle kinders het ouers wat eerlik is, hard werk, ondersteunend is en geleenthede skep. Eers toe ek ouer geword het, het ek besef watter ongelooflike voorreg dit is.