Die 16de Amorim Cap Classique-uitdaging se wenners is verlede week by die Twelve Apostles Hotel in Kaapstad aangewys
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Simonsig Landgoed, die pionier-kelder wat Suid-Afrika se eerste Méthode Cap Classique (MCC) gemaak het, het weggestap met die top-prestasie as die kelder wat die meeste vereer is in dié uitdaging se geskiedenis, deur die Beste Produsent vir ‘n vierde maal te wen.
Die Simonsig Cuvée Royale Blanc de Blancs 2012, ‘n 100% Chardonnay, is aangewys as die beste wyn van die kompetisie en ook die wenner in die Blanc de Blancs-kategorie. Simonsig het ook die kategorie vir Rosé Cap Classique gewen met sy Pinot Noir Rosé 2015, ‘n vonkelwyn wat net vir Woolworths gemaak word.
Vanjaar se kompetisie het 97 inskrywings gelok en word deur die MCC Assosiasie in samewerking met die Portugal-gebaseerde kurkmaatskappy, Amorim, gehou.
Gaste is op ‘n spogmaal trakteer en kon al die wenners in die verskillende kategorieë saam met hul kos geniet.
Die Brut Cap Classique-kategorie het die meeste inskrywings gelok (45) en is deur die Overbergse Domaine Des Dieux gewen, vir die Domaine Des Dieux Claudia Brut MCC 2011. In die Museumklas vir wyne van agt jaar en ouer, het Graham Beck met die louere weggestap vir sy Brut Zero 2005.
LEES OOK: The Sommeliers Selection 2017 wenners
Die beoordelaars vanjaar was die Kaapse wynmeester, Heidi Duminy (sameroeper van die paneel), Higgo Jacobs, sommelier en konsultant, wynskrywer Cathy Marston en wynmakers Elunda Basson van JC le Roux/Pongrácz en Johan Malan van Simonsig. Vanjaar is die puntetelling ook uit 100 gegee, wat voordelig is vir die deelnemers, omdat dit meer beweegruimte gee.
Die Frans Malan-trofee wat jaarliks toegeken word aan die individu wat die mees uitstaande bydrae tot die Cap Classique wynkategorie maak, is aan Pieter (Bubbles) Ferreira van Graham Beck oorhandig.
Joaquim Sá, besturende direkteur van Amorim Suid-Afrika, het aan gaste by die middagete vertel dat die land tans 220 Cap Classique-produsente het, wat 300 etikette produseer.
“Hierdie produsente se produk is van so ‘n goeie gehalte dat hulle in 2016 ‘n totaal van 4,4 miljoen bottels MCC in Suid-Afrika verkoop het. Dis ‘n verstommende groei van 24.5% vergeleke met die vorige jaar.
“Vergelyk dit met 16 jaar gelede toe die kompetisie vir die eerste maal gehou is en die plaaslike verkope van Cap Classique net-net die 700 000 bottels per jaar merk gehaal het. Die uitvoere groei ook na die VK, VSA en Afrika-lande.”