Die Paarl-wynstreek het die vonkel aan vanjaar se Cap Classique-uitdaging verleen met die Anura Vineyards MCC Brut 2011 wat die toekenning vir Beste Produsent gewen het en ook koning gekraai het in die kategorie vir Beste Brut-versnit.
Maryke Roberts
Hierdie wyn het 112 ander inskrywings geklop om die hoogste toekenning te behaal in vanjaar se 15de aanbieding van die jaarlikse Cap Classique-uitdaging – aangebied deur die MCC-vereniging in samewerking met die Portugal-gebaseerde maatskappy Amorim, die wêreld se toonaangewende verskaffer van kurk-wynsluitings en ander kurkprodukte.
Die wenners is by ‘n middagete by 12 Apostles Hotel in Kaapstad vereer en gaste kon die vier wenners se produkte saam met ‘n spesiaal gepasmaat middagete proe.
Cap Classiques is in die volgende kategorieë beoordeel: Blanc de Blancs, Rosé, Brut-versnit en ‘n Museumklas vir wyne insluitend en voor die 2008-oesjaar. Om inklusiwiteit onder produsente te bevorder, is inskrywing ook oopgestel aan produsente wat nie lede van die Cap Classique-produsentevereniging is nie.
Die Huis van JC le Roux, een van Suid-Afrika se voorste Cap Classique-produsente, het twee trofeë verower: vir die Rosé-afdeling met die JC le Roux Pinot Noir Rosé 2010 asook die Museumklas met die JC le Roux Scintilla Vintage Reserve 2008.
JP Colmant het die trofee vir beste Blanc de Blancs gewen met die Colmant Brut Chardonnay MCC-nie-oesjaar.
Joaquim Sá, besturende direkteur van Amorim Suid-Afrika, het gesê dat daar ongeveer 220 Cap Classique-produsente is wat 300 handelsmerke vervaardig, waarvan sommige onder die sterkste wynhandelsmerke in die land geag word. “Hierdie produsente is verantwoordelik vir ‘n produk wat in 2015 3,5 miljoen bottels in Suid-Afrika verkoop het, met nog 2,5 miljoen wat uitgevoer word na die res van Afrika, Europa, die Verre Ooste en Amerika,” sê hy. “Vergelyk dit met 15 jaar terug toe die kompetisie vir die eerste keer aangebied is – destyds het die verkope van Cap Classique net geraak aan die 700 000-bottels-per-jaar-kerf.”
Erika en John Platter het vanjaar die Frans Malan Legacy Award gewen. Dis deur Francois Malan van Simonsig, wie se pa, Frans, die land se eerste MCC gemaak het, aan hulle oorhandig.
Vanjaar se beoordelaars was Allan Mullins (voorsitter), Jeff Grier, Higgo Jacobs, Cathy Marston, Paul Gerber, Linley Schultz en Heidi Duminy. Sandile Mkhwanazi het by die paneel aangesluit as leerlingbeoordelaar.
Nicolas Follet (Colmant), Sharon Parnell (Domaine De Dieux) en JP Colmant (Colmant). Colmant het die trofee vir die wen Blanc de Blanc MCC ontvang.
Francé Beyers en Elunda Basson van JC le Roux. JC le Roux het beide die museumklas en Rosé-klas gewen.
Francois-Jacques Malan van Simonsig, Erika en John Platter, Francois Malan van Simonsig, wie se pa, Frans, die land se eerste MCC gemaak het.
Fatima Oliveiro, Joaquim Sá, besturende direkteur van Amorim Suid-Afrika, Ettiene Gouws en Marize Uys van Amorim SA, borg van die kompetisie.
Paul Gerber van Le Lude en een van vanjaar se beoordelaarspaneel, Winnie Bowman, wynbeoordelaar en Jeff Grier van Villiera Wyne.
Anura Vineyards se Lance Bouma en Johnnie Calitz, wynmaker, wat vanjaar die Produsent van die Jaar-toekenning en beste Brut gewen het.
SOURCES
Clifford Roberts