Die lyf was nog altyd in Marina Ambramović se kuns haar onderwerp sowel as haar medium
Deur JOHAN MYBURG
Op 71 is daar geen keer aan Marina Abramović nie, die “ouma van performancekuns”, soos sy al dikwels na haarself verwys het. Onlangs het sy haar eerste kunswerk wat in ’n virtuele werklikheid bestaan op die Art Baselkunsskou in Hongkong aangebied – een wat ’n duidelike boodskap met betrekking tot die toekoms van ons planeet oordra.
Abramovic se Rising noop ’n mens om oor die gevolge van klimaatsverandering na te dink terwyl jy interaksie het met ’n avatar van die kunstenaar wat stadig besig is om in ’n glastenk te verdrink. Die interaksie hou nie op as jy jou rug op die performance draai nie – daar is ’n toep wat jou agterna aan die “verdrinkende Abramović” in die tenk gaan herinner en jou tydig en ontydig gaan vra om haar, en by wyse van spreke die planeet, te “red”. Die verhouding tussen kunstenaar en gehoor – ’n mens sou dit ’n stap verder kon neem en van gehoordeelname praat – was nog altyd ’n belangrike deel van dié Serwiese kunstenaar se benadering. En dikwels is dit ongemak wat sy by die gehoor teweegbring, veral as pyn, bloed en die fisieke beperkings van die mens se lyf ter sprake kom.
Die lyf was nog altyd in haar kuns haar onderwerp sowel as haar medium. Dat Abramović se werk nie maklik verteerbaar is nie, is ’n gegewe. Dit is ontstellend of op die minste onthutsend. Maar dit is wat sy in die oog het. En dit is wat performance-kuns ten doel het – sedert die vroeë wortels van dié kunsgenre in Dada en die Surrealisme: dat die performance-stuk ’n besliste impak op die gehoor/toeskouer moet hê. ’n Goeie illustrasie hiervan is The Artist is Present, die werk wat Abramović in 2010 tydens haar oorsiguitstalling in Moma (die museum van moderne kuns) in New York aangebied het.
LEES OOK: Kuns: Lothar Böttcher
Vir die duur van die uitstalling het sy 736 uur en 30 minute roerloos by ’n tafel in die museum se atrium gesit waar toeskouers teenoor haar aan die tafel kon plek inneem. Sy het deurgaans oogkontak met die individue teenoor haar behou. Die meeste van die 1 545 besoekers het nie meer as vyf minute bly sit nie. Drie maande lank het sy sewe uur per dag, ses dae van die week, roerloos bly sit en rekordgetalle na dié performance – een van die opspraakwekkendstes en beroemdstes tot op hede – gelok. Die Amerikaanse Fox News het nie die sin van die werk gesnap nie en na haar as “die een of ander Joego-Slawies-gebore provokateur” verwys, terwyl die kurator van Whitney-galery na haar as een van die toonaangewendste kunstenaars van die tweede helfte van die 20ste eeu verwys het.
Hoe uiteenlopend die sienings ook al is, dat sy die aandag op haar werk gevestig het, daaroor is almal dit eens. Jare lank het sy en haar destydse kunstenaar-minnaar, Uwe Laysiepen, wat onder die naam Ulay werk, sonder veel erkenning performance-werk al reisende in Europa gedoen – van hul knapste werk in die 1970’s. Toe hul verhouding in 1988 op die rotse beland, het dié twee besluit om ’n werk, The Lovers, daarvan te maak. Ulay en Abramović het van twee kante op die Groot Muur in China na mekaar toe geloop. Maande lank het elkeen 2 500 km afgelê totdat hulle mekaar op ’n afgespreekte plek ontmoet het. Om totsiens te sê. Jare lank het hulle uit mekaar se pad gebly. Totdat Ulay as een van die besoekers vir The Artist is Present aangemeld het.