Vandag se samelewing stel hoë eise aan ons menswees. Hoe dan gemaak as jy letterlik heeltyd moeg voel?
Deur: Shanda Luyt
Jy sukkel om jou oë oop te hou by die werk. Jy raak aan die slaap in die fliek. Saans kruip jy saam met die hoenders in die bed, maar dit voel of jy nooit genoeg slaap inkry nie. Wat is fout met jou?
Om heeltyd moeg te wees, raak alle aspekte van jou lewe, maar die ergste is as jy later nie meer energie vir die verhoudings in jou lewe het nie.
Almal van ons raak in ’n stadium moeg, maar wanneer ons ’n goeie nagrus, ’n langnaweek of ’n lekker vakansie gehad het, het die moegheid verdwyn en het ons gewoonlik weer energie om ons lewenstaak voort te sit, sê Ilsabé Spoelstra, dieetkundige van Bloemfontein wat navorsing oor moegheid doen. “As ’n mens egter na hierdie bogenoemde ruskans terugkom en steeds konstant moeg is, moet jy dieper soek na die rede.”
Moegheid, nes hoofpyn, is ’n baie algemene simptoom, verduidelik die mediese dokter en skrywer, dr Arien van der Merwe, wat ook ’n deskundige op die gebied van holistiese, natuurlike medisyne, stresbestuur en werkplekwelstand is. “As jy met konstante moegheid sukkel, is die eerste stap om die oorsaak te probeer vasstel.”
Stel die oorsaak vas
Vitamientekorte
Ilsabé sê omdat die eetgewoontes van die mensdom in die laaste 70 jaar so versleg het, bestaan verskeie soorte tekorte, soos dié vir vitamien B12, magnesium, vitamien K, vitamien D, vitamien C, vitamien B6, boustene vir neuro-oordragstowwe, en nog meer. “Slegs een iets wat in die liggaam kort, kan moegheid as simptoom hê.”
Die algemeenste vitamientekort wat tot moegheid lei, is yster of vitamien B, wat tot bloedarmoede of anemie aanleiding gee, sê dr Arien. ’n Tekort aan B-vitamiene kan tot chroniese moegheid lei aangesien hierdie vitamiene ’n baie belangrike rol in die liggaam se metabolisme en die optimale gebruik van energie speel.
Ystertekort, wat veral by vroue voorkom, lei tot moegheid omdat dit die vermoë van die liggaam om suurstof deur die liggaam te sirkuleer, affekteer. Yster speel ook ’n belangrike rol in die liggaam se metabolisme en skildklierfunksie.
Moontlike oplossings
- Vermy kitskosse en eet ’n gesonde, gebalanseerde dieet met voldoende growwe, onverfynde produkte soos volgraanbrood en bruinrys asook ander kosse wat hoog in B-vitamiene is soos vleis, vis, eiers en bone. Vermy kitsdiëte. Dit bevat dikwels nie voldoende B-vitamiene nie en ‘n inspuiting gaan nie noodwendig help nie.
- Sluit genoeg kos wat yster bevat in jou dieet in soos vleis, hoender, lewer, donkergroen blaargroentes, bone en neute. Drink lemoensap saam met dit aangesien vitamien C die inname van yster aanhelp. Waak daarteen om sonder ’n behoorlike diagnose en mediese advies jouself op ‘n ysteraanvulling te sit, aangesien te veel yster soms ernstige gesondheidsprobleme kan veroorsaak.
Dink daaraan
Neem jy enige medikasie? As jy gedurig moeg voel, maak seker die moegheid is nie ’n newe-effek daarvan nie
Vir meer inligting, besoek www.drarien.co.za