Is dit gesond? Hoeveel eiers mag ek per week eet? Wanneer mag my baba eiers begin eet? Ons bekyk ’n eier van alle kante
CHRISTA SWANEPOEL
Eiers is die grootste vitamienpil in ’n natuurlike verpakking. Só beskryf die Britse eiervereniging die beskeie eier. Hoekom? Want dit bevat verskeie vitamiene en minerale wat vir ’n gesonde dieet nodig is. Daarby bevat een groot eier maar 292,8 kJ of 60 kal, 195 mg cholesterol, 65 mg natrium en 1 g koolhidrate, maar 6 g proteïen van die hoogste gehalte.
Bruin of wit?
Wat is die verskil tussen ’n bruin en ’n wit eier?
Die verskil is die hen. Die ras van die hoender bepaal die kleur van die eierdop. Dit word dus geneties bepaal. Wat voedingswaarde betref, is dit presies dieselfde. Dit hang maar net af watter kleur dop jy verkies.
Die vitamiene en minerale in ’n eier”dop
PROTEÏEN Dis noodsaaklik om spiere, organe, vel, hare en ander weefsels te bou en herstel. Dis ook nodig om hormone, ensieme en teenliggaampies te vervaardig.
VITAMIEN D Versterk bene en tande en help om jou teen sekere kankers en outo-immuunsiektes te beskerm. Dis noodsaaklik vir die opname van kalsium in die liggaam. Eiers is een van die min natuurlike bronne van vitamien D.
CHOLIEN Dit speel ’n groot rol in die normale funksionering van alle liggaamselle en in fetale breinontwikkeling en -funksie en is dus noodsaaklik tydens swangerskap en borsvoeding. Dis veral noodsaaklik vir die senuwees en spiere om reg te funksioneer en help met geheuevaslegging.
LUTEïEN EN ZEAXANTIEN Help jou om goeie sig te behou en verminder die risiko van ouderdomsverwante oogsiektes soos katarakte en makulêre degenerasie.
SELENIUM Dit werk saam met vitamien E om ’n antioksidant te vorm wat keer dat liggaamsweefsel agteruitgaan. Dit beskerm die
DNS, proteïen en vet in selle teen skade. Dis belangrik vir ’n gesonde immuunstelsel en die werking van die skildklier.
RIBOFL AVIEN Sorg vir gesonde vel en oë.
VITAMIEN B12 Help om jou teen hartsiektes te beskerm. Help met die normale werking van die brein en senustelsel.
FOLAAT Help om nuwe rooibloedselle te vervaardig en beskerm. Dit beskerm jou teen ’n sekere soort bloedarmoede en kan help om ernstige geboortedefekte te voorkom as die ma dit tydens swangerskap gebruik. Dit is belangrik dat die ma dit steeds ná geboorte inneem.
YSTER Dit speel ’n rol in rooibloedselproduksie, vervoer suurstof na die selle en help dus om anemie (bloedarmoede) te voorkom.
VITAMIEN A Help vir die gesonde ontwikkeling van selle, ’n gesonde vel en oogweefsel en dra by tot beter nagvisie. Dit help vir gesonde groei en ondersteun die immuunstelsel.
VITAMIEN B6 Dis belangrik vir die liggaam se metabolisme, vir die vrystelling van energie uit voedsel en vir kognitiewe vermoëns.
VITAMIEN E ’n Antioksidant wat ’n rol speel om jou gesond te hou, veral die voortplantingstelsel, senuwees en spiere.
JODIUM Dis nodig vir die samestelling van die skildklierhormone en noodsaaklik vir die werking van die skildklier.
Eiers en allergieë
Sekere kos is meer as ander geneig om allergieë te veroorsaak weens die soort proteïen wat dit bevat. Eiers bevat daardie proteïen, veral die rou eier, en kan dus ’n allergie in sensitiewe mense veroorsaak. Hitte verander die aard van dié proteïen. Dit verklaar hoekom mense wat effens allergies vir eiers is, dit in eierpasta en koeke kan verdra, selfs al bevat dit baie eiers.
Eierallergieë is die algemeenste onder kinders onder 12 maande, maar hulle ontgroei dit gewoonlik.
Dit raak na raming 0,5–2,5% van kinders, maar teen ongeveer 10 jaar sal hulle dit ontgroei. Slegs sowat 30% van hulle sal steeds teen hul tienerjare steeds allergies wees. In enkele gevalle sal so iemand tot in volwassenheid allergies bly. Dis gewoonlik mense met ’n familiegeskiedenis van dié allergie.
Maar hoe kan jy weet dat jou baba vir eiers allergies is?
Dit begin gewoonlik met ’n uitslag om die mond binne sekondes nadat hy of sy eier geëet het en die mond sal binne minute begin opswel. Sommige babas sal braak en diarree ontwikkel. Ouer kinders sal ’n fluitbors ontwikkel, nies en ’n loopneus hê. Ekseem sal voorkom Eierallergie kan ook in volwassenheid posvat, maar dis baie raar. Die simptome sal dieselfde wees as by babas en kinders.
Soos bo genoem, ontgroei die meeste kinders dié allergie.
As jy vermoed jou kind is allergies vir eiers, spreek jou dokter om dit te bevestig. Hou jou kind dop as hy of sy kos eet wat eiers bevat om te sien of die reaksie met tyd verbeter
Waar of onwaar
1 Eiers bevat cholesterol en moet dus in die dieet beperk word om hartsiektes te voorkom.
ONWAAR Madeleine de Villiers, geregistreerde dieetkundige, sê veelvuldige studies het bewys dat daar nie ’n noemenswaardige verband tussen dieetcholesterol en die risiko vir koronêre hartsiekte is nie. Gesonde mense kan ’n eier per dag eet. Twee derdes van die vet in eiergeel is gesonde, hartvriendelike vet.
2 As jy jou eierinname tydens swangerskap beperk, verminder jy die kanse dat jou baba vir eiers allergies sal wees.
ONWAAR Die Australiese vereniging van kliniese immunologie en allergieë (ASCIA) stel nie voor dat ’n ma tydens swangerskap haar dieet moet inperk om moontlike allergieë te voorkom nie (dit sluit grondbone, vis, soja en koeimelk in) omdat daar volgens hulle geen bewyse is dat die eet van sulke kos allergieë by die baba veroorsaak nie. Trouens, volgens die Royal Society of Medicine lyk dit asof blootstelling aan eiers tydens swangerskap ’n beter strategie as uitsluiting is om ’n eierallergie in die baba te voorkom.
3 Kinders moenie voor 12 maande eiers eet nie omdat dit ’n allergie kan veroorsaak
ONWAAR Die ASCIA beveel aan dat eiergeel van agt maande af vir die baba gegee kan word. Daar is nie spesifieke riglyne vir eierwit nie, maar hulle sê dit kan met veiligheid van 9–12 maande vir die kind gevoer word.
4 Organiese en skrophoenders se eiers is voedsamer as standaardeiers.
ONWAAR Daar is nie ’n verskil in die voedingswaarde nie. Die verskil kom by wat die henne gevoer word, soos omega-3-verrykte kos