Is dit gesond? Hoeveel eiers mag ek per week eet? Wanneer mag my baba eiers begin eet? Ons bekyk ’n eier van alle kante
Christa Swanepoel
Eiers is die grootste vitamienpil in ’n natuurlike verpakking. Só beskryf die Britse eiervereniging die beskeie eier.
Hoekom? Want dit bevat verskeie vitamiene en minerale wat vir ’n gesonde dieet nodig is. Daarby bevat een groot eier maar 292,8 kJ of 60 kal, 195 mg cholesterol, 65 mg natrium en 1 g koolhidrate maar 6 g proteïen van die hoogste gehalte.
Die vitamiene en minerale in ’n “eier”dop
1 PROTEÏEN Dis noodsaaklik om spiere, organe, vel, hare en ander weefsels te bou en herstel. Dis ook nodig om hormone, ensieme en teenliggaampies te vervaardig.
2 VITAMIEN D Versterk bene en tande en help om jou teen sekere kankers en outo-immuunsiektes te beskerm. Dis noodsaaklik vir die opname van kalsium in die liggaam. Eiers is een van die min natuurlike bronne van vitamien D.
3 CHOLIEN Dit speel ’n groot rol in normale funksionering van alle liggaamselle en in fetale breinontwikkeling en –funksie en is dus noodsaaklik tydens swangerskap en borsvoeding. Dis veral noodsaaklik vir senuwees en spiere om reg te funksioneer en help met geheuevaslegging.
4 LUTEïEN EN ZEAXANTIEN Help jou om goeie sig te behou en verminderd die risiko van ouderdomsverwante oogsiektes soos katarakte en makulêre degenerasie.
5 SELENIUM Dit werk saam met vitamien E om ’n antioksidant te vorm wat keer dat liggaamsweefsel agteruitgaan. Dit beskerm die DNS, proteïen en vet in selle teen skade. Dis belangrik vir ’n gesonde immuunstelsel en die werking van die skildklier.
6 RIBOVLAVIEN Sorg vir gesonde vel en oë.
7 VITAMIEN B12 Help om jou teen hartsiektes te beskerm. Help met normale werking van die brein en senustelsel.
8 FOLAAT Help om nuwe rooibloedselle te vervaardig en beskerm. Dit beskerm jou teen ’n sekere soort bloedarmoede en kan help om ernstige geboortedefekte te voorkom as die ma dit tydens swangerskap gebruik. Dit is belangrik dat die ma dit steeds ná geboorte inneem.
9 YSTER Dit speel ’n rol in rooibloedselproduksie, vervoer suurstof na die selle en help dus om anemie (bloedarmoede) voorkom).
10 VITAMIEN A Help vir die gesonde ontwikkeling van selle, ’n gesonde vel en oogweefsel en dra by tot beter nagvisie. Dit help vir gesonde groei en ondersteun die immuunstelsel.
11 VITAMIEN B6 Dis belangrik vir die liggaam se metabolisme, vir die vrystelling van energie uit voedsel en vir kognitiewe vermoëns.
12 VITAMIEN E ‘n Antioksidant wat ‘n rol speel om jou gesond te hou, veral die voortplantingstelsel, senuwees en spiere.
13 JODIUM Dis nodig vir die samestelling van die skildklierhormone en noodsaaklik vir die werking van die skildklier.
Bruin of wit?
Wat is die verskil tussen ’n bruin en ’n wit eier?
Die verskil is die hen. Die ras van die hoender bepaal die kleur van die eierdop. Dit word dus geneties bepaal. Wat voedingswaarde betref is dit presies dieselfde. Dit hang maar net af watter kleur dop jy verkies.
Waar of onwaar Eiers bevat cholesterol en moet dus beperk word in die dieet om hartsiektes te voorkom.
ONWAAR Madeleine de Villiers, geregistreerde dieetkundige, sê veelvuldige studies het bewys dat daar nie ’n noemenswaardige verband tussen dieetcholesterol en die risiko vir koronêre hartsiekte is nie. Gesonde mense kan ’n eier per dag eet. Twee derdes van die vet in eiergeel is gesonde hartvriendelike vet.
Waar of onwaar As jy jou eierinname tydens swangerskap beperk, verminder jy die kanse dat jou baba vir eiers allergies sal wees.
ONWAAR Die Australiese vereniging van kliniese immunologie en allergieë (ASCIA) stel nie voor dat ‘n ma tydens swangerskap haar dieet moet inperk wat moontlike allergieë kan veroorsaak nie (dit sluit grondbone, vis, soja en koeimelk in) omdat daar volgens hulle geen bewyse is dat dit allergieë by die baba veroorsaak nie. Trouens, volgens die Royal Society of Medicine lyk dit asof blootstelling aan eiers tydens swangerskap ‘n beter strategie as uitsluiting is om eierallergie in die baba te voorkom, sê Madeleine.
Waar of onwaar Kinders moenie voor 12 maande eiers eet nie omdat dit ’n allergie daarvoor kan veroorsaak
ONWAAR Die ASCIA beveel aan dat eiergeel van agt maande af vir die baba gegee kan word. Daar is nie spesifieke riglyne vir eierwit nie, maar hulle sê dit kan met veiligheid van 9–12 maande vir die kind gevoer word.
Waar of onwaar Organiese en skrophoenders se eiers is voedsamer as standaardeiers.
ONWAAR Daar is nie ’n verskil in voedingswaarde tussen die eiers nie. Die verskil kom in by wat die henne gevoer word, soos omega-3-verrykte kos.