’n Nuwe wynreeks deur Allée Bleue, ’n landgoed naby Franschhoek, is vroeër vandeesmaand by ’n geselligheid in Kaapstad bekend gestel
Deur Clifford Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die Black Series bestaan uit enkel kultivar-wyne met die fokus op innovasie in die kelder.
Die loodsfunksie is by Aubergine, die Tuine-restaurant van bekende sjef Harald Bresselschmidt, gehou. Onder die gaste was ’n aantal wynskrywers en sommeliers asook die hoof-wynaankoper vir Woolworths, Allan Mullins.
Vier van die ses wyne in die reeks word uit die staanspoor in 1,5l-bottels verpak en dié verkoop vir R850 per eenheid. Hulle is die Allée Bleue Chardonnay 2014, Cabernet Franc 2012, Cabernet Sauvignon 2013 en Cabernet Sauvignon 2014. Die twee 750ml-bottels in die reeks verkoop elk vir R350 en hulle is die Single Vineyard Shiraz 2014 en Old Vine Post Pinotage 2016.
Volgens Allée Bleue se algemene bestuurder, Ansgar Flaatten, is die rede vir die nuwe reeks dat die plaas graag uitmuntende kultivars, wat hulle in versnitte gebruik, as individuele wyne wou ten toon stel. Die wyne word gemaak deur Van Zyl du Toit, wat sedert 2009 die wynmaker op die landgoed is.
Allée Bleue is in 1999 deur Duitsers Friedrich-Wilhelm en wyle Elke Dauphin gekoop. Buiten die wyne, word daar ook met vrugte en kruie op die plaas geboer. Vir meer inligting, besoek www.alleebleue.com
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.