Alban Berg se Wozzeck word as een van die hoogtepunte van die 20ste-eeuse musiekskat gereken
Deur JOHAN MYBURG
Einde 2015 is Lulu, Alban Berg se opera wat hy tussen 1928 en 1935 geskryf het, wêreldwyd in rolprentteaters vertoon. Dié rolprentweergawe is gemaak van die produksie wat die Metropolitan Opera in New York in sy 2015/16-seisoen aangebied het. William Kentridge was die regisseur van dié produksie met die Duitse koloratuursopraan Marlis Petersen in die rol van Lulu, die femme fatale wat nie net die lewe van almal rondom haar verwoes nie, maar ook haar eie. Met Berg se dood in 1935 was die derde bedryf van Lulu nog nie afgehandel nie en die opera is tot in 1977, kort ná die dood van Berg se weduwee, Helene, in onvoltooide vorm aangebied. Helene het Arnold Schönberg, Berg se leermeester en vriend, versoek om die opera aan die hand van Berg se sketse te voltooi.
Schönberg het nie daarvoor kans gesien nie en Helene het ’n verbod geplaas op enige ander pogings om die opera te voltooi. Lulu is deur die Oostenrykse komponis Friedrich Cerha voltooi en die partituur van die volledige opera is in 1979 gepubliseer. Maar Lulu was nie Berg (1885–1935) se bekendste opera nie. Dít was Wozzeck (1925), die opera wat steeds as een van die hoogtepunte van die 20ste-eeuse musiekskat beskou word. Met die aanbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Berg, soos Schönberg, die patriotiese ding gedoen en vir diens aangemeld. Berg het egter in sy eerste maand van opleiding in die hospitaal beland en daarna vir die duur van die oorlog kantoorwerk verrig.
Hy het sy aantekeningboek bygehou en toe hy ná die oorlog met Wozzeck begin, was dit ’n ander blik op die oorlog wat na vore gekom het. Berg het in 1914 kennis gemaak met Woyzeck, die drama van Georg Büchner, oor ’n soldaat wat ’n barbier geword het en in 1821 sy minnares vermoor het. Woyzeck word deur die dokter wat hom behandel, uitgebuit en die verhaal wat ontvou, is dié van ’n gewone man wat in ’n hardvogtige samelewing ondergaan. Büchner het transkripsies van Woyzeck se sielkundige evaluasies as bronmateriaal vir sy verhaal gebruik.
LEES OOK: Klassieke klanke: Arnold Schönberg
Dit was terloops aan die hand van die Büchner-drama dat Kentridge in die 1990’s, in samewerking met die Hand Spring Puppet Company met Woyzeck on the Highveld vorendag gekom het, die verhaal na Johannesburg van die 1950’s oorgeplaas en met Woyzeck as ’n trekarbeider. Berg het onmiddellik die moontlikhede vir ’n opera gesnap en ná die oorlog was hy des te meer vasberade om dié plan deur te voer. Hy het die libretto self aangepas (én die titel) en die première van dié atonale opera was teen die einde van 1925 in die Berlynse Staatsopera.
Ná Wozzeck het Berg ’n 12-toonbenadering begin volg, soos dit veral blyk uit sy laaste onvoltooide werk, sy vioolkonsert van 1935, opgedra aan Manon Gropius, die dogter van die argitek Walter Gropius en Alma Mahler (weduwee van Gustav Mahler en goeie vriendin van Berg). Dié konsert het die subtitel “Ter nagedagtenis aan ’n engel”. Manon Gropius is op 18 aan polio dood. Benewens Weense walse en boertige liedere het Berg in dié konsert ook ’n Bachkoraal ingesluit: Ich habe genug (Dit is genoeg) uit die Kantate no. 60. Die Suid-Afrikaans gebore violis Daniel Hope het Berg se vioolkonsert (saam met die Britten-vioolkonsert) saam met die BBC Symphony Orchestra onder leiding van Paul Watkins vir Warner Classics opgeneem