Die moderne lewe en die gepaardgaande stres dra daartoe by dat ons eenvoudig nie als kan onthou nie. Maar kan jy jou brein help om beter te onthou?
Jy het pas die telefoon neergesit en vir ‘n oomblik kan jy glad nie onthou met wie jy gepraat het nie of jy is besig met jou inkopielys en kan om die dood nie onthou wat daai noodsaaklike ding is wat jy moet koop nie.
Klink dit bekend? Ons almal vergeet soms dinge, maar soms voel dit net of jou brein iewers vasgehaak het en iewers kom dinge nie by mekaar uit nie.
Mense assosieer hierdie soort vergeetagtigheid gewoonlik met ouderdom, maar ‘n Trending Machine-opname toon dat meer 18–34-jariges dinge vergeet, soos watter dag dit is, waar hul sleutels is, om hul middagete in te pak of selfs om ‘n bad of stort te neem. Die enigste ding wat 55-jariges (en oueres) meer vergeet, is mense se name.
Kenners skryf hierdie tendens aan stres toe. Ons almal weet dis ‘n ingewikkelde balanseertoertjie vandag om die huis-, werk-, lewe- en finansiële balle in die lug te hou en dit eis sy tol op jou brein en gemoed.
Dus, wat kan ‘n mens doen om minder te vergeet en jou brein flinker te hou? Heelwat!
Leef gesond
’n Gesonde lewenstyl (gesonde dieet, gereelde oefening, genoeg slaap) kan beslis tot beter intellektuele prestasie bydra.
· Kry genoeg slaap in. As jy genoeg slaap, sal jou brein helderder wees. Kry ‘n goeie aandroetine. Onthou geen laataandkoffie nie en ontspan voor jy gaan slaap met ‘n boek.
· Jou brein het soms ‘n blaaskans nodig. Bewys jouself en jou brein ‘n guns en neem ‘n vakansie. Jou brein sal dan weer vir uitdagings gereed wees.
· Wees bewus van wat jy eet. Ons brein weeg net 2% van ons liggaamsmassa, maar neem meer as 20% van die suurstof en voedingstowwe op wat jy inneem.
· Lees ‘n bietjie oor breinkos op. Jou brein het komplekse koolhidrate nodig. Eet kos met vesel vir ontbyt met piesangs of ‘n volgraanbroodjie met grondboontjiebotter.
· Ontspan en hanteer jou stres konstruktief. Stres en spanning vernietig neurone en voorkom die skep van nuwes.
· Dink positief. As jy graag dinge beter wil onthou en jou brein doeltreffender wil maak, glo dat jy dit kan doen. Wat ons oor onsself dink, is nogal geneig om die waarheid te word.
· Ontwikkel en behou vriendskappe – jou brein het sosiale interaksie nodig.
· Aktiwiteite wat jou fokus vereis, soos joga en meditasie, doen jou brein ook goed.
Dink ’n bietjie anders
Gee jou brein nuwe ervarings wat verskillende fisieke sensasies kombineer. Doen iets wat visie, reuk, smaak en aanraking stimuleer.
1. Borsel tande met jou niedominante hand sodat jy die ander kant van jou brein kan gebruik.
2. Nuwe takies oefen groot gedeeltes van die korteks en dit lei tot verhoogde vlakke van breinaktiwiteit. Soos die aktiwiteit roetine word, neem die breinaktiwiteit af. Verander jou roetine. Kyk ander TV-programme, ry ‘n ander roete werk toe of doen dinge anders in die oggend.
3. As jy aan nuwe geure blootgestel word, skep dit nuwe neurale paadjies. Hou ‘n nuwe geur by jou bed en ruik daaraan as jy in die oggend opstaan en voor jy gaan slaap.
4. Hou jou motorvensters oop. Jou brein se hippokampus is die gedeelte wat herinneringe verwerk, veral dié wat met reuke, klanke en sig te make het. Probeer om nuwe klanke en reuke op jou pad te identifiseer.
5. Voel aan voorwerpe en probeer dit identifiseer sonder om daarna te kyk. Dink aan iets soos kleingeld. Probeer bepaal watter geldstuk jy op daai oomblik tussen jou vingers hou.
6. Dwing jou brein om aan alternatiewe gebruike vir alledaagse goed te dink. Waarvoor kan jy byvoorbeeld ‘n stok gebruik? Om tromme te slaan, as ? mikrofoon, om ? bal mee te slaan en dies meer?
7. Leef meer bewustelik en sien dinge om jou raak. As jy by die winkel is, moenie net vinnig dit vat wat op oogvlak is nie, maar kyk ‘n bietjie rond na dit wat onder en bo is.
8. Gee werklik aandag aan wat om jou aangaan. Ken jy die liedjie oor die radio? Waaroor praat jou kollegas? fokus op die besonderhede in jou omgewing.
Stimuleer jou brein
1. Wees skeppend. Kuns aktiveer die nieverbale en emosionele gedeeltes van die serebrale korteks. Teken iets of kleur in.
2. Skep sosiale verbintenisse met mense. Gesels met die kassiere by die winkel.
3. Lees op ‘n ander manier. As jy hardop lees of na iemand luister wat lees, gebruik jy ander breinpaadjies as wanneer jy sag lees. Lees hardop vir jou maat en ruil die rolle om van leser en luisteraar.
4. Hou aan leer. As jou werk vir jou te maklik is, moet jy dalk nog verantwoordelikhede kry of iets meer stimulerend soek. Volg ‘n kursus of begin weer studeer.
5. Oefen elke dag ‘n som. Probeer ‘n wiskundesom in 60 sekondes oplos. As jou kinders in die skool is, probeer hul somme of kry joune op die internet.
6. Skryf ‘n bietjie in plaas van tik. Hou ‘n notaboek byderhand en skryf daarin.
7. Om ‘n storie te vertel, kan ‘n goeie manier wees om jou brein te oefen. Dit gee jou kans om op besonderhede te fokus en om emosie te assosieer met wat jy probeer onthou. Vertel gerus vir die kollegas jou naweek se stories en deel elke dag met jou maat wat met jou gebeur het. Maak vir jou kind ‘n storie op.
8. Speel speletjies teen tyd. Dit dwing jou om vinnig te dink en aandag aan die speletjie te gee. Dink aan iets soos bordspeletjies of elektroniese speletjies. Loer ‘n bietjie in die toep-winkel vir breinspeletjies.
Eenvoudige oplossings vir onthouprobleme
DIE KARSLEUTELS IS ALTYD SOEK Die beste manier om jou sleutels te kry, is om dit altyd op dieselfde plek te bêre. Bêre joune in ? spesifieke laai of in ‘n bakkie op ‘n kombuiskas.
WAAR IS DIE KAR? As jy vir jouself ‘n stelsel van parkering uitwerk, sal jy nie weer desperaat na jou motor soek nie. Parkeer byvoorbeeld altyd in die eerste of tweede ry links van ‘n spesifieke ingang. So sal jy altyd in daai rigting begin loop en jou motor makliker vind.
NOG ’N AFSPRAAK VERGEET Die eenvoudigste is bloot om alles in ‘n dagbeplanner neer te skryf of dit dadelik op jou slimfoon se kalender te sit. Moenie vergeet om elke dag in jou dagboek te loer nie.
MARIE WIE? ? Mens vergeet dikwels iemand se naam minute nadat jy dit die eerste keer gehoor het. As jy iemand ontmoet, skryf die naam neer of tik dit op jou foon in. So kan jy later daarna kyk en die mens herroep.
JY VERLOOR DIE DRAAD VAN DIE GESPREK Probeer fokus op wat die ander persoon sê en wat jy sê. Luister werklik en jy sal beter onthou wat gesê word. Som op wat die persoon gesê het en herhaal dit vir die persoon. Byvoorbeeld: “Jy sê dat Jan nou in die Kaap bly. Dis baie interessant.” As jy vergeet het, lag dit af en sê dit vir die ander persoon.
JY VERGEET OM PILLE TE DRINK Gebruik jou foon of horlosie om alarms te stel. As jy byvoorbeeld chroniese medikasie moet neem, stel ‘n alarm. Gebruik ook pilhouertjies vir die hele week se pille.
BRONNE: www.rd.com, www.forbes.com, www.sharpbrains.com, www.memory-improvement-tips.com, Keep Your Brain Alive: 83 Neurobic Exercises to Help Prevent Memory Loss and Increase Mental Fitness, Lawrence Katz, Manning Rubin, Gary Small