Carla van der Spuy vertel hoe sy self aan uitbranding gely het en vertel van die gevare daarvan
Carla van der Spuy
Dit was my “30 sekondes van roem” toe ek ewe teatraal, tydens ’n kerkdiens nogal, omgekap het. Ek het skielik duiselig gevoel en op my dogter geval wat langs my gesit het. Sy het gegil en skielik het van ’n dokter tot ’n veearts om my saamgedrom.
’n Ambulans is ontbied en ek is hospitaal toe geneem. Ek is gediagnoseer met ’n bakterie wat algemeen voorkom, maar veral met venyn toeslaan as jy onder erge stres verkeer. Dit veroorsaak maagsere (ek is met een gediagnoseer) en in sommige gevalle selfs maagkanker as dit nie behandel word nie.
Ek was tot die dood toe moeg nadat ek twee jaar lank, dikwels sewe dae per week en gewoonlik tot lank ná middernag aan ’n boek gewerk het. Ek was my eie grootste vyand – ’n genadelose slawedrywer.
Hierdie is ’n geval van erge uitputting het my vriend Hermann Liebenberg, Vrouekeur se rubriekskrywer, vir my gesê. Ná twee dae in die hospitaal is ek ontslaan, maar ek was so moeg dat ek nie eers een sin op my skootrekenaar kon skryf nie. As ek begin tik het, het die wêreld om my begin draai.
My tas vir die hospitaal was gepak – net vir ingeval. Ek kon nie eers sepies kyk sonder om duiselig te voel nie. Ek het magteloos en nutteloos gevoel en gewonder of ek ooit weer my energieke self sou wees.
Ek was ook bekommerd oor my werk as vryskutskrywer, want ek het besef dis ’n geval van “no work, no pay”.
’n Kalmeermiddel is tydelik aan my voorgeskryf, ek het ’n paar weke gerus, beter begin voel en daarna besluit om ’n meer gebalanseerde lewe te voer. Meer te kuier, saans ná sewe die rekenaar toe te klap, en meer gereeld te gim.
Vandag is ek perdfris, maar ek moet myself steeds van tyd tot tyd streng aanspreek as daar die geringste teken is dat ek my weer op hierdie pad van selfvernietiging bevind. Daarom het ek besluit dat ek eers oefen en dan werk.
Ongelukkig ly al meer mense deesdae weens werksdruk, ooreising en ekonomiese nood aan uitbrandingsindroom.
Die sielkundige dr Henk Swanepoel sê ook die tendens van uitbranding is beslis aan die toeneem. Die grootste oorsaak hiervan is mense se vrees om hul werk te verloor of om weens swak prestasie aangespreek te word.
Gevolglik werk hulle harder en hul werksure word langer. Hulle werk selfs oor naweke. “Dan neem hulle ’n oormaat kafeïen en energiedrankies in, wat weer angstigheid veroorsaak. Fisieke en psigiese uitputting kan beslis angs en depressie veroorsaak,” sê hy.
Wat dra daartoe by?
Dr Elmari Mulder Craig, wat onder meer ’n verhoudingsterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en traumafasiliteerder is, stem saam met Henk dat meer mense deesdae uitbrand.
Sy sê: “Die spanning om in Suid-Afrika te woon, is bydraende faktore weens misdaad, die ekonomiese klimaat en algehele onsekerheid.
“Mense het oor die algemeen baie meer geldelike probleme as voorheen en daar is meer uitdagings. Mense ooreis hulself in hul beroep om bo te probeer bly.”
Elmari meen uitbranding is nou aan angs en depressie verwant, maar sy meen ook dat hoewel ’n mens ook emosioneel en fisiek uitgebrand kan wees, jy nie noodwendig klinies depressief is nie.
“Omdat baie mense in ‘oorlewingsmodus’ is, vergeet hulle die basiese dinge, soos gesonde lewenstyl, regte asemhalingstegnieke, visualisering, mindfulness (om in die oomblik te leef en te ervaar), om gereeld stil te raak, in die natuur te kom en om gesonde rituele te hê om jou gegrond en geanker te hou.
“Die meeste mense wat my kom spreek wat aan uitbranding ly – dit kan ernstige siektetoestande tot gevolg hê – het nie ‘n sterk basis nie. Dit voel vir hulle asof hulle maar net reageer op dit wat die lewe na hulle toe gooi en nie asof hulle aktief leef nie. Hulle verloor hulself en hul lewensvreugde in die proses. Hulle reageer eerder as om op te tree.”
Elmari sê om hierdie rede sal sy altyd met “grounding” met haar kliënte werk. Sy werk ook daarmee dat hulle na hul eie lyf terugkeer en nie daarmee dissosieer nie, met asemhalingstegnieke, met visualisering en met die anker van ’n veilige plek.
Sy vertel dat sy juis 2 CD’s gemaak het wat haar kliënte huis toe kan neem om deurgaans te gebruik. “Dit maak die wêreld se verskil.”
Karlien Erasmus, ’n sielkundige van Erasmustherapy, sê hulle sien gereeld dat mense met “werkstres” as hul hoofklagte aanmeld.
“Afgesien van die feit dat ons lewenstempo vinniger geword het en tegnologie tot gevolg het dat mense meer op onmiddelikke behoeftebevrediging ingestel is, blyk dit ook dat mense meer en meer dinge op hulself laai.
“Emosionele en fisieke uitbranding gaan nou met persoonlikheidstrekke en swak emosionele grense gepaard.
Party mense het neigings om perfeksionisties te wees wat daartoe lei dat hulle dinge tot in die fynste en soms onnodige besonderhede self sal beplan en deurvoer, in plaas daarvan om soms, waar dit gepas is, ook te delegeer.
“So iets plaas onnodige druk op jouself en maak die lading van die take wat jy self in ‘n dag probeer voltooi vir enige mens eintlik onmoontlik.
“As jy daartoe geneig is om ten koste van jouself ander altyd te probeer tevrede stel, beskik jy nie oor gesonde emosionele grense nie en handel jy soms take vir ander af sonder dat jy ooit aan jou eie take kon aandag gee.
“Die druk en spanning raak te veel en kan in angssimptome oorgaan wanneer iemand dan emosioneel totaal buite beheer voel. Psigoterapie sal dan fokus op die identifisering van stressors en om produktiewe emosionele hanteringsvaardighede aan te leer. Dit sluit in die beplanning en uitvoering van ‘n gesonde balans op emosionele, fisieke, geestelike en binne ‘n omgewingsvlak.
“Dit sluit ook in om doelbewus minder hooi op jou vurk te laai en om beslis op te hou om ander ten koste van jouself heeltyd te probeer tevrede hou.”
Karlien waarsku dat dit nodig is om vinnig te reageer op enige tekens van uitbranding om betyds konstruktiewe hanteringsvaardighede aan te leer of selfs ernstige angs of depressie met psigoterapie en soms met ondersteuning van medikasie, te hanteer.
Simptome van uitbranding
Uitbranding bekruip jou op ’n slinkse manier. Dis nie iets wat oorwaai soos ’n verkoue nie. Jy sal jou lewenswyse moet verander. Dit gebeur ook nie net oornag nie. Sherrie Bourg Carter, skrywer van High Octane Women skryf op www.psychologytoday.com dat die volgende tekens kan wees dat jy in jou pasoppens moet wees:
- Chroniese moegheid.
- Slaaploosheid.
- Vergeetagtigheid en afname in konsentrasievermoë.
- Fisieke simptome soos borspyn, hartkloppings, om uitasem te wees, duiseligheid, floutes en hoofpyn.
- Toenemende siektes. Omdat jou liggaam uitgeput is, is jou immuunstelsel swakker en is jy vatbaarder vir infeksies soos verkoues, griep en ander immuunverwante siektes.
- Verminderde eetlus en dalk gewigsverlies.
- Angs wat mettertyd vererger en later jou werk en persoonlike lewe affekteer.
- Skuldgevoelens, gevoelens van waardeloosheid en depressie
- Woede wat met aanvanklike irritasies begin en later tot uitbarstings lei.
- Gevoelens van sinisme en afsydigheid.
- Verlies van lewensgenot.
- Pessimisme.
- Isolasie.
- Gevoelens van apatie en hopeloosheid.
- Toenemende geïrriteerdheid.
- Afname in produktiwiteit.