Die Kapenaar Mervyn Gers noem homself ’n pottebakker, maar die wêreld sien hom as ’n ware kunstenaar
Na watter pottebakkers/kleiwerkers/kunstenaars kyk jy op?
Picasso – hy het in die laaste jare van sy lewe keramiekwerk gedoen. Ek kry wel iets uit elke era se keramiek wat my inspireer. Ek hou veral van die werk wat in die jare vyftig en sewentig gedoen is, asook Art Deco-werk.
Waar het jy al jou beste inspirasie gekry vir nuwe reekse?
Ek reis gereeld en geniet argitektuur baie. Ek glo alles wat ek absorbeer tydens ’n reis, inspireer en beïnvloed my onbewustelik.
Wat is jou gunstelingkleure?
Ek is lief vir kleur in die algemeen. Uit ons eie reeks is my gunstelingkleur Oil Spot. Dis so ’n koperbruin met kolle op en die kolle lyk letterlik soos ’n swarterige olie.
Waarvan kan jy nie genoeg kry nie?
Reis.
Beplan jy reise om keramiek-uitstallings, museums en so meer te besoek?
Ja, volgende op die lys is Viëtnam, Indië en Suid-Korea.
By wie het jy al die meeste in die lewe geleer?
Die lewe self was my grootste leermeester. Ek hou daarvan om te sien hoe alles ontvou.
Jy het al beelde uit Walter Battiss en Louis Janse van Vuuren op jou borde gebruik. Wat aan hierdie kunstenaars bewonder jy en hoekom werk hul beelde so goed saam met jou werk?
Die Walter Battiss Foundation het ons genader vir ’n samewerkingsprojek. Battiss se werke is nog nooit voorheen op keramiek gebruik nie só dit was ’n lekker uitdaging. Sy ikoniese ontwerpe met sterk kleure, maak dit veral geskik vir suksesvolle aanwending op keramiek.