Dit kan traumaties wees om die arbeidsmark te groet, skryf Carla van der Spuy
Carla van der Spuy
Vir sommiges is dit ondenkbaar. Ander leef vir die dag dat hulle hul baas uiteindelik vriendelik totsiens kan toewuif. As jy jou werk haat en oor ’n goeie neseier beskik, wink die luilekker goue jare van aftree dalk aanloklik. Maar sou jou werk stimulerend wees en ’n belangrike deel van jou identiteit uitmaak (om nie van die broodnodige inkomste te praat nie), lê jou laaste werksdag dalk soos ’n berg voor jou. Dit geld veral vir diegene wat verplig word om op ‘n sekere ouderdom af te tree.
Jou aftreejare kan ’n vreugde of ’n ramp wees. Mense wat genoeg geld het tree dikwels vroeg af, gaan reis en raak by liefdadigheid en die versorging van hul kleinkinders betrokke.
Ander se pensioene is so karig dat hulle nie ’n ander keuse het nie as om hul inkomste aan te vul nie of selfs op aalmoese te moet staatmaak. Waar ’n paar duisend rand 20 jaar gelede genoeg was om op te oorleef, is dit deesdae ’n hongerloon. Jou lewensduurte en eiendomsbelasting verhoog en jou pensioen krimp.
Daar is ook pensioenarisse wat van verveling of eensaamheid wil sterf. Veral as al hul kinders geëmigreer het of as hulle hegte verhoudings met hul kollegas het.
Pieter van Niekerk, ’n afgetrede siviele ingenieur, skryf in ’n brief aan Vrouekeur dat hy die oggend ná sy aftrede met die besef wakker geword het dat sy dae nie meer dieselfde gaan wees nie. “Ek het gewonder of ek in die bed moet bly. Toe besef ek kan dit nie doen nie, want dis nie hoekom ek afgetree het nie. Ek het ’n wonderlike vrou, twee getroude kinders, vyf kleinkinders, vriende en genoeg geld om te kon aftree. Nogtans is daar in die oggend as ek wakker word, ’n aantal vrae in my gemoed – meer vrae as toe ek gewerk het. Dalk omdat daar nou meer tyd is om aan al die vrae en antwoorde te dink. Wat het dan nou verander? Ek moes in my loopbaan gereeld besluite neem en dinge doen waaraan risiko’s verbonde was. Ek het volgens ’n jaarprogram gewerk wat tot ’n uurprogram gereduseer was. Dit was ’n gestruktureerde omgewing met ’n sekere mate van roetine.
“Die grootste struikelblok was al die vrae. Wat gaan ek met al my tyd doen? Ek weet nie of ek en my vrou 24 uur per dag in mekaar se geselskap sal uithou nie. Ek weet nie dit nie of ek weet nie dat nie …”
Annette* (64), wat oor gesogte kwalifikasies beskik, het die afgelope 25 jaar ’n pos in die staatsdiens beklee, maar sy word gedwing om vanjaar, op 65, af te tree. Omdat sy oor ’n goeie voorsorgfonds en ander beleggings beskik, is sy nie oor haar geldsake bekommerd nie. Sy sal wel haar sente ’n bietjie moet omdraai, maar sy gaan nie swaarkry nie. Wat haar die afgelope twee jaar neerslagtig laat voel het, is die feit dat sy net “eendag gaan opstaan en nie meer kantoor toe gaan ry nie”.
Annette is eenlopend en haar kollegas saam met wie sy al verskeie sakke sout opgeëet het en wie se lief en leed soos haar eie is, voel vir haar soos familie.
“Die interaksie met my kollegas is in ’n groot mate my sosiale lewe. Hoe nader dit aan D-dag kom, hoe ellendiger voel ek. Dit voel asof my lewe tot ’n einde kom. Ek sit met ’n enorme hoeveelheid kennis en vaardighede en ek besef as ek aftree, gaan daar ’n yslike leemte in my departement wees. Daar gaan slegs twee kundige mense in my departement oorbly en hulle gaan ook binne die afsienbare toekoms aftree. As ek die dag hier uitstap, is ek net weg. Vir ewig. En ek kan nie my kennis gebruik nie.”
Dit pla Annette, wat haar lewe lank ’n beroepsvrou was, ook dat sy nie daaraan gewoond is om heeldag by die huis te wees nie.
“Wat op aarde gaan ek met myself aanvang? Ek kan verstaan dat mense wat hul werk verpes nie kan wag om af te tree nie, maar ek geniet my werk. Ek het die afgelope maande afgestomp gevoel, want die feit dat ek moet aftree, laat my voel dat ek niks het om na uit te sien nie. Dis ’n verontrustende gedagte.”
Net voor hierdie storie se spertyd gesels ek weer met Annette. Sy vertel dat dit nou voor die wind gaan. Sy het intussen by ’n ander onderneming begin.
“Hulle het ’n regterhand gesoek, hulle is om die draai van my huis en ek kan boonop fleksietyd werk, hoewel ek verkies en daaraan gewoond is om kantoorure te werk.”
Nou gaan Annette ’n pensioen sowel as ’n salaris kry, wat natuurlik ideaal is. Dis egter nie almal van ons beskore nie.
Hoe verseker jy dus dat jy nie op jou oudag hoef te raap en skraap nie?
Spaar van die begin af
Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient Group, meen talle finansiële aftreerampe kan voorkom word as jy reeds van jou eerste werksdag af vir jou aftrede begin spaar.
“Ons sien egter dikwels dat mense platsak is as hulle aftree. Die byl val en hulle is op straat.”
Dawie meen dat die woord “aftree” nie in mens se woordeskat hoort nie. “Daar behoort nie so iets soos aftrede te wees nie. Die aftree-ouderdom behoort verhoog te word.”
Sy raad is dat ’n mens jouself as werknemer so onmisbaar as moontlik in jou maatskappy maak sodat jou werkgewers sal wil verseker dat jou vaardighede behoue bly. Daarom is dit ook belangrik om op hoogte van nuwe tegnologie te bly. Hy sê talle mense het nie ’n ander keuse nie as om ’n eie onderneming te begin en die kennis wat hulle oor dekades opgebou het daarvoor te gebruik.
“Onthou dat jy teen hierdie tyd uitstekende kontakte het. Moenie éérs op ’n lang vakansie gaan nie, want dan verloor jy dalk jou kontakte. Onthou dat jou werkgewer vir jou baie dinge geleer het. En as jy dadelik begin werk, begin dan ook dadelik om weer te spaar.”
Wanneer moet ek aftree?
Die sielkundige Karlien Erasmus van Erasmustherapy in Pretoria, meen lewensgehalte en gesondheid eerder as ouderdom behoort die grootste oorweging te wees vir wanneer jy beplan om af te skaal.
“Om nog rustigheid, pret en lekker uitstappies te hê, is belangrik en kan net gebeur as jy nie eers aftree as jy gedwing word om dit te doen nie.
Haar man, Johan, ook van Erasmustherapy, sê: “Aftrede is nie die einde nie, dit is net nog ’n verandering. ’n Mens moet eerder aan verandering dink en aftrede herdefinieer deur by die dinge uit te kom waaroor jy lank reeds droom terwyl jy steeds besig is met iets wat stimulerend, opbouend en dalk selfs finansieel voordelig kan wees.
“Hierdie is veronderstel om ’n tyd te wees waar jy jou tyd, geld, kinders, kleinkinders en drome kan geniet en jou kan uitleef. En as jy gelukkig is en goed voorsiening gemaak het, werk jy dalk omdat jy voel jy wil – nie omdat jy voel jy moet nie.
“Om die emosionele implikasies van ‘ophou werk’ te hanteer, is dit belangrik om te verstaan wat die beroepslewe vir jou beteken het. Dit kon moontlik ’n groot deel van jou menswees gedefinieer het waarvan jy voel daar nou nie veel oor is nie.
Of dit kon dalk jou tyd definieer – baie mense het geen stokperdjies, belangstellings of tydverdrywe nie. Hul werk het al hul tyd in beslag geneem. Dikwels is sulke mense se gesin of vriende van hulle vervreem en aftrede laat hulle alleen en ongelukkig.”
Johan sê afskaal en verandering (aftrede), gebeur lank voor die beplande aftrede, eers in die gedagtes en dan ook later in die praktyk. ’n Mens moet jou reise en huisverbeterings vorentoe beplan.
“Aftrede kán heel traumaties wees, maar om voor aftrede reeds te begin leef, verminder die impak van aftrede op emosionele en fisieke vlak,” sê hy.
Marietjie en Willie van Heerden van Hartbeespoort, albei 70, wat al in hul vyftigerjare uit die onderwys getree het, maar bedrywig bly, is ’n voorbeeld van suksesvolle aftrede. Willie besit eiendomme wat hy uitverhuur en gereeld besoek om toe te sien dat alles glad verloop. En Marietjie is ’n staatmaker in die gemeenskap met haar liefdadigheidsprojekte soos die Vul ’n Magie- projek. Hulle het dus nie werklik afgetree nie.
“Ons sit beslis nie en wag om dood te gaan nie. Ons geniet die lewe, hou drie keer per jaar vakansie, besoek ons dogter oorsee en is baie sosiaal en lief vir die kunste.”
Vir hulle is die lewe ’n lied.
Sou jy energiek en gesond wees, is daar dus geen rede waarom die lewe nie vir jou op 60, 70 of 80 kan begin nie!