Trofeewenners vir die Absa Top 10 Pinotage is verlede week uit 21 finaliste aangewys by ’n spog-ete op Cavalli Landgoed, net buite Somerset-Wes
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Dié toekennings word beskou as die maatstaf van Suid-Afrika se mees suksesvolle inheemse druifsoort en het terselfdertyd 21 jaar van Absa se betrokkenheid by die Pinotage Assosiasie gevier.
Die Top 10 bekroonde wyne tel onder die mees gerekende ambassadeurs van Wyn SA en is meesterlike vertolkings van die Pinot Noir Hermitage/Cinsaut kruising wat terugdateer na die vorige eeu. Onder die wennners tel wynmakerye wat in die verlede reeds etlike kere met die louere weggestap het.
Daar was 147 inskrywings in die 2017 Absa Top 10 Pinotage kompetisie, met sowat 50% afkomsting van Stellenbosse wynmakerye, maar ’n wye verskeidenheid streke is verteenwoordig.
Die wenwyne was:
Delheim Pinotage 2012 (wynmaker Altus Treurnicht), Diemersfontein Carpe Diem Reserve 2015 (wynmaker Francois Roode), Flagstone Writer’s Block Single Vineyard Pinotage 2015 (wynmaker Gerhard Swart), Kanonkop Pinotage 2012 (wynmaker Abrie Beeslaar), Lanzerac Pionier Pinotage 2014 (wynmaker Wynand Lategan), Môreson MKM 2015 (wynmaker Clayton Reabow), Neil Ellis Bottelary Hills Pinotage 2015 (wynmaker Warren Ellis), Stellenbosch Vineyards Bushvine Pinotage 2015 (wynmaker Abraham de Villiers), La Cave Pinotage 2016 van Wellington Wines (wynmakers Francois van Niekerk & Chris Smit) en die Windmeul Pinotage Reserve 2015 (wynmaker Abraham van Heerden).
Produsente is vanjaar vir die eerste keer uitgenooi om wyne in te skryf in ’n Museumklas spesifiek vir wyne ouer as tien jaar. Soos verwag het hierdie klas gewys hoe top-klas Pinotages uitstekende verouderingspotensiaal het. Die eerste wenner was die Neil Ellis Vineyard Selection Jonkershoek Pinotage 2007.
Die beoordelaarspaneel vir vanjaar se mondigwording-kompetisie was Neil Ellis van Neil Ellis Wines (voorsitter), wynvoorligter en -konsultant Nomonde Kubheka, wynmaker Corlea Fourie van Bosman Family Vineyards, Francois Rautenbach van Singita Premier Wines Direct en wingerdboukundige Stephan Joubert van Douglas Green Bellingham (DGB).
LEES OOK:Wynmaker: Gerhard Swart
Beyers Truter, voorsitter en stigter van die Pinotage Assosiasie is oorweldig deur die uitbreiding van die Pinotage-mark en die geesdrif waarmee wynmakers hierdie druifsoort oor die laaste twee dekades omarm het. “Oor die 21 jaar van ons verbintenis met Absa het ons baie hoogtepunte gesien, en dis fantasties om te sien hoe die maatstawwe elke jaar hoër gestel word. Een van die doelwitte toe ons hierdie kompetisie in die lewe geroep het, was om die gehalte van en persepsies rondom hierdie lieflike, uniek Suid-Afrikaanse wyn te verbeter. En as ek kyk na die standaard van vanjaar se finaliste en die mate waartoe Pinotage omarm is, is ons defnitief op ’n wenpad.”
Truter benadruk hoe die gehalte van Pinotage toegeneem het, veral oor die laaste dekade. Hy loof die finaliste vir hul harde werk en toewyding en die Museumklas is ’n kategorie wat dopgehou moet word.
Kanonkop landgoed teen die Simonsberg in Stellenbosch maak geskiedenis deur vir die 12de keer ’n Top 10 wen aan te teken. Wynmaker Abrie Beeslaar is sedert 2002 in beheer van die kelder ná hy Beyers Truter opgevolg het.
Windmeul in die Paarl is ook ’n gereelde wenner en spog met agt Top 10; Wellington Wines het agt Top 10, Delheim teen Simonsberg in Stellenbosch het ses maal ’n Top 10 trofee gewen. Môreson in Franschhoek het nou reeds vyf maal ’n Top 10 toekenning gewen, en so ook Flagstone in Somerset-Wes.
Neil Ellis in die Helshoogtepas, Stellenbosch, vier ’n drietal oorwinnings: die 2015 Pinotage en 2015 Bottelary Hills Pinotage in 2017 en die 1998 Swansong Pinotage in 1999.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.