Die sewende jaarlikse Absa Perold Kaapse Versnit-toekennings is onlangs by Overture Restaurant op Hidden Valley wynplaas buite Stellenbosch gehou, waar vyf Suid-Afrikaanse wyn-meesters vereer is
Deur Maryke Roberts
Foto’s Maryke Roberts
Die woord Kaapse Versnit (Cape Blend) verwys na die inheems gekweekte rooiwyn, Pinotage, wat minstens 30% of hoogstens 70% van die versnit moet uitmaak.
Die doel van die kompetisie is om plaaslike wynmakers aan te moedig om trotse plaaslike produkte te vervaardig, sodat dit ook aan die wêreld bekend kan word, soos wat ’n Bordeaux-styl rooi versnit onder wynliefhebbers bekend is.
Die wenners: is Cape West Shiraz Pinotage Limited Release 2015 van Namaqua Wines; Idiom Cape Blend 2015; Lyngrove Platinum Latitude 2015; Simonsig Frans Malan Cape Blend 2015 en Windmeul Cape Blend Reserve 2015.
Beyers Truter, die voorsitter van die Pinotage Assosiasie, het gesê dis bemoedigend om te sien hoe wynmakers hierdie uitdaging aangegryp het om wyne van verskillende style en tegnieke te maak. Hy het Duimpie Bayly, Kaapse Wynmeester, Danie Steytler en Johan Malan geloof vir hul harde werk om die Kaapse Versnit-wyne ’n werklikheid te maak.
LEES OOK: Ses wyne deel van Woolworths se nuwe Signature Series
Jacques Roux, sameroeper van die beoordeelaarspaneel, het gesê die gehalte van die inskrywings was van hoogstaande kwaliteit. ’n Totaal van 53 wyne is ingeskryf, teen die 37 van die eerste jaar.
Cabernet Sauvignon is een van die gewildste versnydingsvennote vir Pinotage en vier uit die top vyf versnitte in vanjaar se kompetisie, het Cabernet Sauvignon bevat. Van die top vyf wenners, was Windmeul Kelder die enigste kelder wat ook ’n trofee by die Absa Top 10 Pinotage-toekennings ’n maand gelede, gewen het.
Die 2015-oesjaar was ’n baie goeie oesjaar en die top vyf wenners se wyne was almal uit daardie jaar.
Die beoordelaars vir die kompetisie was Jacques Roux (ervare beoordelaar en bemarkingsdirekteur van DGB), Fred Viljoen (eienaar van Viljoensdrift), Johan Malan (wynmaker by Simonsig), Susan Erasmus (voorheen wynmaker by Vrede en Lust en nou by Laffort SA), Brad Gold (Kaase Wynmeester en bemarkingshoof by Oak Valley) en Marené de Beer (wynmaker by Distell).
’n Nuwe toevoeging tot vanjaar se kompetisie, was die eerste 2017 Pinotage Rosé-toekenning. Die drie wenners was Painted Wolf The Den Pinotage Rosé 2017, Riebeek Cellars Pinotage Rosé 2017 en die Rooiberg Winery Pinotage Rosé 2017.