’n Fees van gevulde pastas word gedurende Junie by 95 Keerom restaurant gevier
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Om die winterkoue ’n nekslag toe te dien, het sjef Giorgio Nava van 95 Keerom restaurant in die Kaapse middestad, ’n spesiale Pasta Ripiena – ’n heilsame spyskaart van ál sy pasta-gunstelinge – saamgestel en bied hy vir Junie ’n fees van gevulde pastas.
’n Handjievol gaste is met die afskop van die spesiale spyskaart genooi om die lekkerte te ervaar. Die spyskaart bestaan uit verskeie proe-porsies, maar vir die spesiale aanbieding is dit vol porsies teen R120 elk.
Die restaurant het vir dié spesiale middagete kragte met Steenberg Wynlandgoed saamgesnoer om ’n Rattlesnake Sauvignon Blanc 2017 en Steenberg Merlot 2015 saam met die pastas te geniet.
Gaste kan met die Pasta Ripiena uitsien na ’n pasta-keurspel wat strek van sjef Giorgio se bekende smelt in die mond ravioli, geurige agnolotti-pakkies, en delikate tortellini, tot die uiterse Italiaanse trooskos – ryk lae lasagne en heerlike cannelloni.
Met ’n verskeidenheid groente-, kaas- en vleisvulsels, én die beste van pastasouse insluitend klassieke burro e salvia (saliebotter), tradisionele tamatie-sugo en smullekker vleis-ragu – sal jy beslis almal wil probeer. Al die vars pasta word in die 95 Keerom kombuis voorberei.
Die 95 Pasta Ripiena aangebieding is saam met sjef Giorgio se gewone à la carte spyskaart vir Junie beskikbaar, en as die terugvoer positief is, rek hy dit tot einde Julie.
Sjef Giorgio is bekend vir sy onbuigsaamheid wanneer dit by gehalte bestanddele kom. Met hierdie wenresep bied hy reeds vir die afgelope 16 jaar outentieke Italiaanse disse by 95 Keerom aan. Hier kan gaste uitsien na ouwêreldse Italiaanse kookkuns op sy heel beste – smaaklike, opregte kos wat elke bestanddeel laat pronk.
Sjef Giorgio het verskeie restaurante in en om Kaapstad. Hy besit 95 Keerom, Carne Kloof en Carne SA, geleë in die Kaap se lewendige middestad, wat al vir 16 jaar ouwêreldse Italiaanse kookkuns op sy heel beste bied en nou die nuwer 95 at Parks in Constantia en 95 at Morgenster op die historiese plaas op Somerset-Wes.
Giorgio skoei sy geregte op Milanese kookkuns en bak sy ciabatta van ’n 150 jaar oue “moederdeeg” afkomstig van ’n beroemde bakkery in Milaan.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.